Die Johannesburgse Afrikaanse indiegroep Donkerbaai stel hul nuwe enkelsnit, Net Ek en Jy, bekend – ‘n lied wat die eenvoud van liefde, die rustigheid van die see en die verlange na stadiger dae vasvang.
Die snit is vervaardig deur Peach van Pletzen, een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde vervaardigers, en bevat ‘n gasverskyning deur rapper Harry CBY, wie se eerlike en nostalgiese vers die lied ‘n vars dimensie gee.
Net Ek en Jy is ‘n uitnodiging om vir ‘n oomblik uit die gejaag van die alledaagse te ontsnap. Met warm, ontspanne ritmes en eerlike lirieke herinner die lied ons dat die mooiste oomblikke dikwels die eenvoudigste is.
Die produksie van Peach van Pletzen gee die lied ‘n moderne, organiese klank wat Donkerbaai se kenmerkende nostalgiese styl versterk, terwyl Harry CBY se vers terugkyk op jongdae, groei en die besef dat die lewe se waarde dikwels in klein oomblikke lê.
Na vrystellings soos Ouer Maar Nie Wyser Nie, Voel Jy Die Son en Sluk My Heel In, bou Net Ek en Jy verder aan Donkerbaai se unieke wêreld – een waarin nostalgie, eenvoud en die Suid-Afrikaanse kus saamvloei in ‘n tydlose Afrikaanse indie-klank.
In ‘n tyd waarin alles vinniger beweeg, herinner Donkerbaai ons daaraan dat daar steeds plek is vir musiek wat jou laat asemhaal, terugdink en weer verlang na die plek waar jy die meeste tuis voel.

