Die Suzuki-Motorkorporasie beskik oor ‘n uitgebreide netwerk fasiliteite vir die vervaardiging, montering en verspreiding van voertuie wêreldwyd.
Die maatskappy se Japanese infrastruktuur bestaan uit ses aanlegte, tesame met ‘n navorsing- en ontwikkelingsentrum en ‘n afsonderlike, tegniese afdeling.
Die meeste van Suzuki se Japanese aanlegte is in die sentrale streek van Shizuoka geleë, digby die maatskappy se hoofkantoor in Hamamatsu, waar Suzuki oorspronklik gestig is.
Daar is drie aanlegte wat op die vervaardiging van passasiersvoertuie toegespits is: Kosai (passasiersmotors), Iwata (meerdoel- en ligte handelsvoertuie) en Sagara (motorenjins en gegote onderdele).
Suzuki beskik ook oor navorsing- en ontwikkelingsentra in Thailand, Sjina en Indië, met nog 29 vervaardigingsaanlegte in lande reg rondom die wêreld.
Die maatskappy se betrokkenheid strek van Noord- en Suid-Amerika, deur Europa, Egipte, Indië en Pakistan tot in die Verre Ooste, waar Suzuki ‘n aansienlike vervaardigingsprofiel handhaaf.
Die getal lande waar Suzuki-voertuie te koop aangebied word, is aansienlik groter. Suzuki se belangrikste verkoopsvennote en dogtermaatskappye word in die Verenigde State, Kanada, Mexiko, Australië, Nieu-Seeland, Frankryk, Italië, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Oostenryk, Spanje en Pole aangetref.
Vanaf Junie 2008 word Suid-Afrika ook ‘n trotse en integrale deel van hierdie internasionale netwerk.
Die modelreekse wat tans vir SA bestem is – insluitende die Swift, SX4, Grand Vitara en Jimny – word van Japan af ingevoer. Dit is egter moontlik dat toekomstige modelle, veral nog kleiner motors, deur Suzuki se Indiese filiaal, Maruti Suzuki Indië, aan die plaaslike mark voorsien sal word.
Maruti Suzuki het die laaste klompie jare voordeel getrek uit ‘n reuse belegging in navorsing, ontwikkeling, en produksietoerusting, wat gesorg het dat die maatskappy nou ‘n uiters belangrike vervaardigingsentrum vir wêreldmarkte is.
Suzuki Maruti se spesifieke fokus is juis die vervaardiging van Suzuki se huidige en toekomstige kleinmotorreekse, met uitvoere wat wêreldwyd versprei sal word.
‘N KLEM OP DIE OMGEWING
As ‘n ware wêreldspeler, is die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) ‘n voorstaander van ‘n wye reeks pogings om die omgewing te bewaar en te beskerm, asook om omgewingsbewustheid te bevorder.
SMK se sogenaamde ‘groen aksie’-veldtog is dekades lank al ‘n sleutelkomponent van die maatskappy se bedryfsfilosofie. Trouens, Suzuki het reeds in 1971 met omgewingsvriendelike vervaardiging begin, en het ook ‘n omgewingsbewaring-afdeling binne sy produksiedepartement gestig.
Sedertdien het SMK ‘n groot getal omgewingsbewaring-veldtogte van stapel gestuur, wat almal om die maatskappy se Wêreld-Omgewingshandves, en die gepaardgaande Omgewing-Aksieplan, wentel.
Dié plan bevorder die ontwikkeling van omgewingsvriendelike produkte, die uitskakel van giftige stowwe, voortdurende pogings om C02-uitlaatvlakke te verlaag, en voortgesette verbeteringe aan die brandstofdoeltreffendheid van Suzuki se algehele produkreeks.
Suzuki is byvoorbeeld besig om vullishope uit te faseer en ‘n groot getal herwinningsprogramme te implementeer, wat onder meer die sogenaamde End of Life-voertuigherwinningsprojek insluit.
Suzuki is ook voortdurend besig om praktiese programme vir die besparing van energie te ontwikkel, soos die gebruik van windaangedrewe kragopwekkers by sy Kosai-aanleg. Hierdie omgewingsvriendelike inisiatiewe is sedertdien na die hele SMK-vervaardigingsnetwerk uitgebrei.
Omdat dié verreikende vullisbestuur en herwinningsmetodes by elke aspek van Suzuki se bedryfsprogram ingeskakel is, het al Suzuki se Japanese aanlegte die streng ISO 14001-omgewingsbestuursertifikaat ontvang. Dié toekenning is ook deur baie van sy oorsese fasiliteite in lande soos Hongarye, Indië, Spanje, Kanada en Pakistan behaal.
Dieselfde benadering word ook deur al Suzuki se voorsieners gevolg, omdat hulle aan die bepalings van die maatskappy se Groen Aanskafbeleid moet voldoen.
Dit verseker dat onderdele en materiale wat in die produksieproses gebruik word, geen gevaarlike stowwe bevat nie en dat die voorsieners aktief betrokke is by daadwerklike omgewingsbewaring.
Op verbruikervlak is Suzuki se mees ooglopende omgewingsinisiatief die ontwikkeling van waterstof-brandstofselle vir die volgende geslag ‘skoon energie’-motors. Die maatskappy handhaaf ‘n tegnologie-vennootskap met General Motors in hierdie hoogs gespesialiseerde en hulpbrongedrewe veld.
Suzuki benut ook saamgeperste natuurlike gas (SNG)-tegnologie in van sy modelle – veral in die kleinmotorklas. Verkope van SNG-aangedrewe voertuie het in 2001 in Pakistan begin en word nou toenemend gewild in baie lande in Asië.
Nog vernuftige tegnologieë wat op motorontwerp en motorvervaardiging betrekking het, sluit in die gebruik van basterenjins, turboaangejaagde enjins met regstreekse inspuiting, veranderlike kleptydreëling, doeltreffende konstant-veranderlike ratkaste, gevorderde kragbronne wat van brandstofarme ontbranding gebruik maak, die pas van ‘n luierstopstelsel op sommige modelle, en elektriese aandrywing vir sommige gebruike.
BOBAAS-GEHALTE
Die gehalte van Suzuki-produkte word wêreldwyd hoog aangeskryf, gegrond op die maatskappy se onwrikbare fokus op die ontwikkeling van vaardighede, gevorderde produkontwikkeling en die aanwend van uiters kritieke gehaltebeheerstelsels.
Dit word ondersteun deur die oprig van ‘n groot getal nywerheidsopleidingsentra vir SMK en sy buitelandse filiaalmaatskappye, voorsieners en kleinhandelaars.
Daarbenewens benut Suzuki bykomende strategieë soos die oprig van ‘n klantediens-roepsentrum, meerdoelige werknemergerigte kommunikasie-aksies, en die toepassing van die ISO 9001-gehaltebeheerstelsel by sy onderskeie aanlegte.
Op verbruikervlak word SMK se onwrikbare houding teenoor gehalte duidelik uit die groot getal gehalte- en klantetevredenheid-toekennings wat Suzuki-produkte reeds regoor die wêreld ingepalm het.
In 2006 het Suzuki met ‘n klantetevredenheid-indeks van 79 persent die 16e plek algeheel in JD Power se Power League vir motorvervaardigers beklee, gemaklik voor baie voorste internasionale maatskappye. In dieselfde peiling het die Suzuki Liana-reeks (wat in 2007 uitgefaseer is) vyf sterre vir klantetevredenheid verower en boonop die derde plek in die rangorde vir individuele modelle beklee.
Daar is ook geen tekort aan pluimpies vir Suzuki se bestaande reeks puik voertuie nie. Veral die Swift het reeds ‘n groot getal toekennings ontvang sedert dié luikrug in 2005 sy buiging gemaak het.
As bewys van die motortjie se uitstaande kenmerke het die Swift reeds die Motor van die Jaar-titel in ‘n rits lande verower, onder meer in Brittanje, Australië, Japan, Uruguay, Indië, Ierland, Maleisië en Ysland.
Dié pryse word ondersteun deur die ‘Kleinmotor van die Jaar’-titels wat die Swift in Israel, Nieu-Seeland, Sjina, Singapoer, Slowakye, Taiwan, Brittanje en Maleisië verower het.
Dan was daar ook ‘n lang lys toekennings vir die Swift se waarde-vir-geld, stilering, brandstofdoeltreffendheid en modieuse ontwerp. Die Swift is ook in 2005 en 2006 as Japan se Pretmotor van die Jaar aangewys.
Die Suzuki SX4 sit die wentrant van die Swift voort en is reeds as ‘Sub-Kompakmotor van die Jaar’ en ‘Besbewaarde Motorgeheim van die Jaar’ in Puerto Rico aangewys, asook die ‘Vrouemotor van die Jaar’ in Pole en Intellichoice se toekenning vir die motor met die laagste loopkoste in die VSA vir 2007.
Die Grand Vitara-sportnutsvoertuig is ook ‘n wenner. Dit het ‘n ‘Beste Aankoop’-toekenning van die VSA se Consumer Guide ontvang en is ook as die voorste SNV in lande soos Rusland, België, Indonesië, Singapoer, Spanje, Oostenryk en Puerto Rico aangewys.
Hierdie uitstekende vertonings word onderskraag deur die eerste plek wat Maruti Suzuki Indië in JD Power Asia Pacific se klantetevredenheid-indeks vir 2007 ingepalm het.
Dié peiling bepaal die algehele vlakke van tevredenheid van motoreienaars wat hul motors in die eerste 12 to 18 maande van eienaarskap by hul amptelike handelaar of dienssentrum laat nagaan of laat versien het.
