Vrede 4

Die finale skuif plaas toe vind sonder veel probleme plaas en hy burger hom self in by sy nuwe tuiste. Gert kom gou agter dat hy nie die tyd sal hê om self kos te maak en aan huis aangeleenthede aandag te gee nie en is hy dankbaar vir die reëling om saam met Amanda-hulle te eet, sy die wasgoed en so voorts te laat reël. Soggens eet hy net ‘n stukkie geroosterde brood of iets lig en middae eet hy saam met Amanda of die werkers afhangend van waar en met wat hulle besig is. Met meeste van die aankope vir planttyd afgelewer is Gert baie besig om alles voor te berei vir planttyd. Die weerberigte is nie gunstig nie en hy wys vir Amanda hoe en waar hulle op die internet die kort, medium en langtermyn voorspellings kan kry. Hy wys ook aan haar uit hoe hy die weervoorspelling van ander lande kan bybring om ‘n beter patroon te kry en sy vooruitskatting is dat dit eers in November voldoende sal reën om te kan plant maar dat daar los buie in September en Oktober gaan wees wat dit moontlik sal maak om te ploeg en voor te berei vir planttyd. Hulle stem saam dat hulle dit so sal beplan en om ook met die kontrak ploeg werk dit so gou moontlik af te handel en daardeur tyd te wen om voluit te kan plant en bewerk sodra daar goeie reën val.

Die ander boere is skepties en wil liewer wag maar toe hulle sien dat Gert al die lande wat hulle wou plant ploeg stem hulle ook daartoe in. So word daar dag en nag geploeg wanneer daar ook al ‘n bui reën uitsak wat dit moontlik maak om te werk en teen begin November is alle ploegwerk reeds afgehandel. Binne die eerste dae van November val daar so veel reën dat niemand naby ‘n land kan kom nie maar met die ploegwerk afgehandel kon hulle alles in die stryd werp om te plant toe dit voldoende afgedroog het. Die waarde van die vroeg ploeg kom toe duidelik deur en hy en sy mede boere wat vroeg geploeg het se oes is lankal in die grond terwyl meeste ander nog swoeg om te ploeg en te plant.

Die reën val kort-kort wat sake nog meer bemoeilik maar Gert het ook met sy Stikstof toeding saam met die spuit vir onkruid so beplan dat hy vroeg Januarie al reeds al die lande volledig kon bewerk het. Hierdie plan het baie goeie resultate gelewer en hulle kon met nuwe projekte begin wat andersins nie moontlik so gewees het nie. Hy het Amanda oortuig dat hulle ‘n nuwe stuk grond naby die huis moes ploeg en met soetpatats te beplant. Hy het verduidelik dat dit kontant kan inbring nog voordat die oes afgehaal kan word. Saam met die stel hy voor dat daar ook ander groente geplant word wat weekliks op die dorp verkoop sou kon word.

Met Izak se ondersteuning word ‘n mooi stuk grond bewerk en geplant met onder meer bone, slaai, kool en uie. Almal is verstom hoe gou die bone, slaai en kool mark gereed is en daar al weer ‘n tweede oes geplant kan word maar die keer met die opsie om ‘n gedeelte nat te ly vanuit die plaasdam. Die geld wat van die groente gewin kon word het die weeklikse lone gedek sodat daar nie verder geleen hoef te word nie. Gert het in die tussentyd vir Amanda ‘n kantoor in ‘n stoepkamer ingerig waar sy gemaklik en in stille deur die dag kon werk aan die boerdery se boeke en beplanning.

Hulle het weer gesels oor die kursus wat hulle op beplan het maar met die hulp van die bank kon sy ‘n pakket wat deur die bank gebruik word bekom en van hulle die nodige opleiding verkry. Sy kan daarmee via die internet met die bank kommunikeer en dit het groot voordele vir almal tot gevolg gehad. Haar kantoor het haar trots geword en sy het dit so bestuur dat sy klaar was wanneer die kinders in die middag by die afdraaipad, by die plaashek, gehaal moes word. Dan het sy al haar aandag aan hulle gewy met die gevolg dat die kinders beter en beter vordering op skool getoon het.

Haar verhouding met Gert het gegroei tot ‘n pragtige verhouding van vertroue, liefde en allermees een wat die gesin ten volle ingesluit het. Toe hy haar vra om te trou besluit hulle dat hulle huwelik en hulle verhouding alles insluitend sal wees met die kinders as sentrale punt waaroor daar nie onderhandel sal word nie. Gert se verhouding met die twee kinders was vir Amanda ‘n groot pluspunt want nie alleen was hulle mal oor hom nie hy het hulle op die hande gedra en beskerm asof hulle stukkies goud was. Gert het die kinders gekry om hulle maats na die plaas begin nooi en daar was menige naweke waar daar ses of selfs meer kinders op die plaas gekuier het.

Erika het met Gert se hulp vir haar ‘n hasiehok laat bou en het sy gereeld van die hasies kon verkoop en haar eie sakgeld so kon verdien. Andries het meer van die beeste gehou en Gert het vir hom ‘n melkkoei gegee wat hy na kon kyk. Toe die koei kalf en daar ‘n kalfie en melk beskikbaar word was hy in die sewende hemel. Van die melk kon verkoop word maar selfs die vir eie gebruik word opgeteken en kry hy beloning voor. Amanda moes mooi boekhou vir hom want hy moes leer dat daar kostes aan verbonde was wat betaal moes word en vinnig het hy geleer deur om self in te klim en so te bespaar, ook met arbeid. Dit was die kinders se trots om vir maats hulle boerderye te kon wys en te verduidelik hoe dit werk. Mettertyd het die kinders spontaan na Gert begin verwys as hulle “nuwe Pa” al het hulle hom nog steeds op die naam genoem.

Amanda het die troue beplan vir vroeg in Januarie en daar was groot opgewondenheid by almal, tot die plaaswerkers het gedeel in die afwagting en uitsien na die groot dag. Hulle het in die tussentyd heelwat vriende gemaak en hulle plan was om dit op die plaas te hou met die onthaal in die trekkerstoor wat mooi skoon en geverf was vir die groot dag. Amanda se Ouers en familie word genooi en Gert het syne ook genooi met die reling dat hulle almal in ‘n gastehuis naby die plaas gehuisves sou word. Hulle het oor die tyd gesels oor hulle families en agtergrond maar albei was nie baie familie vas nie en meeste van die gesprekke het maar baie oppervlakkig gewees want hulle was nie juis baie op hoogte van broers en susters se doen en late nie. Amanda het vertel dat Dries nie baie sosiaal was nie en dat sy in die laaste jare nooit van haar familie gehad het wat op die plaas kom kuier het nie.

Gert het nie veel aandag aan die uitnodigings gegee nie en het ook nie juis geweet wie wie sou wees nie want hulle het tot op datum nie mekaar se familie ontmoet nie en die vertel en gesels rondom hulle was ook nie van groot belang vir hulle nie met die gevolg dat die naam Magda verby geglip het sonder dat Gert dit eers raakgesien het. Met die dat die bevestiging van bywoning begin deurkom het het hulle soos dit kom die mense bespreek in die gastehuis en toe Magda se antwoord inkom tref die naam hom vir die eerste keer. Maar daar is tog baie mense met die selfde naam troos hy hom en het hy dit daar gelaat sonder om eers verder daaroor te wonder.

Amanda se ouers het ‘n paar dae vroeg gekom en hulle was baie beïndruk met Amanda se keuse en het nie geskroom om dit te sê nie. Ook sy ouers het twee dae voor die tyd opgedaag en hulle was net so ingenome met die verwikkeling. Sy Pa wou weet wat hulle plan rondom kinders was want Gert was die enigste manlike van die geslag maar Gert was baie ferm dat dit hulle privaat saak is en nog nie bespreek was nie en dat hy in alle geval nou twee kinders het wat hom groot plesier gee. Dit was vir Amanda ‘n verligting want al het hulle nog nie daaroor gesels nie het dit haar gepla want sy was nie seker of sy weer ‘n kind in die wêreld sou wou bring nie want die ouderdoms verskil met haar kinders sal ook so groot wees dat dit ‘n alleen kind kan word en dat sy beslis nie kans sou sien vir meer as een nie.

Toe Gert die Vrydagaand by die huis kom hoor hy wat hy as ‘n bekende stem sou noem en groot is sy skok toe hy in Magda vasloop en hoor dat sy Amanda se suster van “die stad” is. Die atmosfeer is dadelik baie gespanne en Gert neem Amanda eenkant toe en verduidelik die situasie aan haar. Sy was net so geskok maar sien die snaaksheid daarvan ook insien en verseker Gert dat hy niks het om oor te vrees nie en dat sy die situasie sal hanteer. Sy neem Magda eenkant toe en tussen hulle moes daar duidelik gepraat gewees het want toe hulle weer terug kom was Magda maar bra stil en het die gou vertrek gastehuis toe. Later die aand het hulle net ‘n boodskap gekry om te sê dat sy dringend moet terug stad toe en dat hulle hul dag moet geniet. Amanda stel Gert gerus en vertel dat Magda haar ouers se groot kommer is want niemand weet regtig waarmee sy haarself besig hou nie en dat sy seder skooldae al verskeie verhoudings aangehad het, meestal met of mans baie ouers as sy en of selfs met getroude mans, en dat niks wat haar ouers kon doen of sê aan haar ‘n verskil gemaak het nie.

Die troue het baie goed verloop en Amanda was soos ‘n sprokiesverhaal met Gert wat so trots op haar was dat hy gestraal en gelag het van oor tot oor. Die reëlings was dat Amanda se ouers vir ‘n week op die plaas sou kom woon om kinders op te pas terwyl hulle Durban toe kon gaan om hulle te geniet. Amanda was bekommerd oor haar ouers en die kinders maar na die eerste aand se gesprek met hulle was sy gerus want sy hoor dat haar ouers die kinders net so geniet as hulle vir Oupa en Ouma. Die week gaan so vinnig verby dat albei nog weke sou kon saam deurbring weg van die gewoel van die plaas en tog is hulle angstig om weer tuis te wees en met hulle nuwe lewe aan te gaan. Hulle ontvangs op die plaas is iets wat haar vir die res van haar lewe by sal bly. Die kinders het met die hulp van haar ouers vir hulle ‘n ontvangs gereël met ‘n verwelkomingskaartjie en al waarin hulle Gert as hulle Pa aanspreek en vertel hoe lief hulle vir albei is.

‘n Hele nuwe lewe ontvou vir almal in die gesin met Gert wat intrek en almal was baie opgewonde hieroor. Alles maak skielik nuwe sin en dit wil voorkom asof alles wat hulle aanpak met sukses beloon word. Gert waarsku dat dit nie altyd sonskyn en rose gaan wees nie maar dat hulle mekaar en hulle lewe moet geniet want die lewe kan soms kort en dwars wees sonder dat jy eens weet hoekom en waarom. Die nuwe skool jaar lê en wag met Erika wat hoërskool toe moet gaan en dit bring nuwe uitdagings wat aangespreek moet word. Die twee skole eindig op verskillende tye en nou moet die een of die ander staan en wag vir bus om saam te kan ry of anders sou hulle afsonderlik moet ry wat ook weer meen dat Amanda twee keer moet ry om hulle te gaan afhaal.

Met die dat hulle nou heelwat vriende gemaak het met mede boere kon hulle saam ‘n groep byeenbring wat weekliks beurt sou maak om mekaar se laerskoolkinders in die agtermiddag te gaan haal. Gou het dit duidelik geword dat dit ook nie ‘n goeie plan was nie en het Amanda en Gert besluit om ‘n huis op die dorp te koop waarin ‘n afgetrede onderwysers paar kon woon wat dan na die kinders in die middae sal omsien dat hulle huiswerk gedoen en ‘n ete kon nuttig kon word. Omdat die kinders dus later gehaal word kon hulle ook aan sport en ander skoolaktiwiteite begin deelneem met net een rit wat almal huis toe neem. Daar is toe drie families betrek met ses kinders en die reëling het baie goed uitgewerk vir almal.

Druk van die bank af het ander boere genoodsaak om ondersoek instel na wat Amanda besig was om te doen en om soortgelyke kontroles en finansiële beheer in te bring en hulle het haar gevra of sy kans sou sien om ‘n diens aan hulle te verskaf. Sy het dit met Gert bespreek en saam het hulle toe besluit dat sy ondersoek sou instel na die haalbaarheid om ‘n besigheid te begin om ‘n diens aan mede boere te lewer. Baie gou was dit duidelik dat daar nie net ‘n aanvraag daarvoor bestaan nie maar dat sy hulp sou benodig om dit goed te kan doen. Verdere ondersoeke het getoon dat die huis op die dorp in ‘n kantoor omskep kon word waar een persoon sou diens doen om al die koördineringstake vir Amanda te verrig. Terselfdertyd kon dit dien as kontrolepunt vir die ontvangs en aflewering van items aan gekontrakteerde boere.

Amanda het die dienste van die onderwyser uitgebrei om voorsiening te maak vir die ontvangs en afhaal van items wat vir hom ‘n ekstra inkomste beteken en minder uitgawes vir haar beteken het. Die diens het spoedig reaksie uit gelok en die boere en hulle mense het dit tot so ‘n mate begin gebruik dat daar ‘n bussie met ‘n sleepwaentjie aangekoop moes word om alles te hanteer. Die inkoste uit die diens het maklik die kostes gedek maar die grootste pluspunt was dat die kinders nou nog makliker aan skool aktiwiteite soos sport kon deelneem sonder dat die ouers kommer daaroor hoef te hê. Amanda het gou geleer dat jy nie te vinnig moet groei of nuwe dinge moes aanpak nie en sy moes baie boere wegwys omdat sy net nie kans gesien het om die diens te vinnig te ver uit te brei nie. Met handelaars wat ook bevoordeel word deur gesamentlike aankope kon Gert en Amanda vir haar ‘n diensfooi by die handelaars beding wat verdere inkomste vir haar beteken het. Die bank het daarop aangedring dat sy ‘n aparte rekening vir haar besigheid open en dat Gert ook sy persoonlike rekening koppel aan die boerderyrekening.

In die tussen tyd het hulle gesinslewe so ontwikkel dat dit moeilik was om te dink wat voorheen die geval was. Nie net het die kinders Gert as Pa aanvaar nie hulle het hom as hulle rolmodel gesien terwyl hy weer baie besitlik oor hulle geraak het en nie sou toelaat dat hulle in enige onaanvaarbare situasie sou kon beland nie. Saans na ete was gesels tyd wanneer elkeen ‘n kans gekry het om die van die dag te vertel en waar insette gelewer en ontvang kon word. Met die kinders wat deel was waar moontlik het hulle ook vinnige geleer dat hulle openlik met enigiets na Gert en Amanda kon kom. So gebeur dit dat Erika een aand baie stil voorkom en toe daar uitgevra word is dit net trane en vertel sy van die ou wat vir haar so aantreklik is en haar na slegs ‘n paar weke van maats wees nou vermy en maak of sy nie bestaan nie.

Amanda probeer troos maar dit help nie juis nie en Gert besluit om vir hulle ‘n storie te vertel en daarmee te probeer help. Hy vertel dat dit ‘n ware storie is en dat hulle mooi moet luister want hulle sal dalk kan raai wie van die mense in die storie was. Hy vertel: Daar was ‘n man wat baie hard gewerk het om ‘n mooi huis, kar, meubels en alles wat ‘n vrou mag begeer te kry en hy het gedink dat hy baie lief was vir haar om dit alles vir haar te doen. Hulle het saam gewoon en alles saam gedoen en drome gedroom en hy het gedink hy was op die pad na sukses. Een mooi aand kom hy by die huis na die dag se werk met die vooruitsig dat hulle twee saam kon wees en wat vind hy?

‘n Kort brief wat sê “ek is nie meer lief vir jou en totsiens”. Hy was baie seer gemaak en het gaan sit en wonder waar het dit skeef geloop? Na ‘n lang tyd se wonder kom hy toe tot die slotsom dat hy nog altyd die droomwerk gedoen het en sy net saam gery het sonder dat sy deel van sy drome was. Hy het besluit om ‘n groot skuif te maak en het weg getrek en op ‘n ander plek te gaan werk. Daar ontmoet hy die mooiste dame wat hy nog ontmoet het en sy wen sy hart en gee vir hom die mooiste twee kinders op die koop toe. Hy wonder toe hoe hy so dom kon gewees het want nou dat hy ware liefde leer ken het is dit so anders as dit wat hy vantevore gedink het liefde is en nou skyn die son mooier vir hom as wat hy ooit kon droom. Ken julle die ou?

Uitbundig skreeu hulle Ja dit moet jy en ons Mamma moet wees! Ja sê Gert en kyk nou net watter groot wins het ek net nie gemaak nie. Glo my sê hy vir hulle die seer van daardie tyd was daar want niemand voel lekker as jy verloor of afgewys word nie maar, en dit is wat belangrik is, jy moet in jouself glo en jy moet nie dat ander jou dag en jou toekoms bederf nie want more skyn die son weer en dan skyn die son op mooier en beter mense as wat ons gister gesien het en wat ons seer gemaak het. Heel te vrede staan Erika op en kondig aan dat sy nie gaan huil oor die ou nie want sy is nog baie jonk en dat daar nog baie kanse sal wees om iemand beter te kan ontmoet. So eindig ‘n gesprek wat hulle later die aand weer oor praat en Amanda vra of hy regtig bedoel het wat hy gesê het en hy vra of sy dan nie weet dat hy dit bedoel nie?

Die verhaal gaan aan maar moet die toekoms moet nog ontvou voordat die droom van vier mense verder gevoer kan word.

skrywer: Salie Marais

Hoofstuk 1 | Hoofstuk 2 | Hoofstuk 3 | Hoofstuk 4


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar