Vrede 2

Die dae vlieg verby en gou bevind Gert hom op die vooraand van die eerste skof op die plaas. Hy kon nie wag om weg te kom en toe hy uiteindelik hom op pad bevind voel dit soos ‘n ewigheid voor hy by die afdraaipad kom en met die nader ry sien hy die gesin op die stoep hom en inwag. Hy voel dadelik tuis en in sy merk hy daarop dat alles op hulle plek is dat hy kry ‘n gevoel van tuiskom hy weet dat hy baie gelukkig kan wees by hierdie mense en dat dit geheel en al van hom self sal afhang. Klein Andries maak homself tuis op die bed en gesels land en sand terwyl hy uitpak en wil net weet of hy nou vir altyd by hulle gaan bly. Gert vertel hom dat hy in die ander huis op die plaas gaan bly en dit staan hom glad nie aan nie en wil hy weet hoekom hy nie in hierdie kamer wil bly nie. Met baie moeite probeer hy verduidelik dat sy Ma en hy hul privaatheid nodig het maar dat hy mos naby sal wees as Andries iets vir hom wil kom vertel of vra. Elke uur word benut om dinge op dreef te kry en hy Amanda sit tot laataand en werk aan die program vir die volgende dag en verder vorentoe. Dit is al na elf voordat hy by die badkamer kan uitkom en later in sy kamer tot ruste kom. Hy is lank voor die wekker reeds waker en hy lê en luister na die plaasgeluide voordat hy opstaan, skeer en gereed maak om die dag aan te pak. Gert kan nie onthou wanneer hy laas op ‘n Maandag in kakie klere rond geloop het nie en die hoed op die kop is ook ‘n nuwe vir hom. Buite is dit pas ligdag en baie koud maar van die werkers is al reeds daar en staan en luister hy na hoe hulle in Zoeloe met mekaar gesels en hom skaamteloos staan en bespreek min wetend dat hy goed verstaan wat hulle sê. Gou kom hy agter wie die leier is, ene Izak, en hy aanvaar dat hy die titel van voorman baie belangrik ag. Amanda sluit haar by hom aan en begin hom voor te stel aan die werkers, al ses van hulle, met Izak wat die voorman is. Hy vertel wie hy is en waar hy vandaan kom en dat hy ook op ‘n plaas groot geword het. Hy maan hulle dat hulle mekaar nodig gaan hê en hy trek Izak dadelik by deur te bevestig dat hy die voorman is en dat hulle deur Izak moet werk en dat hy, Gert, swaar op Izak gaan staat maak om die werk verrig te kry.

Gert gee hulle kans om eers met mekaar oorleg te pleeg en hy hoor dat meeste heel in hulle skik is met die verrigtinge maar dat Izak beslis ‘n probleem kan word. Hy vra of hulle ‘n indaba wil hê om seker te maak hoe dinge gaan werk en toe hy oorslaan in sy gebroke maar tog duidelike Zoeloe is die skok op hulle gesigte heel komies. Izak is eerste by om reg te probeer maak maar Gert verseker hom dat daar geen probleem is nie maar dat daar eerlik met mekaar omgegaan moet word en dat die ouer manne soos Izak gerespekteer moet word en dat hy deur hom, Izak, gaan en wil werk. Amanda staan verbaas en toekyk hoe vinnig Gert hulle aan sy kant kry en dit nogal met Izak aan die voorpunt. Hy kry almal toe bymekaar onder die skuur se afdak en begin uitlê wat hy beplan om te doen en hoe en teen wanneer dit gedoen moet wees. Gert versoek dat elkeen die taak sal kry wat hy die beste sal kan uitvoer en hiermee vra hy Izak se hulp. Een vir een word die take van die dag en die res van die week opgenoem en word hulle toegeken aan die persoon wat dan verantwoordelik gaan wees daarvoor. Gert benadruk dat Izak verantwoordelik gaan wees vir die uitvoer van die take en dat hy saam met hom sal nagaan watter vordering gemaak word.

Die res van die dag spandeer Gert om implemente, trekkers, sleepwaens, voertuie en gereedskap na te gaan en aantekeninge te maak van die stand van sake. Hy besef vinnig dat daar probleme in lê en dat daar baie werk gedoen gaan moet word alvorens een sooi geploeg of geplant gaan kan word. Na aand ete verskoon hy homself en verdwyn in sy kamer om planne te beraam hoe en wanneer daar na die plaasimplemente gekyk en reggestel te word en wat dit moontlik gaan kos om dit te doen. Sy mening is dat daar van die items dalk verby die punt van herstel is en dat vervanging dalk nodig gaan wees. Vroeg die volgende oggend gaan hy weer elkeen se taak met Izak na en spreek aan waar nodig en prys waar goeie insette gelewer was, alles via Izak, wat teen nou ses voet langer lyk en baie trots is dat die nuwe baas wat sy waarde so gou raak gesien het. Ook gaan hy weer elke implement en ander items na en maak hy seker dat sy bevindinge korrek en haalbaar sal wees. Toe Amanda hom vir middagete laat roep vra hy dat hulle na ete saam sal sit en kyk na sy bevindinge. Sy is baie bekommerd toe hy haar die inligting deurgee en sy merk op dat sy sekerlik onkant gevang sou gewees het as dit nie vir hom was nie maar dat sy met die bank sal moet gaan praat om te sien of sy nie ‘n lening of voorskot kan verkry om die nodigste gedoen te kan kry nie.

Amanda is vroeg die volgende oggend dorp toe en toe sy Gert na twaalf skakel is sy baie mismoedig want sy het ‘n bloutjie by die bank geloop. Hy vra of sy hulle beplanning vir die bank voorgelê het en toe sy negatief antwoord kan hy verstaan dat hulle nie sou byt aan enige voorskotte nie. Hy stel voor dat sy weer ‘n afspraak reel en dat hulle saam die planne sal voorlê. Toe sy die middag laat weer by die huis kom is sy meer hoopvol nadat sy weer ‘n draai by die bank gaan maak het. Gert stel voor dat hulle in alle geval ook by die handelaars waarmee gedeel gaan word ‘n draai moet gaan maak voordat hulle by die bank uit kom.

Toe hulle by die eerste handelaar sit en Gert sy saak stel en wil weet van afslag pryse, beskikbaarheid en moontlike terme is sy verstom oor die inligting wat hy in sy rekenaar invoer en wonder sy wat sy plan vorentoe met dit gaan wees. Toe hulle op pad is na die volgende handelaar verduidelik hy aan haar dat dit deel gaan vorm om by die bank te onderhandel deur moontlike besparings vir kontant aankope tot haar voordeel aan te wend. Toe hulle by die laaste een uitstap noem hy aan haar dat net van die kunsmis en saad se aankope hulle amper R 20 000 kan bespaar deur kontant aankope.

Gert voel sommer dadelik ‘n amper vyandige benadering van die bankbestuurder aan en wonder waaroor dit sou gaan. Hy skroom nie om te vra of dit die moeite werd is vir hulle om met die voorlegging voort te gaan aangesien hy die gevoel kry dat die antwoord in alle geval nee sal wees. Dit wil voorkom asof die bestuurder onkant gevang is en haastig beduie hy dat hy “oop” is vir die voorlegging. Amanda het gou verstaan waarheen Gert oppad was en sy herinner hom ook daaraan dat sy en haar oorlede man baie jare reeds sake met die bank doen en indien nodig sy nie sal skroom om sake in heroorweging te neem nie.

Gert begin deur eers hulle doelwitte en beplanning vir die planttyd voor te lê en die man is duidelik beïndruk met die verskillende opsies wat voorgehou word. Hy vra na ‘n afskrif van die plan en roep sy rekenmeester nader om die syfers te ontleed terwyl hulle met die res van die voorlegging aangaan. Gert draai nie doekies om dat daar baie werk is om gedoen te word en dat verwaarlosing van implemente en gereedskap van so ‘n aard is dat vervanging in sekere gevalle die enigste uitweg sal wees. Gert stel voor dat sou dit op vervanging uitloop hy sal wil voorstel dat hulle vir die items gaan wat die beste resultate sal lewer en nie noodwendig die goedkoopste nie.

Hy verduidelik dat hy dan sou wou sien of daar nie ‘n moontlikheid bestaan om dienste aan ander boere in die omtrek te lewer wat dalk nie vervanging kan bekostig nie. Met die voorlegging van die besparings op kontant aankope lyk die bestuurder baie skepties totdat hy die vergelykings op papier sien. Hy spreek sy verbasing uit dat sulke groot besparings moontlik kan wees en dat hy nou kan verstaan waarom hulle liewer van die bank as van die handelaars se kredietlyne gebruik wou maak. Daar word ondernemings gegee van ‘n antwoord teen die volgende middag en op pad huis toe merk Amanda op dat sy nooit aan so ‘n plan sou gedink het nie en dat sy maar altyd by die handelaars op krediet gekoop het want dit is wat hulle nog altyd gedoen het. Gert verduidelik dat die rente wat hulle aan die bank sal moet betaal meestal gedek kan word deur die afslag wat hulle vir kontant aankope sal verkry. Verder verduidelik hy dat daar nog onderhandel moet word oor die aankope en dat hulle moontlik beter kan doen by ander handelaars wat elders op groter skaal van die items voorsien.

Terwyl hulle eet merk Gert op dat hulle moontlik een van die ander banke moet nader net om vergelykbare syfers te kan kry en nie uit gelewer te wees aan die een bank nie. Hy stel voor dat hulle na die bank waar hy sake mee doen moet gaan en hoor wat hulle te sê het. Vroeg oggend is hy weer aan die nagaan van die take en merk dat daar al beter en beter werk en produktiwiteit gelewer word en hy prys Izak aan vir die werk so ver gedoen. Dadelik kom hy agter dat Izak dit baie geniet en dat hy nog beter wil doen deur te vra waar nog verbeter op kan word. Saam sit hulle en bespreek elke werker en verskuif enkeles na ander take wat hulle moontlik beter sal kan verrig en hy gee raad rondom tyd bestuur en dies meer.

Toe dit negeuur word skakel hy sy bank en maak ‘n afspraak vir elfuur en kort voor lank is hy en Amanda weer op pad dorp toe. Sy is verbaas oor die verwelkoming wat Gert ontvang en toe hulle verduidelik waarvoor hulle daar is vra die bestuurder of hy nie sy rekenmeester en areabestuurder kan betrek nie. Binne minute is almal in die raadsaal om die tafel en kan Gert deur middel van ‘n projektor die syfers op ‘n skerm laat verskyn waar almal na die selfde prentjie kan kyk. Die bankmense is baie beïndruk met die voorlegging en Gert verduidelik dat hulle die selfde by Amanda se bank gedoen het as ook van die aanvanklike negatiwiteit wat hulle ervaar het.

Hulle openlikheid en op die man af voorlegging het almal beïndruk en die manne vra vir ‘n paar minute tyd om net vinnig een en ander na te gaan. Na minder as ‘n halfuur is hulle terug en kry hulle ‘n voorlopige goedkeuring van die fasiliteite en sê dat die finale besluit teen drie uur gemaak sal wees. Terug op die plaas lê daar ‘n boodskap van Amanda se bank om hulle te skakel en Gert verduidelik dat dit beter sal wees as sy wag totdat sy van die ander bank ook hoor om vergelykende syfers te kan nagaan. Sy versoek hom om dit te doen en teen drieuur het hy reeds die groen lig van sy bank teen ‘n baie beter rente koers as by Amanda se bank. Toe hy haar bank skakel is dit duidelik dat hulle bewus daarvan is dat hulle by ‘n ander bank was en vra die bestuurder waarom hulle dan ‘n ander instansie genader het.

Gert verduidelik dat hulle na alle opsies kyk om seker te maak dat Amanda die bes moontlike transaksie sal verkry. Die koers wat hulle aanbied word is heelwat swakker as die ander bank se koers en Gert maak dit duidelik dat hulle vir so ‘n groot lening elke persentasiepunt in oorweging sal moet bring en dat hulle moontlik na die ander bank se aanbod sal moet kyk. Amanda is verstom oor die reaksie want die bestuurder vra om met haar te praat en probeer op haar gevoelens speel van jare lange verhoudings en so voort. Sy het vinnige geleer en sê dat dit nie die pot aan die kook sal hou nie en dat sy die volgende dag haar besluit bekend sal maak.

Oor aandete sit hulle weer en oorweeg elke opsie noukeurig en besluit hulle om haar bank ‘n kans te gee om die aanbod te ewenaar of te verbeter andersins verskuif sy haar sake. Sy is die oggend in bank toe en toe sy teen middagete terug is vertel sy dat sy besluit het om in ieder geval haar banksake oor te plaas en dat sy die nodige gedoen het om dit aan die gang te sit. Sy vertel dat daar weer op haar gevoelens gespeel was en dat dit haar ontstel het om te dink dat omdat sy vrou is hulle dit goed dink om so op te tree. Hulle sou haar die selfde aanbied maar sy was gemaak voel dat hulle haar ‘n groot guns bewys deur dit te doen. Amanda bedank Gert weereens vir die “oopmaak” van haar oë met die hele bank episode. Hulle spreek af om na ete die aand hulle planne fyner uit te lê en ‘n prioriteitslys op te stel met ‘n take lys daaraan verbonde wat sal strek tot hy voltyds daar sal wees.

Amanda is haastig om met die ete klaar te kry en is half ongeduldig met die kinders terwyl Gert weer meer rustig is en toelaat dat die kinders om en met hom speel en gesels. Self Erika is al baie meer op haar gemak met hom en hy wonder waarom daar nooit van hulle Pa of Amanda se man verwys of oor gepraat word nie. Hulle is nog aan tafel toe die foon lui en die Agentskap Gert soek om in kennis te stel dat hulle beide ‘n koper sowel as huurders vir die huis het. Die prys van R 550 000 wat vir die huis aangebied word is baie aantreklik wat sal beteken dat hy R 250 000 onmiddellik beskikbaar sou hê. Hy gee opdrag om hom die volgende dag etensuur, eenuur, te skakel vir sy antwoord.

Vlugtig bespreek hy met Amanda die opsies en sy meen dat hy versigtig vir huurders moet wees wat jou eiendom kan verwaarloos en laat waarde verminder. Dit kom duidelik deur dat sy sy verblyf as langtermyn sien want sy noem dat hy tog nie “gou weer daar sal wil bly nie”. Gemoedelik begin hulle oor gesinsake te gesels en toe hy uit vra na haar oorlede man is dit of sy “toeslaan” en kom ‘n vinnige ontwykende antwoorde gee. Hy vra nie verder uit en hul gesprek rondom beplanning is eers ietwat stram maar gou leef sy haar weer in wat beplan en gedoen moet word. Tussendeur stuur sy die kinders badkamer toe en later neem sy hulle slaapkamers toe en kry hulle in die bed. Sy het skaars gesit of Andries roep na Gert omdat hy nog nie nag gesê het nie en toe hy gang af stap besef hy dat dit ‘n eerste want dit het nog nie vantevore gebeur nie.

Toe hy weer gaan sit is daar ‘n traan in haar oog en sê sy bra kortaf dat haar man nooit belang gestel het om die kinders nag te sê of in die bed te kry nie. Hulle gesprek gaan voort en dit is na elf toe sy opstaan om koffie te gaan maak en hy opruim om te gaan bad en bed toe te gaan. Rustig sit hulle eers en koffie drink en sy noem hoe sy dit geniet om saam te werk aan hulle planne en dat sy nooit dit met haar man kon gedoen het nie. Sy sê sy weet nie maar glo nie dat hy enige formele planne beraam het nie want hy het geglo ‘n boer weet wat om te doen. Hy benadruk haar rol in die tyd wat hy weg gaan wees en sy die werkers ook moet beheer maar hy glo dat hy Izak nou so ver gekry het dat daar nie ‘n probleem behoort te wees nie.

Hulle beplanning sluit in dat daar oor die naweek na die beeste gekyk moet word en dat hulle na die kamp om die huis gebring moet word, getel, jonges gemerk, siekes behandel en onthoring gedoen word waar nodig. Dit is steeds maar koud in die oggende en Gert het gereël dat daar koffie vir almal sal wees voordat die dag se werk begin en hy gebruik die geleentheid om Amanda te betrek toe hy die werkers inlig wat vorentoe gedoen moet word en dat die beeste Saterdag kamp toe moet gebring word en wat hulle gaan doen. Izak stel voor dat hulle die middag reeds begin om die verste kampe leeg te maak en so vind Gert uit dat die beeste regoor die plaas versprei is.

Met hulle planne in plek neem hy Amanda op toer deur die stoorkamers en skure en sy is verstom om te sien hoeveel werk reeds gedoen is en hoe mooi alles lyk. Sy wil weet wie dit alles gedoen het en sy kan dit nie glo dat dit haar eie werkers onder leiding van Izak was nie. Izak wat saam stap is so trots op die resultate dat dit lyk of hy op lug loop. Toe hulle weg stap merk sy op dat sy altyd gehoor het hoe sleg “die goed” was en dat haar man maar alles self moes doen. Gert gee sy mening dat een mens net soveel kan doen maar as jy reg bestuur word ander mense jou hande en moet jou oë die werk doen deur beheer en kontroles in plek te stel.

Bestellings met handelaars moet geplaas word en saam is hulle dorp toe om eers by die bank ‘n draai te gaan maak om seker te maak dat alles in plek is. Amanda en Gert word soos familie ontvang en die bestuurder handel vinnig alle handtekening wat verkry moet word af en oorhandig aan Amanda die nodige, tjekboek, kredietkaart, brandstofkaart en sy word voor gestel aan die persoon wat met haar rekening sal werk en haar kontakpersoon sal wees. Sy is verbaas oor die wyse waarop sy gehanteer word en merk op hoe dit verskil met wat sy aan gewoond was.

Toe hulle wegstap na die eerste handelaar merk sy op dat sy nog nooit met kredietkaarte gewerk het en nie juis weet hoe om dit veilig te gebruik nie. Gert belowe dat hulle saam sal sit en dit ook beplan by hulle aandsessie. Ook die handelaar tree skielik anders op as die vorige keer en kan net nie genoeg doen om haar te vrede te stel nie. Die benodighede word aangeteken en teikendatums beplan en vasgemaak en Gert vra na die afslag wat hulle verwag. Hy is nie tevrede met slegs dit wat aanvanklik genoem was nie want die bestelling sluit ander items in en is amper twee keer so veel as wat hulle eers gemeen het. Gert noem dat voordat hulle bevestig gaan hulle eers ‘n draai by ‘n ander handelaar ook maak om pryse te vergelyk. ‘n Verdere 12.5% afslag word aangebied sou hulle nou die bestelling bekragtig en Gert vra dat hy en Amanda eers net gou daaroor wil praat. Hy noem aan haar dat dit ‘n baie aantreklike aanbod is en dat dit onwaarskynlik is dat sy beter sal kan doen maar dat sy nog kan bespaar deur hulle slegs 10% nou te betaal, die balans by aflewering met ‘n boeteklosule indien aflewering nie betyds plaasvind nie.

Sy is baie skepties oor die boete storie maar toe sy dit noem is hulle heel gemaklik daarmee en word die transaksie so afgehandel. Die selfde patroon word by die ander handelaars gevolg en hulle beding verdere kortings wat groot bedrae verteenwoordig. Met die aankoop van ‘n trekker bekyk hulle weereens die opsies en Gert noem aan die handelaar dat hulle belang sou stel om die heel grootste een aan te koop indien hulle kontrakte sou kon verkry om ploegwerk vir ander boere te doen. Die man is so opgewonde dat hy hom skaars kan beteël want sê hy daar is tenminste twee boere wat nie vanjaar trekkers kan bekostig nie en daarom nie al hulle lande sal kan bewerk nie. Oproepe word gemaak en ooreen gekom om die Maandag met hulle te vergader om na moontlikhede te kyk.

Hulle kom laat eers by die huis en daar wag verskeie boodskappe op Gert rondom die huis. Die verteenwoordiger noem dat die koper gewillig is om R 25 000 meer te betaal indien Gert dadelik die aanbod sou aanvaar. Hy weet dadelik dat hy nie die beste prys aangebied word nie en stel voor dat wanneer hy op die 27ste by die huis kom hy die voorstelle sal oorweeg en dat hy eers ander aanbieding ook wil oorweeg. Hulle is baie teleurgestel maar hy staan vas daarop dat hy nie dadelik gaan besluit nie.

Gert is veld in om met die beeste te gaan help en hy sien dat van die drade ook in ‘n swak toestand is en dadelik aan gewerk sal moet word. Dit is al donker toe hy by die huis kom en die kinders het al geëet en gaan lê maar toe Andries sy stem hoor word daar na hom geroep om nag te kom sê en nou wil hy nog ‘n storie ook hoor. Gert gaan vra vir ‘n boek of iets om uit voor te lees maar Amanda het net die kinderbybel wat sy kan aanbied. Hy maak die Bybel oop en dit is by waar Dawid en Goliat se geveg beskryf word. Gert is half ongemaklik want hy kan nie onthou wanneer hy laas in ‘n Bybel gelees het nie. Hy onthou darem nog die verhaal en kleur die lees in met hier en daar ‘n goeie beskrywing wat Andries sal aangryp.

Toe hy klaar is wil Andries nog een hoor maar hy sê nee net een op ‘n slag. Toe hy uitstap tref hy Erika by die deur aan met trane in die oë dat sy nie ook kon by wees nie. Hy neem haar aan die hand en saam gaan sit hulle weer by Andries op die bed en die keer lees hy van Moses in die mandjie op die Nyl en hoe hy deur sy suster op gepas was. Die kinders is skoon baldadig oor die storie lesery en hy kry ‘n drukkie van albei voor hulle lig afsit en in die bed klim. Amanda sit reeds by die tafel en wag vir hom met trane in die oë en sê dat dit vir die kinders soos Kersfees is. Hulle eet in stilte en met hulle beplanning sessie is sy stiller as gewoonlik. Gert noem dat sy nie moet skroom om met hom te praat as iets pla nie en dat dit dalk nou die regte tyd is vir hom om na die ander huis oor te trek.

Amanda is gou om te verdedig en sy noem dat haar ontsteltenis is omdat die kinders al die jare so baie ontneem was en nou begin hulle baie meer normaal optree. Gert kan nie verstaan wat bedoel word nie en sy laat net terloops val dat haar man ‘n baie ingebrokkel en amper nors persoonlikheid gehad het en nie baie aandag aan die kinders gegee het nie. Hy wil nie uitvra nie en laat dit verby gaan maar stel tog voor dat hy op ‘n kol sal moet trek en sy voel weer dat daar geen nodigheid daarvoor is nie want dan sal hy moeite hê met kosmaak ens. Hulle kom ooreen om weer later na dit te kyk en so word die dag afgesluit.

Dit is nog donker toe Gert buite kom en al die werkers op hulle poste is om die beeste aan te keer en alles verloop baie vlot. Hulle tel net 89 beeste insluitende kalwers wat minder is as wat Amanda verwag het. Hy begin navraag doen en hoor dat die beeste nooit vantevore so nagegaan, behandel en na gekyk was en dat hulle self nie seker is van getalle en dies meer. Gert gee opdrag dat die beeste in die kamp naaste aan die huis gehou word totdat al die drade herstel is in die ander kampe. Toe hulle na vier by die huis kom wag daar ‘n boodskap dat hy dringend iemand moet skakel oor sy huis. Hy hoor dat dit ‘n ‘n ander agentskap is wat sê dat hulle verneem dat hy sy huis wil verkoop en dat hulle ‘n koper het wat ‘n aanbod van R 650 000 sal aanbied. Gert stel voor dat hulle ontmoet wanneer hy tuis is aangesien hy geen besluit nou gaan neem nie.

Amanda stel voor dat hulle braaivleis vir aandete maak en die kinders in baie opgewonde daaroor en help met die vuur en bykosse te maak. Gert doen die braai werk en Andries vertel dat hulle nog nooit gebraai het nie. Amanda berispe hom en sê dat hulle wel gereeld gebraai het maar hy dring aan dat dit net sy Pa was wat gebraai het en nie hulle nie. Die aand verloop goed en toe die kinders in die bed is roep Erika dat dit haar beurt is om ‘n storie te hoor en so moet Andries en Gert daar gaan sit en lees hy die verhaal van die geboorte van Jesus vir hulle. Baie tevrede is beide gou aan die slaap en kan hy en Amanda net vinnig hul dag in oënskou neem voordat hulle ook gaan slaap. Gert noem dat dit wil voorkom as of daar dalk ‘n veedief in die omtrek mag wees en dat hulle op hulle hoede moet wees want dit kan gevaarlik raak.

By ontbyt word Gert genooi om saam kerk toe te gaan en hy probeer eers uitkom maar die kinders dring aan hy moet saam gaan. So is hulle kerk toe en kom Gert vir die eerste keer in baie jare in ‘n kerk. Alles is vreemd vir hom en na die diens erken hy aan homself dat hy iets ontvang het om oor na te dink. Buite die kerk word hulle voorgekeer en aan een van die boere wat dalk belang sou stel in die ploeg idee en word daar kennis gemaak. Gou sluit ‘n paar ander boere by hulle aan en word Gert voorgestel as “Die bestuurder” van Amanda se boerdery. Die ploeg konsep word bespreek en daar word ooreengekom om die volgende dag dit weer verder te voer.

Gert nooi die kinders en Amanda vir roomys en hulle opgewondenheid ken geen perke nie. Die keuse is moeilik vir hulle om te maak en Gert moet eers mooi verduidelik en op die ou einde neem die kelnerin hulle om te gaan kyk hoe dit wat bestel is gemaak word. Amanda is ietwat verleë maar hy verseker haar dat hulle nie anders is as wat hy was toe hy iets niets ervaar het nie. Met baie lang lepels eet hulle die roomys wat vir hulle soos iets uit feetjieland lyk en geniet die kinders die uitstappie terdeë. Terug op die plaas en na ete kom almal tot rus en kan Gert verder werk aan die fyner beplanning van die volgende weke, veral die waar hy slegs naweke hier sal wees. Toe hy vieruur geroep word vir koffie sit die kinders en wag hom in en wil hulle weet hoekom hy dan nie by hulle wil bly nie.

Dit kos baie verduidelik dat dit vir Amanda en vir hulle nie die regte ding is dat hy nie op sy eie woon nie maar dat hy tog naby sal wees as hulle hom nodig het. Wat van hulle stories, en van dat Ma dit sal doen wil hulle niks weet nie, en hy wil nie belowe wat hy dalk nie kan na kom nie. Hulle besluit dat hy by hulle sal aanbly totdat hy permanent daar kom woon en dan sal hulle verder besin oor die toekoms. Die volgende week verloop baie vinnig en hulle kom ooreen met die ploeg kontrakte vir twee boere wat dit moontlik maak om die groot trekker aan te koop. Die bank is baie beïndruk dat Amanda hulle op hoogte hou met verloop van sake en sy raak al meer op haar gemak om sake te doen wetende wat haar verwagtinge is. Sy weet dat die kinders ook baie positiewe ervarings belewe en sy is verbaas om te sien dat veral Erika so maklik kan gesels waar sy voorheen baie soos haar Pa ‘n eensame mens was.

Die Saterdag oggend voordat Gert terug sou gaan kry hy eers vir Izak en Amanda byeen en gaan die program van die week weereens deur en hy maak seker dat Izak weet dat hy verantwoordelik gaan wees om toe te sien dat alles gedoen word en dat hy elke aand vir Amanda sal wys wat gedoen was en sal bevestig wat die volgende dag gedoen moet word. Daarna word die werkers ingeroep en word daar ‘n indaba gehou oor die twee weke wat verby is en wat nog voorlê. Gert hoor dat hulle dit geniet want hulle kan sien dat daar vooruitgang is en hy onderneem om hulle op hoogte te hou wat in die toekoms mag gebeur.

Toe Gert halfpad huis toe is besef hy vir die eerste keer dat hy eindelik twee weke van totale VREDE ervaar het en dat sy kop “skoon” is en dat hy vars en uit gerus voel al het hy sulke lang ure en dae gewerk. Hy mis al klaar die kinders en so ‘n bietjie vir Amanda ook en toe hy indraai by sy hek besluit hy hy gaan die huis verkoop en dat hy die regte besluit geneem het om die verandering te maak.

skrywer: Salie Marais

Hoofstuk 1 | Hoofstuk 2 | Hoofstuk 3 | Hoofstuk 4

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Vrede 4 | Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply