Ná sy debuutsukses met “Kaal Sigarette” keer Franco terug met sy tweede enkelsnit, “Paarlberg” – ’n nostalgiese Afrikaanse pop-rock-lied wat die gevoel van eerste liefde, jeugherinneringe en die pyn van afstand vasvang.
“ Paarlberg ” neem luisteraars terug na die eenvoud van hoërskooldae, waar ’n eerste liefde gevorm word tussen die speelgrond, die snoepie en naskoolse oomblikke. Dit is ’n storie van hoe daardie wêreld later verander wanneer twee mense se lewens in verskillende rigtings begin beweeg – totdat sy uiteindelik 1 500 kilometer ver is, en net herinneringe agterbly.
Onder die aansteeklike melodie lê ’n verhaal van verlange, verlore kanse en die besef dat iemand wat eens alles beteken het, nou net ’n herinnering is.
Met “ Paarlberg ” kombineer Franco ’n vars klank met ’n opregte en herkenbare storie – ’n lied wat jou laat saamsing én terselfdertyd aan die hartsnare trek.

