(Malles se eienaardige storie begin in Uitheemse sameswering.)
I’ve been drivin’ all night, my hand’s wet on the wheel
There’s a voice in my head, that drives my heel
It’s my baby callin’, says: I need you here
And it’s half past four, and I’m shifting gear
When she’s lonely and the longing gets too much
She sends a cable comin’ in from above
Don’t need no phone at all
We’ve got a thing that’s called Radar Love
We’ve got a wave in the air
Radar Love
Dié liedjie wat Maandag oggend oor Malles se klok-radio speel terwyl hy nog bietjie lê. Die dokter se gesprek maal weer deur sy gedagtes. Die oorsaak van die koma kon hulle nie bepaal nie, maar daar is geen opmerklike newe effekte van die ag maande se slapie nie. Die dokter het ook gesê dat hy nederig moet erken dat hy nie ‘n idee het wat die koma veroorsaak het nie, al het hulle honderde toetse gedoen.
Malles is net baie dankbaar dat hy nog gesond is. In elk geval het hy nou lank genoeg gerus en is eintlik opgewek om vandag weer by die kantoor aan te meld.
Na ‘n lang warm stort, trek Malles een van sy deftige pakke aan, hy wil ten minste op sy beste lyk vandag. Net voor hy sy baadjie aantrek, gespe hy die pistoolskouerband vas en maak seker dat die 9 mm se veiligheidsknip op is. Voor hy die pistool insit, staar hy daarna en voel die koue metaal aan die binnekant van sy hand. Hy kyk vir ‘n oomblik vir homself in die spieël en wonder of hy ooit eendag, as dit moet, die sneller sal kan trek terwyl hy die persoon aan die ander kant van die pistool in die oë moet kyk?
Met ‘n rilling skud Malles die gedagte af en sit die pistool in die sakkie en maak die knip vas. Hy loer vir oulaas deur sy plek voor hy die deur toetrek en sluit. Daar is gereël om hom te kom oplaai, so het Kaptein Snyman hom laat weet en wragtig waar daar staan die drywer reeds.
Malles staar na al die mense, terwyl hulle verbasend maklik deur die stad beweeg. Sy selfoon lui. Dit is die dokter wat wil weet hoe Malles vandag voel en dat as hy enigiets ongewoon ondervind, hy hom dadelik moet kom sien. Malles bedank die dokter vir sy besorgdheid en verseker hom dat hy wel dadelik sal kom indien hy nie goed voel nie.
By die kantoor moes Malles eers in die besoekersboek aanteken, aangesien die sekuriteitstelsel opgegradeer is en hy eers sal moet aansoek doen om ‘n nuwe toegangskaart. Soos hy Kaptein Snyman se kantoor nader, sien Malles dat die deur toe is. Hy kyk op sy horlosie. Hy is so paar minute vroeg en besluit om gou ‘n Camel te gaan brand.
Terwyl hy nog so in gedagte in die straat afkyk vanaf die rookstoep, hoor hy skielik agter hom ‘n opgewekte stem. “Malles, kom ek wil jou gou iets wys!”.
“Renê?” prewel Malles terwyl hy die Camel dooddruk en haar baie verward volg. Ongesiens glip sy by ‘n stoorkamertjie in en trek vir Malles aan sy hand agterna. Sy maak die deur vinnig toe en omhels hom. Steeds verward probeer Malles iets uitkry, maar sy druk haar wysvinger saggies op Malles se lippe en gee hom ‘n vurige, warm soen.
“Moet niks sê nie Malles, oor twee dae moet jy om presies drie uur by dié adres wees en al wat jy vir die persoon sê wat jou sal ontmoet is: “Azazel”.
Terwyl sy dit gesê het, het sy ‘n stukkie gevoude papier in Malles se binne-sak geplaas.
“Totsiens Malles” en uit by die deur is sy.
Malles haal diep asem en trek sy vingers deur sy hare. “Wat op aarde?” Hy haal die stukkie papier uit en vou dit oop: “Enigste Hawe, Plot 66, Weskant”. Malles het nie ‘n idee waar dit is nie en dink hy sal op ‘n kaart moet kyk. Hy vou die papier weer en plaas dit terug in sy baadjie se binne-sak.
Hy stap uit, kyk op en af in die gang of hy nie vir Renê sien nie, maar niemand. Hy skud sy kop ongelowig en gaan dan na die Kaptein se kantoor, die deur is nou oop en Malles klop liggies aan die deur terwyl hy die Kaptein beleefd môre sê. “Kom asseblief in Malles! Goeie môre, hoe gaan dit? Voel jy jouself al?”
“Ja dankie Kaptein”, antwoord Malles.
“Dit is goed so Malles, want ek het ‘n spesiale opdrag vir jou, hoogs geheim! So jy moet asseblief, soos jy natuurlik weet, glad nie ‘n woord uiter aan enige iemand behalwe aan my nie. Oor twee dae moet jy aan ‘n ondervraging deelneem. Daar gaan drie persone wees, jy, die ondervraagde en ‘n privaat agent bekend as Destro. Die plek en presiese uur sal ek aan jou bekend maak daardie oggend, telefonies. Enige vrae?”
Malles huiwer ‘n oomblik voor hy vra: “Kaptein, dié Destro, is hy betroubaar?”
Die Kaptein neem ‘n slukkie koffie. “Malles, volgens die inligting wat ek het, ja. Wat ek jou wel nog kan sê is dat Destro die ondervraagde sal bring en dat jy die vrae gaan vra. Hier is die koevert met die vraelys. Destro gaan glad nie praat nie en die ondervraagde moet weer saam met Destro gaan wanneer jy klaar is. Die ondervraagde se identiteit is ongelukkig nie bekend nie. Goed dan, ek praat weer met jou Woensdag-oggend.”
Malles staan op, met ‘n effense frons groet hy die Kaptein en loop. Hy het al in die verlede sulke ondervragings gedoen, maar met baie meer inligting. Dit klink heel eenvoudig, maar Malles se gut gevoel sê iets anders en skielik voel Malles bietjie naar.
Die aand lê Malles lank wakker en dink oor die dag. Die ontmoeting met Renê het soos ‘n droom gevoel. Hy vlieg op en sit die lig aan. Hy gaan kry sy kaart en begin soek na Plot 66 in Weskant en na ‘n wyle se gesoek, sien hy dit raak. Malles wonder intens wat hy daar moet gaan maak, maar dink dat hy tog sal gaan. Sy nuuskierigheid is net te groot. Hy hoop net dat daar genoeg tyd sal wees, want dit is nogal ‘n entjie se ry.
Dinsdag spandeer Malles ‘n paar uur by die skietbaan en die res van die dag verkeer hy rustig by sy woonplek en gaan bietjie die vraelys deur. “Heel normaal”, dink Malles.
Woensdag-oggend lui die selfoon hom wakker, dit is Kaptein Snyman. “Môre Malles, jy moet om 17h00 by Snake Valley wees. Die plek is deesdae verlate. Daar is ‘n ouerige kantoorgeboutjie aan die linkerkant. Jy sal dit sommer sien as jy by die groot hekke inry. Destro sal met ‘n wit Golf daar wees. As daar enige ander voertuig staan maak jy dat jy wegkom en kontak my dadelik, maar daar behoort geen probleme te wees nie. Kom rapporteer by my kantoor wanneer jy klaar is, ek sal vir jou wag”
“Goed kaptein, ek maak so”. Malles sit regop. Gelukkig is Snake Valley nie vêr vanaf Weskant nie, daar sal meer as genoeg tyd wees.
Teen twee-uur, toe Malles in sy motor klim, is hy al redelik op sy senuwees. Hy het sy roetes goed deurgegaan en weet presies hoe om te ry. Dit is n baie smal grondpaadjie na Plot 66 en soos Malles die hek nader sien hy die geroeste naambord “Enigste Hawe” in blou sierskrif. Hy ry stadig die tweespoor paadjie tot voor die bouvallige huis met ‘n groot voorstoep.
Malles klim uit en klim die drie trappies na die stoep. Hy haal diep asem en klop aan die die deur. Met die oopgaan van die deur staan Malles so effens terug en verwonder hom aan die ou man se lang grys hare, amper wit-grys.
“Middag oom” sê Malles vriendelik.
“Middag seun, waarmee kan ek help?”
Met ‘n half-senuagtige glimlag sê Malles die woord Azazel.
“O, goed. Kom gerus binne, ek het vir jou gewag.”
Malles stap in en kyk dadelik rond in die donker muwwerige sitkamer met ou verslete meubels en bloedrooi langhaar mat. Daar is niemand anders nie en daar heers ‘n doodse stilte.
“Wag asseblief net ‘n oomblik boet” sê die oom terwyl hy sleepvoetend die gang af loop.
Skaars ‘n minuut en Malles hoor weer die oom se sleepvoete in die gang. Hy gee vir Malles ‘n koeëlvaste baadjie, maar ‘n tipe wat Malles nog nie gesien het nie. “Sterkte boet en mooi bly.”
Met verbasing bedank Malles die oom en skud sy blad.
In sy motor sit Malles vir ‘n oomblik, stom geslaan! Soos hy by Enigste Hawe se hek uitdraai dink Malles eers weer helder en hou stil. Hy klim uit, trek sy baadjie uit, verwyder sy skouerband, trek die hemp uit en trek die koeëlvaste baadjie aan. “Genugtig! die baadjie is baie ligter as waaraan ek gewoond is” dink Malles terwyl hy sy hemp vasknoop. Hy gespe weer sy skouerband vas en trek sy baadjie aan. René moet sekerlik iets weet wat hy nie weet nie en Malles voel skielik ongemaklik oor die ondervraging wat nog voorlê. Hy haal sy pistool uit en kyk of die magasyn vol is. Voor hy die pistool weer terug plaas haal hy die veiligheidsknip af. Malles het dit nog nooit gedoen nie, maar het vandag ‘n snaakse gevoel oor die hele ding. Hy klim in sy motor en terwyl hy baie rustig in Snake Valley se rigting ry, rook hy ‘n paar Camels.
By die groot hekke kyk Malles dadelik links en sien die wit Golf voor die ou kantoorgeboutjie staan. Sy hart begin sommer vinniger klop en hy dink by homself dat hy nou sy kop moet hou, hy is immers net hier om ‘n paar antwoorde te kry en dan is dit verby.
Die deur is oop en Malles stap binne. Aan die ander kant van die leë vertrek is een van daardie opvou metaal tafels opgeslaan. Vasgemaak op ‘n stoel, aan die anderkant van die tafel, sit ‘n vrou met ‘n swart materiaal sak oor haar kop. Links van die tafel staan ‘n reus van ‘n man, met ‘n lang jas aan en sulke punt stewels. Malles knik vir die man en sê vraend: “Destro?” Die man knik net vir Malles en wys na die ander stoel wat voor die tafel staan. Malles gaan sit en vra vir Destro of hy die kopsak gaan verwyder. Destro skud sy kop heen en weer en Malles dink by homself of die man dan nou wragtig niks gaan praat nie! Miskien ook beter so.
“Hmm, dame? Ek gaan jou ‘n paar vrae vra. Antwoord asseblief kort en kragtig. Hoe vinniger ek my antwoorde kry, hoe vinniger kan ons klaarmaak, OK?” Sy skud haar kop op en af en prewel ‘n sagte, bewerige “Ja”.
“Goed, op die 19de Maart van dié jaar, waar was jy daardie dag gewees” Die moment toe sy begin praat, voel dit of Malles met ‘n emmer yswater gegooi word. Hy kan sweer dit is Renê se stem!
Malles voel nou baie senuagtig en kyk vir Destro wat net daar staan, koel en kalm, en Malles kan skielik die man se intense energie aanvoel. Koue sweet slaan op Malles se voorkop uit en hy vee sy voorkop af met sy voorarm. “Askies dame, herhaal net weer” Soos sy weer begin, stap Destro stadig na haar toe, kyk Malles in die oë en ruk die kopsak af. “Wat! Dit is René!” skree Malles terwyl hy in dieselfde oomblik opspring en sy pistool uitpluk. Asof in vertraagde tyd sien Malles hoe Destro sy jas wegpluk vanaf sy heup en ‘n afgesaagde 12-duim dubbelloop haelgeweer opswaai. Twee skote klap en dit raak donker om Malles.
Vyf minute later maak Malles sy oë oop. Destro lê op die grond met ‘n gat in sy oog waar die 9 mm dit deurboor het, maar Renê is skoonveld. Malles verval in ‘n beswyming.
“Wel Dr Snyman, soos u kan sien is pasiënt nr 66, Malles, die mees interessante geval van Dissosiatiewe Identiteitsversteuring wat nog waargeneem is. Malles is nou al vir twee jaar ‘n pasiënt by ons en dit is waarom ons u genader het vir hulp. U is immers die beste spesialis op die gebied.”
“Dink dokter u sal vir Malles kan help?”
(Malles se eienaardige storie begin in Uitheemse sameswering.)

lekker man, …lekker. Hoop daar volg nog.