Skemer-hoop

As die maan kon brand –
As die sterre kon val en my siel verskroei,
As die uil se roep my hart se verlange kon eggo.
As die nag dalk helderheid kon bring sou my kop die kussing kon omhels …
maar dit bly ‘n hersenskim …’n moontlike, blote miskien …

Steeds wakker oë, gedagtes wat rondomtalie speel in die oggendure – ‘n stille herinnering van ontnugtering wat ‘n drogbeeld in die die donker optower …
hersenskimme van die verlede-tyd.
Soekend, smagtend na die verligting van die dag wat moet aanbreek.

Oggendson wat trane verdamp,
Die refrein van die voëls in die bome …
Dit verdryf amper die pikswart van die nag.
‘n Dou-druppel wat speel op ‘n blaar … reënboë en kaleidoskope van kleur,
byna asof die sonlig vuur in hulle kern optower … vuur wat dalk herinneringe tot as kan verbrand

Diep asemteue, sintuie wat absorbeer om binne my geheue vas te nestel …
Totdat die donker van die nag my
stadig bekruip.
My wapen, my kleinood om die donker se monsters te probeer trotseer.

Lig, donker, tou-trek – totdat een van die twee die ander finaal kan wen …
Skemer-hoop vir sielevrede.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply