Die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Jeani stel haar nuwe oorspronklike enkelsnit, “Sing”, bekend — ’n diep persoonlike lied oor vertroue, gehoorsaamheid en die moed om God te volg, selfs wanneer ’n mens nie kan sien wat voorlê nie.
Die lied is gebore uit ’n persoonlike seisoen van verandering waarin Jeani geleer het om stadiger te leef, doelbewus stil te word en God se stem te vertrou te midde van onsekerheid.
“Ek het besef hoe moeilik dit is om God se stem te hoor wanneer jou lewe voortdurend besig en lawaaierig is. Eers toe ek begin stadiger leef en doelbewus tyd maak om te luister, kon ek Sy stem duideliker hoor,” vertel sy.
Met beeldryke lirieke oor stormwolke, reën en ’n onbekende pad herinner “Sing” luisteraars daaraan dat God reeds die pad ken — selfs wanneer ons dit nog nie kan sien of verstaan nie.
Die lied verwoord die spanning tussen vrees en geloof: daardie oomblik wanneer ’n mens moet kies om te vertrou voordat die antwoord sigbaar is. Dit is ’n uitnodiging om nie deur onsekerheid stilgemaak te word nie, maar om steeds te glo, steeds te gehoorsaam en steeds te sing.
Vir Jeani is die lied nie bloot ’n musikale vrystelling nie, maar ook ’n getuienis van wat kan gebeur wanneer ’n mens ruimte maak om weer te luister.

