Frotteurisme, ‘n parafilie, is maar een voorbeeld van ‘n hofmaakstoornis.
Die koop van duur diamantringe sou heel waarskynlik ook in hierdie DSM-IV kategorie kon val. Frotteurs vryf hulself teen of raak met opset aan niksvermoedende vreemdelinge ten einde seksuele prikkeling te ervaar. Hoewel enige stukkie lyf die gewenste effek sal hê, verkies hulle blykbaar om aan die drie B’s: borste, bene en boude te skuur of te vat.
Die meeste frotteurs is manlik (of die meeste mans is frotteurs?) en slagoffers is meestal vroulik.
Frotteurisme word gewoonlik in beknopte omgewings soos busse, hysers, treine en daghospitale gepleeg waar die gedrag maklik as nie-opsetlik geïnterpreteer kan word. Anders as in die geval van gewone vatterigheid, ervaar frotteurs hul gedrag as ontstellend en word hul sosiale funksionering ingekort deur die toestand.
Behandeling is problematies en betroubare statistiek oor hoe dikwels hulle deur die gesig geklap word, is nie beskikbaar nie.
