Stories van Malles: Uitheemse Sameswering, Deel 1

Inleiding
Dit is 1990 en Malles is besig met sy tweede jaar in die Jakarandastad, tydens sy militêre diensplig. In dié kortverhaal is sekere gebeure werklik en ander gewoon versinsel. Al die name in die verhaal is natuurlik skuilname.


Deel 1: Normaal word Vreemd
Die derde skril gelui van die telefoon laat Malles met ‘n ruk regop wakker skrik! “Wie kan dit wees so vroeg op ‘n Sondagoggend”, wonder Malles nog lekker deur die mis.

Malles: “Hello, Malles hier”
Mnr X: “Malles, dis X, jy moet asseblief na my huis kom. Ek moet dringend ‘n vlug vang en jy moet my Jan Smuts toe neem.”
Malles: “Goed mnr X, gee my so 30 minute. Is dit reg so?”
Mnr X: “Maak so gou as jy kan, OK! Sien jou!”

“Peeeep” maak die foon in Malles se oor.
“Wat de hel? Op ‘n Sondag?” Dit is die eerste keer in ag maande wat Malles in X se diens is.
“Mind you, X is nie homself die laaste paar dae nie. Dit is vandat die saak begin het van die prof wat in Suidwes vermoor is”, dink Malles so by homself. Die besoeke by X se kantoor van die twee advokate en die daaglikse 10 minute by Chappy (soos X hom noem), die hoof van polisie. En dan nog die geheimsinnige vergaderings by Krygkor!

Malles het al baie diplomaties by van die ander latte, wat dieselfde funksie verrig as hy, probeer uitvind, maar nie een van hulle wil praat nie, of weet regtig iets nie. Malles kon wel uitvind dat die twee advokate net vir die regering sake hanteer, maar verder niks, so asof niemand eintlik weet van hulle nie.

Na ‘n vinnige stort, om net die klein babbelas te verlig, is Malles op pad Irene toe. “Gisteraand se nagklub was fantasties saam met Renè! Ek is besig om verlief te raak! Sy is n wonderlike meisie, eintlik te wonderlik? Wel, dit was so lekker! Dis net jammer daai ex van haar, Deon, is so lastig! Gisteraand by die nagklub se kroeg was half eienaardig .”
Hy wou nog iets sê toe Malles hom voor die bors gryp en in mooi taal verduidelik hy moet sy ry kry!
“En toe sien ek hom darem nie weer nie. Plaas hy vergeet nou maar van Renè!”
Malles sien vir Renè omtrent al ‘n maand, en van die begin af het die vonke gespat tussen hulle.

“Maar ook ‘n snaakse ontmoeting gewees” dink Malles.
“Ek het nog so rustig in die restaurant by my eie gesit, wat sy toe reguit na my aangestap kom, en dadelik het ek opgemerk wat ‘n pragtige meisie!”
Renè: “Hi, is jou naam dalk Malles?”
Malles: “Hoekom?”
Renè: “Ag jammer om te pla, maar jy is die enigste man hier en daar is ‘n oproep vir Malles, vir jou?”
Malles: “O, dankie.”
Baie verbaas en verdag staan Malles toe maar op om te gaan antwoord, maar by die foon gekom is daar net ‘n besettoon aan die ander kant. Oppad terug na die tafel kyk Malles rond en sien dan nog drie ander mans.
Renè: “Reggekom?”
Malles: “Daar was niemand op die lyn nie, maar dankie in elk geval. Wat is jou naam?”
En met ‘n baie verleidelike glimlag sê sy toe, en daar gesels hulle land en sand. En Malles vergeet skoon van die eienaardigheid.

By X aangekom stop Malles die Toyota onder die boom soos altyd en sluit. Nog voor Malles by die voordeur is, kom X uit met een tassie. “More Malles, dankie dat jy gekom het. Kom laat ons ry”, en hy gee die Benz se sleutels vir Malles.

Op pad Jan Smuts toe maak X ‘n oproep, maar net voor hy die kartelefoon optel sê hy “Wat jy nou hoor, vergeet jy dadelik weer, goed?” En Malles antwoord “Natuurlik Mnr X, soos altyd.”
Tydens die gesprek met Chappy probeer Malles om nie te luister nie, maar hoor iets van die prof en ‘n hoogs geheime dokument wat van kardinale belang is.

By die lughawe groet X eny sê “Malles, Maandag om 14H00 land ek, dan moet jy hier wees asseblief. Dit is die vlug vanaf Suidwes. En nog ‘n ding, hou maar ‘n baie lae profiel.”

Oppad terug dink Malles dat hier iets groots besig is om te kook. “Maar dis nie sy worries nie. Doen jy net wat jy moet doen”, dink hy.

Terwyl Malles by die stad inry, kry hy ‘n gedagte om vir Renè te gaan verras. Hy stop by ‘n motorhawe wat hy weet blomme het en koop vir haar ‘n bossie gemengde blommetjies.

ReneMet die tweede klop aan haar deur maak sy oop en groet hom met ‘n blye omhelsing toe sy die blomme sien.
Renè: “Hene dankie my baby!”
Malles: “Net vir jou! Het jy lekker geslaap?”
Renè: “Ja dankie, en hoekom is jou so vroeg op?”
Malles: “Ag, ek moes gou ietsie gaan doen het. Het jy ontbyt?”
Renè: “Ek sal vir ons lekker ontbyt maak, lekker eiers, bacon en worsie. Was dit vir werk?”
Malles: “Dit klink fantasties, asseblief! Ja, mens kan maar so sê.”
Renè: “Moes jy iets vir X doen? Op ‘n Sondag? Wat gaan aan?”
Malles: “Hey, hou nou op so nuuskurig wees en maak daai brekkie!”

En Malles dink in die stillegeid dat sy darem deesdae baie vrae vra, maar op so manier dat dit amper klink of sy klaar die antwoorde weet.
“Aag, miskien verbeel ek myself net, die hele affère van die laaste paar dae maak my maar net senuweeagtig. Ek moet bietjie meer relax!”
Na ‘n heerlike kuier by Renè keer Malles terug na sy blyplek.

Net so voor hy sy voordeur wil oopsluit hoor hy ‘n ge-“ssppptt” vanuit die donker tuin. Met die omkyk sien Malles vir Deon, maar die ou lyk glad nie goed nie! Soos hy bietjie nader staan in die skyn van die stoeplig sien Malles hy is natgesweet, bleek en sy pupille is so groot soos pierings!
Malles: “Wat in die hel soek jy hier?”
Deon: “Luister … [kug kug] … ek moet jou iets sê … [kugkug]”
Malles: “Nee, luister jy nou vir my! Los my en vir Renè nou uit, anders gaan ek die Pote kontak, verstaan jy my?”
Deon: “Luister Malles … [kug kug] … sy … [kug] … Renè is ‘n [kug kug] … sy’s ‘n fokken alien!”
Met die gryp Malles vir Deon aan sy kraag en donner hom ‘n harde regter op die kakebeen en daar drop Deon soos ‘n sak patats. “Niemand praat so van Renè nie”, dink Malles. “Wat nou gemaak?”

Malles besluit toe maar om ‘n ambulans te ontbied en te sê hy het die vreemde man in sy tuin gevind toe hy by die huis kom. So gesê, so gedaan, en Malles raak daai aand aan die slaap met duisende vrae wat in sy brein maal.

Maandagoggend by die kantoor parkeer Malles oudergewoonte die Benz in X se privaat motorhuis en neem X se private hysbak na die 16de vloer. Met die stop van die hysbak onthou Malles hy het die koerant vergeet, al gaan X dit seker al vanoggend daar in Suidwes lees, dink hy dat hy maar steeds die Beeld sal gaan kry. Dan kan hy ook sommer nog ‘n pakkie Camel koop, want sy pakkie is amper klaar.
Terug by die werk loer Malles so vinnig in die koerant en by bladsy drie beswyk hy so byna. “Wat de joos?”
“ ‘n Ambulans is laat gisteraand deur ‘n anonieme oproeper ontbied om ‘n man op te laai. Met die aankoms by noodgevalle is die man dood verklaar. Sy naam is … Deon … !”
“Dit kan ontmoontlik nie wees nie! Deon het sleg gelyk, maar nie sleg genoeg om DOOD te gaan nie?”

(word vervolg) -> Stories van Malles: Uitheemse Sameswering, Deel 2

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply