Na die sukses van sy 1999 terugkeeralbum Die Wals van die Lewe (wat steeds goed verkoop) is Bobby Angel terug met nog ´n cd vir liefhebbers van countrymusiek, T’rug by my mense.
Daar is vyf Afrikaanse snitte en verskeie countrytreffers sowel as ´n paar splinternuwe nommers op die album wat Bobby ongetwyfeld weer die countrymusiek trefferlere sal laat klim. Die uitgewers Select Musiek sê die titelsnit is ´n gewisse treffer en “Altyd jy”, “Hoe gaan ek sonder liefde aan?” en “Die kleur van jou oë” gaan in die voetspore van Bobby se eerste Afrikaanse toptreffer Die wals van die lewe volg. Laasgenoemde is ook op hierdie album ingesluit aangesien dit so ´n reuse treffer op verskeie radiostasies is.
Bobby het sy eie treffer “Dream of me” heropgeneem vir die cd en ander snitte wat sonder twyfel byval sal vind is sy weergawes van die Don Williamsnommers “I recall a gypsy woman”, “Amanda”, “Some broken hearts never mend” en “You’re my best friend”. Bobby sing ook “Is this the way to Amarillo?”, “The old rugged cross” en “I like it, I love it” soos net hy kan.
Daar is ook twee duette saam met Lance James “Friends forever” en “Two cowboys” – ´n splinternuwe komposisie wat spesiaal vir Bobby en Lance geskryf is deur regisseur/verwerker/sanger Dennis East. Jurie Els is weer verantwoordelik vir die produksie en hy het ook die repertoire gekies en die Afrikaanse lirieke vir die vyf Afrikaanse nommers geskryf.
T’rug by my mense is die tweede Bobby Angel-album die afgelope 14 jaar en een waarop sy talle bewonderaars hulle hande sal wil kry.