Onbetroubare edel
Malligheid, vertroue in die onbetroubare
Herhaling van aksies …
… die verlede …
‘n leerskool … veronderstelling en persepsie.
Geen konkresie,
Geen volhoubaarheid,
Geen verandering.
Alchemie is teoreties
Filosofies, maar goud smelt wel,
Edel in inbors, maar feilbaar,
druk, gekombineer met hitte.
Die vorm verander, die essensie bly dieselfde.
Ou liefde is nie nuwe liefde nie.
Dis bloot die rekonstruksie van dieselfde metaal,
wat nooit die druk van die intensiteit van die kookpunt, smeltpunt weerstaan nie.
Dieselfde wonde beur steeds na die oppervlak,
Smeltkroes van verwoesting,
Seer en vernedering,
Twyfelagtige wysheid veronderstel om na die oppervlak te beur deur ondervinding.
Dieselfde letsels,
Die komposisie bly dieselfde,
Wonde ook.
Die teendeel van die konsep – Alchemie,
Bewys deur die wonde … die kontroversie lê in samestelling.
Goud is edel, die veronderstelling.
Die vorm verander,
gepaard met dieper intensiteit van seerkry …
….die letsels bloei net weer tot die oppervlak…littekens met ‘n naam.
Skemer-hoop
As die maan kon brand –
As die sterre kon val en my siel verskroei,
As die uil se roep my hart se verlange kon eggo.
As die nag dalk helderheid kon bring sou my kop die kussing kon omhels …
maar dit bly ‘n hersenskim …’n moontlike, blote miskien …
Steeds wakker oë, gedagtes wat rondomtalie speel in die oggendure – ‘n stille herinnering van ontnugtering wat ‘n drogbeeld in die die donker optower …
hersenskimme van die verlede-tyd.
Soekend, smagtend na die verligting van die dag wat moet aanbreek.
Oggendson wat trane verdamp,
Die refrein van die voëls in die bome …
Dit verdryf amper die pikswart van die nag.
‘n Dou-druppel wat speel op ‘n blaar … reënboë en kaleidoskope van kleur,
byna asof die sonlig vuur in hulle kern optower … vuur wat dalk herinneringe tot as kan verbrand
Diep asemteue, sintuie wat absorbeer om binne my geheue vas te nestel …
Totdat die donker van die nag my
stadig bekruip.
My wapen, my kleinood om die donker se monsters te probeer trotseer.
Lig, donker, tou-trek – totdat een van die twee die ander finaal kan wen …
Skemer-hoop vir sielevrede.

Vreeslik mooi!!!