Anrich is terug met “Ek Onthou” — ‘n vars, moderne Afrikaanse pop lied gebou op groot melodieë en eerlike lirieke, wat hom tuisbring na die meer alternatiewe klank waarmee hy jare gelede naam gemaak het.
Anrich was aanvanklik die hoofsanger van Legkaart, die Afrikaanse rockgroep wat met treffers soos “Wentelbaan” by radio-treffersparades regoor die land gekuier het.
Tussen 2023 en 2025 het Anrich by Universal Musiek aangesluit om ‘n solo-loopbaan aan te pak, met bekende snitte soos “Ys En Kaffeiën” en “Die Vloer Is Lava” — musiek waarmee hy ook op Die Groot Ontbyt en die Expresso Morning Show op televisie te sien was. Met “Ek Onthou” begin Anrich ‘n nuwe hoofstuk waarin hy terugkeer na die alternatiewe klanke wat hom van die begin af geïnspireer het om Afrikaanse musiek te maak.
“‘Ek Onthou’ gaan oor daai een mens wat altyd soos jou ‘huis’ voel — maak nie saak hoeveel jare verbygaan of hoeveel afstand tussen julle kom nie, hulle hou altyd daai gevoel van tuiste,” sê Anrich. Hy het die lied op ‘n vliegtuig geskryf, en sê dit was deels geïnspireer deur ‘n fliek wat hy op die vlug gekyk het. “Ek moes die melodie saggies op ‘n ‘voicenote’ opneem, sodat ek dit nie vergeet teen die tyd wat ons land nie,” sê Anrich.
“Groepe soos Die Heuwels Fantasties was baie groot in die Kaap toe ek grootgeword het, en dit was altyd vir my opwindend om te sien hoe musikante aanklank by luisteraars kan vind, al is hulle musiek alles behalwe hoofstroom klanke,” sê Anrich.
Van die verhoog af is Anrich ‘n gekwalifiseerde fisioterapeut, en die trotse pa van ‘n eenjarige seuntjie, saam met sy vrou Aimee, in Durbanville.

Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
