deur Elize Ehlers
Nikkie word stadig wakker.
’n Gil skeur onwillekeurig uit sy keel toe hy die afgryslike oorblyfsels van sy vriendin langs hom sien.
Hy kyk vreesbevange om hom rond; sy oë is wild, sy asem jaag, sy hart hamer teen sy ribbekas. Sy maag trek saam – hy rol om en braak.
Dan kom die herinneringe terug.
Hy en Nora was smoordronk toe hy haar sy nuutste uitvinding in die navorsingsentrum se laboratorium gewys het: die telepod. Sy stem het van opgewondenheid gebewe toe hy verduidelik hoe dit teoreties moontlik sou wees om materie oor astronomiese afstande te verskuif. Nora het gelag, hom gespot, maar tog saam met hom ingeklim—net vir die grap.
Toe het die deur toegeskuif.
Die besef slaan hom soos ’n hou in die maag toe hy besef hy bevind hom op ’n onbekende planeet.
Stadig dring nóg ’n gedagte tot hom deur—iets leef hier. Iets bloeddorstig.
Ek moet hier wegkom! bons die gedagte histeries deur sy brein.
Die lug hang swaar en vuilgrys om hom en ruik vreemd—metaalagtig, amper soet. Hy kom wankelrig op sy voete, sy knieë lam. Die landskap rondom hom is verwronge: bome met takke soos skeletvingers.
’n Oorverdowende gebrul skeur deur die lug. Die grond bewe onder sy voete.
Paniekerig begin hy hardloop. Hy struikel, val, staan weer op en strompel deur die bisarre landskap, aangedryf deur suiwer vrees. By ’n stroompie water kom hy uiteindelik hygend tot stilstand. Hy gaan lê plat in die koue water.
Wanneer hy weer regop kom, word dit skielik swart voor sy oë.
Nikkie herwin sy bewussyn stadig. Hy voel aan die pynlike knop aan sy agterkop. Toe sien hy hulle.
Bonatuurlike wesens sweef geruisloos deur die lug. Een van hulle kom tot stilstand voor hom en beduie dat hy moet volg. Hy merk dat die wêreld rondom hom nou anders lyk. Die lug is helder blou, groen grasperke en bome wat swaar dra aan trosse vrugte.
Hulle kom tot stilstand voor ’n menswese wat deur afskuwelike krygers omring word.
“My naam is Raska. Welkom by Die Paradys,” sê hy met ’n growwe, rasperende stem.
Sy blou oë is deurdringend, amper hipnoties. Raska nooi hom om saam te eet. Nikkie gehoorsaam, al sit sy vrees soos ’n klip in sy maag.
Die volgende dag neem Raska hom na ’n laboratorium.
Die reuk tref hom eerste—ontsmettingsmiddel gemeng met die stank van brandende vleis. Angsgille vul die lug. Mans is aan beddens vasgemaak en onderwerp aan wrede, onuitspreeklike prosedures.
Metaal en vlees word sonder genade saamgevoeg.
“Ons navorsing is die aarde ver vooruit,” verduidelik Raska trots. “Hier verbeter ons die menslike liggaam. Ons skep perfeksie.”
Vir Nikkie voel dit soos uit die hel gebore.
In ’n volgende vertrek sien hy mans—half robot—wat die prosedure reeds suksesvol ondergaan het.
Hul liggame is grotesk met masjinerie saamgesmelt. Oë gloei met ’n onnatuurlike lig. Ledemate buig en draai op maniere wat nie moontlik behoort te wees nie.
Nikkie wil vlug, maar Raska se blik hou hom vas.
“Jy is volgende, Nikkie,” fluister hy. “Jy sal ’n waardevolle toevoeging tot ons leër maak.”
Nikkie se bloed word yskoud.
Die volgende dag gryp een van die krygers hom en bind hom vas aan ‘n bed in die laboratorium. ’n Maniese gelag weerklink toe Raska die vertrek binnekom.
“Jy is nie per ongeluk hier nie, Nikkie,” sê hy. “Een van ons spesies werk in julle navorsingsentrum.
Terloops, ek is jammer oor jou vriendin.”
“Hoekom is hier geen vroue nie?” vra Nikkie desperaat.
“Vroue is nie welkom by Die Paradys nie,” antwoord Raska koud. “Ons oes hul eierselle by julle laboratorium.”
Walging oorval Nikkie. Die lig word afgeskakel. Duisternis sluk hom in.
Nikkie word later stadig wakker. Sy kop voel swaar en sy liggaam is lomerig, asof hy met ’n verdowingsmiddel ingespuit is. Hy probeer beweeg, maar sy polse en enkels is steeds styf vasgebind.
Toe hoor hy ’n sagte stem.
“Sjuut. Moenie ’n geluid maak nie.”
Met geoefende hande begin sy die bande om sy polse losmaak.
“Wie is jy?” fluister hy hees.
“Surita,” antwoord sy sag.
“Ek weet waar die telepod is,” fluister sy verder.
“Hoe is dit dat hulle jou nog nie gevang het nie?”
“Ek leef buite Die Paradys. Ek steel kos. Ek luister. Ek leer.”
Sy trek Nikkie aan die arm en hulle beweeg vinnig, maar versigtig deur die donker. Elke geluid laat Nikkie se hart ruk. Hy verwag enige oomblik dat ’n kryger voor hulle sal opdoem.
Hulle bereik uiteindelik die buitewyke van Die Paradys.
Toe hoor hulle dit.
’n Lae, dreunende gebrul.
Toe hulle omdraai staan die monster ’n entjie van hulle af. Sy swart skubbe glinster in die maanlig.
Twee rooi horings steek uit sy voorkop. Rook borrel uit sy misvormde neusgate. Wanneer hy sy bek oopmaak, ontbloot hy rye flymskerp tande—gemaak om te skeur en te vergruis.
Nikkie gryp Surita se hand en hulle hardloop. Klippe gly onder hul voete uit. Die monster se swaar asemhaling is kort op hulle hakke. Die grond bewe onder sy gewig.
“Daar—die telepod!” roep Surita uitasem uit.
“Maak dit oop!” skree Nikkie.
Surita slaan die beheerpaneel. Die deur begin stadig oopskuif.
Te stadig.
Die monster spring. Nikkie druk Surita vorentoe en duik agterna in die telepod, net betyds voor die deur agter hulle toeslaan. ’n Oorverdowende gekraak weerklink toe die monster se kloue teen die metaal slaan.
’n Verblindende lig vul alles.
Nikkie word stadig wakker. Hy is terug in die navorsingsentrum se laboratorium. Alleen. Geen monster. Geen rook. Geen skreeue nie.
Hy begin lag.
“Dit was net ’n droom,” fluister hy. “Net ’n aaklige droom.”
Toe sien hy dit.
Op sy arm is ’n vars litteken—’n duidelike simbool, presies soos die een wat hy op Raska se arm gesien het. Dit begin stadig gloei.
Sy lag verstil.
En diep in sy kop hoor hy Raska se growwe stem:
“Lewe op ’n ander planeet eindig nie by afstand nie.”
