Toe Gert die volgende dag by die werk kom en sy bedanking indien is sy werkgewer baie ontsteld en Gert moes hom verseker dat dit net gebeur het omdat hy weg uit die stad wil kom. Later in die dag word hy ingeroep en gevra om sy bedanking te heroorweeg maar Gert verduidelik dat sy besluit finaal is. Hulle vra toe sy mening na wie hom sou kon opvolg en toe hy sy mening gee blyk dit dat hulle van die selfde gedagte was en word daar besluit dat Gert vanaf die volgende dag sal begin om hom in te lig en aan hom te oorhandig wat nodig mag wees. Amanda skakel teen agtuur en vra uit hoe dit toe gegaan het en dit skemer deur dat sy bekommerd is dat hy dalk van gedagte mag verander maar hy stel haar gerus dat sy besluit finaal is en dat hy haar die naweek weer sal sien. Die kinders wil ook eers praat en groet en hy moet geduldig luister na elkeen se storie. Hy bestel vir hom ‘n pizza en begin om met die huis agentskappe te skakel en afsprake te reël vir die volgende aand. Gert beplan sy trek en nader twee vervoerkontrakteurs vir pryse en besluit op die een wat vir hom die beste kom aangesien die pryse min of meer die selfde sal wees.
Die dae vlieg verby en alles kom mooi na ‘n punt met die aanbod op die huis van R 650 000 wat hy aanvaar het, die trek wat gereël is vir die 28ste en die opleiding en oorhandiging aan sy opvolger wat goed verloop. Hy het nog geen woord van Magda verneem nie en daar het ‘n klomp pos opgehoop wat hy nou terug aan die afsender stuur. Hy ervaar geen verlange of jammerte na haar en hy is verlig dat dit op ‘n skoon breek uitgeloop het. Toe Vrydag kom neem hy sy oornag klere saam werk toe en vertrek vroeg middag plaas toe. Op pad besluit hy om vir die kinders elkeen ‘n pakkie lekkers te koop en ‘n bos blomme vir Amanda. Dit is ‘n verrassing vir almal toe hy teen vyfuur daar opdaag en daar nog tyd is om te luister en te sien wat Izak en sy span verrig het.
Hy is baie in sy skik want alles het blykbaar goed verloop en hy sê dit ook vir hulle. Hy haal tevoorskyn die karton sigarette wat hy vir hulle saam gebring het en vra vir Izak om dit regverdig uit te deel wat baie goed ontvang word. Hy gaan haal sy tassie, die blomme en lekkers en deel uit aan die huisgesin. Amanda kry weer trane in die oë en sê sy het nog nooit blomme van ‘n man gekry nie en die kinders wil net weglê aan die lekkers maar Amanda keer tot na ete. Hulle verkeer baie gesellig saam om die etenstafel en toe die kinders gaan bad het en bed toe moet gaan is die versoek dat hulle weer David se storie wil hoor.
Toe Hy en Amanda saam sit om na die afgelope week se vordering te kyk en te beplan wat die nuwe week gaan vereis noem hy dat hy haar en die kinders gemis het en dat dit lekker is om weer terug te wees. Hulle is heel gemoedelik en hy kan nie help as om te wonder hoe oud sy is, hy skat so 31 of 32, en of sy ander familie het of nie. Gert lê later in die bed en dink weer na oor die ontvangs wat hy gekry het en hy erken aan homself dat hy baie bly is om terug te wees en dat Amanda so skelm skelm in sy hart gekruip het. Hy is nog seer oor Magda en besluit om dit dig te hou en liewer ‘n afstand te handhaaf want hy is nie van plan om enige verhouding aan te gaan na wat met Magda plaasgevind het nie.
Vroeg oggend kry hy vir Izak en saam stap hulle rond en kyk na wat gedoen was en wat nog gedoen moet word. Gert vertel van die nuwe trekker wat kom en dat hy drie manne gaan moet laat oplei om dit te bestuur en vra na Izak se mening. Izak is natuurlik dadelik gretig om self te gaan maar hy dink nie een van die ander manne sal so ‘n groot trekker kan hanteer nie en hy onderneem om navraag te doen by ander plase se bestuurders. Hulle stap in die pad af na die ingangshek en Gert verduidelik dat die hek daardie dag afgehaal, herstel en terug geplaas moet word en dat hy ‘n sweismasjien saam gebring het en die nodige sal doen. Om die pad te herstel gee hy opdrag dat daar van die as met grond gemeng moet word om die gate te vul en gelyk te maak en dat dit in die komende week gedoen moet word.
Andries kom soek na hom om ontbyt te kom eet en hand and hand stap die twee terug huis toe met Andries wat wil weet of hy nie saam met Gert stad toe kan gaan vir die komende week nie. Gert vra na skool en oortuig hom dat dit nie haalbaar is nie en toe hulle aansit vir ontbyt is almal in ontspanne luim. Amanda noem dat daar die middag bure vir koffie oorkom iets wat sy baie lanklaas gehad het want haar oorlede man het min of geen vriende gemaak nie. Die oggend vlieg verby en toe die besoekers opdaag is Gert nog altyd besig met die hek wat in ‘n swakker toestand was as wat hy verwag het. Met die taak afgehandel was hy net hande maak verskoning dat hy nog in werksklere is en saam sit hulle en gesels op die voorstoep.
Amanda vertel van alles wat al reggemaak is en dring aan dat hulle op ‘n besigtigingstoer moet gaan om die vordering te sien. So stap hulle saam en Gert en die buurman, Sakkie, stap vooruit met die vroue wat hulle volg. Sakkie merk op dat daar ‘n “helse” verandering was teenoor wat Dries, Amanda se oorlede man, kon verrig. Hy vertel van die slegte verhouding wat Dries met die werkers gehad het en dat hy nou hoor dat dit baie goed op die plaas gaan. Sakkie vertel dat Dries se voertuig op die plaaspad gerol het en hy opslag dood is. Tot vandag toe kon niemand bepaal wat gebeur het en of hy alleen in die voertuig was of nie want daar was blykbaar aanduidings dat meer as een persoon in die bakkie was ten tye van die ongeluk maar dat niks bewys kon word nie.
Sakkie noem dat die boere bekommerd is oor veiligheid en dat hulle ‘n vergadering wil hou om daarna te kyk en of hy sou belangstel om deel te wees. Gert wys daarop dat Amanda die plaaseienaar bly en hy net die bestuurder is en dat dit goed sal wees om deur haar te werk liewers as wat hy dit sou dryf. Sakkie onderneem om dit op te volg en hulle bespreek ‘n datum vroeg in die nuwe maand wanneer Gert permanent op die plaas sal wees. Later aan tafel noem Amanda van die vergadering en vra dat Gert namens haar dit sal bywoon en hulle besluit om dit liewer gesamentlik by te woon. Gert noem ook dat hy sy motor gaan inruil vir ‘n dubbelkajuitbakkie want die motor sal nie die plaaspaaie oorleef nie. Die kinders is dadelik vol belangstelling en wil net weet wanneer hy dan die bakkie sou kry, watter kleur en so voorts dit gaan wees. Gert wil niks verklap en sê hulle moet maar wag en sien.
Terug in die stad bestel Gert vroeg die Maandagoggend sy bakkie en koop ook ‘n platbak sleepwa saam met dit en hy besluit om sy trek liewer self stuk stuk oor die volgende vier naweke aan te ry. Toe hy Woensdag die bakkie en sleepwa kry is hy heel in sy skik en skakel hy Amanda en vertel wat sy planne is. Sy is self opgewonde en wil meer weet maar hy wil niks sê en self toe die kinders pleit is hy doof en moet hulle maar wag tot Vrydag om te sien. Hy het die Donderdag aand die sleepwa gelaai met so veel goed as moontlik en toe hy vroeg Vrydag afkry haas hy hom huis toe, laai van die gepakte goedere in die bakkie en vertrek plaas toe. Met die sleepwa in tou gaan dit stadiger en nie lank of Amanda skakel om te hoor hoe hy vorder en dat die kinders al by die hek staan en wag.
Toe hy indraai is hulle by en dit gons soos hulle saam praat en vra oor alles. Hy het moeite om die vrag afgelaai te kry maar van die werkers daag op en gou is alles op hulle plek. Die aand sit hulle vier tot na bedtyd van die kinders en gesels en hoor Gert dat Erika die volgende week, die Saterdag, verjaar. Toe hy en Amanda alleen is vra hy uit rondom die verjaarsdag en sy vertel dat Erika baie graag maats sou wou nooi maar dat dit moeilik is om hulle op die plaas te kry. Gert stel voor dat sy by “Die Wimpy” navraag sal doen want hy het gehoor hulle reël kinderpartytjies en dat hy graag sal wil deel om die kostes te dra. Sy dink dit is ‘n goeie plan en hulle spreek af dat sy dit die volgende oggend sal gaan reël terwyl hy met Izak hulle die week se werk nagaan en uitdeel vir die nuwe week.
Die naweek is gou verby en die week gaan net so gou verby. Toe hy die Donderdag aand die vrag laai sien hy dat daar nog net een vrag oorbly voordat hy finaal trek en dat hy net die nodigste items agterlaat vir sy verblyf tot die einde van die maand. Die vorige naweek se ontvangs word herhaal maar die keer is daar van die werkers wat staan en wag om te kom help met Izak voor in die tou. Gert het lankal besluit dat hy nie alle meubels sal kan gebruik nie en het vir elke werker ‘n item uitgeken en nou vertel hy vir hulle van die geskenke. Eers was daar ongeloof en toe gaan dit oor in vreugde wat geen perke ken en moet alles dadelik aangery word na hulle huise toe. Die res van die werkers daag op met vrouens en kinders agterna en daar word ‘n trekker en sleepwa nader gebring met elkeen wat sy nuwe eiendom gelaai sien en vertrek die om verder te gaan feesvier.
Amanda staan verstom oor wat so pas gebeur het en sy weet dat die werkers se hele houding en getrouheid ‘n groot verandering ondergaan het en dat sy al meer en meer op hulle sal kan reken. Gert het nie soos die eerste naweek lekkers en blomme gebring nie maar hy het vir Erika ‘n groot Teddy gekoop wat veilig in ‘n doos verpak en in sy huisie gebêre is en vir Andries net ‘n mooi storieboek van “Liewe Heksie”. Vir Amanda het hy ‘n bottel badolie gekoop maar alles word tot die volgende dag gehou. Amanda het alles stilweg gereël sonder dat Erika iets agter gekom het. Die Saterdag oggend is Erika vroeg op kry haar geskenk, ‘n mooi partytjie rok, van Amanda en word sy vertel van die partytjie later die oggend. Sy is so opgewonde om vir Gert te vertel dat sy sommer in sy kamer in storm hom nog in die bed kry en die praat land en sand. Gou is Andries en Amanda ook by en word sy geskenke ook uit gedeel met almal hoog in hulle skik moet Gert hulle maan om hom ook kans te gee om op te staan.
Toe hulle aan ontbyt tafel sit wil Andries skielik weet hoekom Gert dan elke dag skeer want sy Pa het net Sondae en af en toe as hy dorp toe moes gaan geskeer. Gert verduidelik dat hy gewoond is om dit so te doen weens sy werk en dat hy in alle geval nie van baard hou nie en dus liewer maar dit daagliks wil afskeer. Hy merk dat Amanda hom fyn dop gehou het en van die antwoord kennis geneem het en blykbaar dit goed gevind het dat hy nie Dries afgetakel het nie. Amanda en Erika is in dorp toe met Andries wat saam met Gert op die plaas agter gebly het om die take na te gaan en te beplan vir die volgende week. Andries vra of hy nog in die ander huis gaan bly want sy Ma sou verkies dat hy by hulle bly waarop Gert verduidelik dat hy ook sy lewe moet in orde kry en sy Ma baie ander dinge moet doen as om met hom opgeskeep te sit in die aande.
Andries wil weet of hy ook so ‘n partytjie gaan kry op sy verjaarsdag wat eers in die nuwe jaar sal wees. Gert vra wat hy sou verkies en hy wil liewers sy maats plaas toe laat kom sodat Gert vir hulle kan braai en hulle baie ruimte het om te kan speel. Gert stel voor dat hy uitvind of sy maats vir ‘n Saterdagaand kan oorslaap dan maak hulle ‘n groot partytjie wat die hele middag en aand in sluit. Baie opgewonde wil hy sommer dadelik begin maar Gert verseker hom dat daar nog baie tyd is en dit eers later hoef te gebeur. Hy noem dat sy Pa nooit so iets sou toelaat nie en dat almal maar skrikkerig en bang vir hom was en toe Amanda tuiskoms word sy vertel van die planne en staan in verwondering dat die kinders so skielik ontpop het en nie meer mens skugter is nie en self ook planne wil begin maak wat nooit voorheen die geval was nie.
Toe sy en Gert later die aand sit en werk verander sy die gesprek en bedank sy hom vir wat hy vir haar en die kinders beteken. Sy skroom nie om te sê dat hy baie meer vir hulle is as wat hy dalk besef en dat hulle nog baie op hom gaan moet staat maak in die toekoms en dat sy daarna uitsien. Gert begin haar vertel van sy verlede en hoe seer hy met Magda gekry het en dat dit die ware rede is waarom hy nou by hulle is. Hy meld dat hy die kinders en vir haar geniet en dat hy hulle as sy eie familie sien en aanvaar en dat hy altyd daar sal wees vir hulle. Albei is dankbaar dat hulle met mekaar gedagtes kon wissel en hulle gesels vlugtig oor die verblyf reëlings wanneer hy gevestig is en hulle kom ooreen dat hy sy maaltye by Amanda hulle sal nuttig waar moontlik en dat na aandete hulle sal vergader om die dag en volgende dag te bespreek.
Sy wou eers alles aan hom oorgee maar hy oortuig haar dat sy gesien moet word om belang te stel in wat op die plaas gebeur en ook om so op hoogte te bly van sake. Hy stel voor dat sy ‘n rekenaarkursus volg en dat sy dan die kantoor en finansies sal bedryf. Sy skop vas en meen dat sy nooit dit sal kan baas raak nie maar hy dring aan dat sy moet dink daaroor. Hy stel voor dat sy vir ‘n week met hom saam stad toe sal gaan en dat hy vir haar so ‘n kursus by die Departement van Landbou sal kan reël. Hulle kom ooreen om dit te ondersoek en laat die saak toe daar.
Die volgende oggend word hy weer saam kerk toe genooi met die kinders wat met die bakkie wil ry. Hulle dring aan om agter te sit en dit gee geleentheid vir hulle om weer te gesels oor die moontlikheid van die kursus. Gert beveel aan dat sy ook met die bank daaroor sal gesels om te bepaal hoe en wanner hulle inligting van haar sou verlang. Sy begin al meer aan die gedagte byt en praat al asof sy dit sal gaan doen en Gert verseker haar dat hy weet dat sy die vermoë het en dat sy so op hoogte van alles op die plaas sal kan bly. Na die diens drom die mense weer saam en verskeie soek hulle geselskap op wat Amanda ietwat onkant vang maar wat sy tog geniet.
Die kinders vra of hulle weer gaan roomys eet en Gert stel voor dat hulle hul Ma “afgee” vir die dag se ete en dat hy hulle uitneem na die oord buite die dorp waar hulle lekker saam kan eet, roomys eet en sommer net sit en ontspan. Terwyl hulle tee drink speel die kinders onder die bome en kort voor lank is hulle deel van ‘n hele paar ander kinders se gespeel en geniet hulle die dag baie. Amanda merk op dat sy nog nooit die kinders so gelukkig gesien het en dat Dries nooit vir hulle iewers heen gevat het nie. Nadat hulle geëet het en op pad huis toe is raak die kinders op die agterste sitplek aan die slaap van uitputting en verwonder Amanda haar aan die verandering wat hulle ondergaan het oor die laaste klompie weke.
Die Maandag begin Dries navraag doen en vind uit dat sy eers vir ‘n basiese rekenaarkurses sal moet gaan alvorens sy die finansiële kursus by Dept Landbou sal kan loop en dat die kursus eers oor ‘n maand plaasvind. Daardie aand skakel hy Amanda en hulle kom ooreen dat sy die kinders vir die volgende week in die koshuis op die dorp sal plaas en dat sy saam met hom stad toe sal kom om die eerste kursus te doen. Gert koop die nodige hardeware aan wat sy sal benodig en kry alles gereed om plaas toe te vat oor die naweek.
Hy het sy hande vol met Amanda en die kinders wat alles van die rekenaar af wil weet en om te sien wat gedoen kan word. Hy stel hulle voor aan die internet en soek ‘n paar onderwerpe op as ook speletjies wat almal beïndruk. Nou wil hulle net speel en het Amanda moeite om te verduidelik dat hulle nie die rekenaar ten alle tye kan gebruik nie aangesien sy dit vir haar werk gaan gebruik maar dat hulle voor aandete tog toegelaat sal word om vir ‘n kort rukkie beurte sal te kry om speletjies te speel. Die kinders sien uit om vir die paar dae in die koshuis te bly en so vertrek hy en Amanda nadat hulle die kinders afgesien het stad toe.
Hulle gesels oor wat voorlê en Gert verseker haar dat aangesien hy goed rekenaarvaardig is hy haar sal kan help as sy vas sou brand wat hy nie glo nie. Amanda neem sy hand en gee dit ‘n drukkie en vertel dat niemand nog soveel vertroue in haar gestel het as hy nie. Spontaan begin sy vertel dat sy Dries op skool ontmoet het en dat hy drie jaar voor haar klaar gemaak het en toe op die plaas gaan werk het saam met sy Pa. Hoedat hy haar oortuig het om direk na matriek in die Desember te trou en sy haar intrek geneem het in die huis waarin Gert nou gaan bly. Sy vertel dat sy Dries net as skoolmaat geken het en eers later agter gekom het dat hy uiters antisosiaal is.
Sy ouers was die selfde en sy het niemand gehad om mee te kommunikeer nie en met haar eie ouers wat in die tussentyd afgetree en verhuis het Natal toe was sy baie alleen. Sy vertel dat Erika na so 18 maande gebore is en dat sy haar toegespits het op die baba in die huis. Dries het dit as opposisie ervaar en altyd stief met die kind en later ook met Andries gewees. Sy vertel dat Dries se ouers na ses jaar een oggend op pad dorp toe ook ‘n ongeluk omgekom het, dat sy Ma opslag dood is en sy Pa drie weke later. Dries kon nie werklik die mas opkom op die plaas en dinge het al meer met tyd agteruit gegaan.
Gelukkig het hy versekering gehad en toe hy verongeluk het het sy ‘n stywe bedrag ontvang wat haar aan die gang gehou het maar dat sy op ‘n punt gekom het waar sy besef het sy of hulp sal moet kry of dat sy die plaas sal moet verkoop. Sy vertel hoe sy gewik en weeg het en dat sy nou so dankbaar is dat sy besluit het om liewers hulp, sy hulp, te verkry het. Sy brei nie uit op haar lewe saam met Dries nie en hy wil nie uitvra nie en so gesels hulle oor ander dinge soos wat vir die week voorlê. Gert noem dat hy haar elke aand wil gaan bederf en die stad wys dat sy kan sien hoekom hy VREDE op die plaas kom soek. Sy lag lekker en sê daar is nie veel sprake van vrede nie want sy, die kinders en die plaas gaan hom meer as besig hou maar sy antwoord kom as ‘n verrassing tot haar dat ware vrede nie kom van min of niks doen maar eerder van dit waarmee en met wie jy besig is.
Hy vertel haar verder van Magda en sy seer rondom die situasie en dat hy homself belowe het om nie gou weer ‘n verhouding aan te gaan nie en beslis nie een wat op enigiets behalwe wedersydse respek en liefde gebaseer is nie. Hy maak die stelling dat in ‘n verhouding hy nie net seks of daardie soort van band soek nie maar veel eerder een van gelykheid en kameraadskap wat alles sal insluit. Amanda stem geheel en al met hom saam en sê dat haar uie verlede het bewys dat sonder daardie komponente jy nie iets blywend kan bou nie. Met die ys gebreek sê Gert vir haar dat hy al baie benoud begin word het want hy het haar en die kinders baie lief leer kry en dat hy glo dat sy Amanda ‘n wonderlike vrou is en beslis ‘n baie goeie lewensmaat sal uit maak waarop sy net bloos en in stilte dit sit en verwerk.
By hulle aankoms verduidelik Gert dat met al die ander meubels reeds op die plaas is hy van plan om in die sitkamer te oornag terwyl sy sy slaapkamer gaan beset en dat hy geen teëstribbeling wil hoor nie. Amanda sien ‘n amper lee huis en tog is daar ‘n warmte wat sy ervaar wat gerusstellend is. Sy maak haarself tuis en hulle gaan sommer by die Spur ‘n vinnige iets eet voordat hulle tot ruste kom. Vroegdag bring Gert vir haar koffie in die bed en vertel dat hulle oor sowat 45 minute sal moet pad vat. Sy maak vinnig klaar en na ‘n vinnige ontbyt pak hulle die pad stad toe aan. Gert neem haar tot waar sy die opleiding sal kry en stel haar voor en verduidelik wat hy verwag gedoen moet word en laat Amanda met die reling dat hy haar om vieruur sal kom oplaai.
skrywer: Salie Marais

Lewer kommentaar