Die Stellenbosch-gebore pianis en komponis, David Earl, keer terug na sy wortels om by die beoordelaarspaneel van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) aan te sluit. Hy is tans in Cambridge, Verenigde Koninkryk gebaseer.

      David Earl het reeds op 16-jarige ouderdom ‘n klavieruitvoering vir die SABC gedoen. ‘n Jaar later maak hy sy professionele debuut met die destydse Kaapstadse Simfonieorkes. Op 19-jarige ouderdom verhuis hy na London.

      Die kompetisie, nou in sy 41ste jaar, vind van 1 tot 6 Desember by die Endler-saal, Stellenbosch, plaas. Dit word in vyf kategorieë oor vier rondes beslis – klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente, en ander orkesinstrumente soos harp, slagwerk en marimba.

      Vanjaar is daar 11 pianiste, vyf tjelliste, drie saxofoonspelers, twee violiste, ‘n fluitspeler, marimbaspeler en ‘n hoboïs.

      Slegs 24 opkomende klassieke instrumentaliste tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar is vir vanjaar se wedstryd gekeur. Die NJMK-reëls bepaal dat daar nie meer as 25 kandidate gekies kan word nie.

      Direkteur van die NJMK, Prof Mario Nell van Stellenbosch Universiteit (SU), is die niestemdraende voorsitter van die paneel.

      Die ander beoordelaars is Emeritus Professor John Hinch (houtblasers), Pamela Kierman (houtblasers), hoof van die koperblaasafdeling by SU, Prof Catherine Foxcroft (klavier), hoof van musiek en musiekwetenskap Rhodes Universiteit, Samantha Durrant (strykers), die artistieke leier van die Odeion-strykkwartet en viooldosent by die Universiteit van die Vrystaat (UVS) Odeion, Berthine van Schoor (strykers),’n deeltydse dosent aan die Universiteit van Pretoria (UP), en Franklin Lewis (klavier en algemeen), ‘n gesoute opvoeder en akademikus met ‘n robuuste agtergrond in musiekopvoeding.

      Prof Nell en Samantha Durrant is voormalige NJMK deelnemers en pryswenners.

      Die paneel sal oor die vyf dae van die NJMK na nagenoeg 200 werke luister wat altesaam 25,25 ure sal duur. Hulle sal die 24 deelnemers individueel aanslaan. Die opkomende sterre ding mee om die gesogte titel, die R180 000 prysgeld, goud, silwer en bronsmedaljes.

      Die NJMK-wenner  en finale ranglys word kumulatief oor die vier rondes bepaal. Dit is die enigste kompetisie in Suid-Afrika waar die ses finaliste sake uitspook, onder begeleiding van die Kaapstadse Filhamoniese Orkes (KFO).

      Die finale ronde word by ‘n galakonsert op Saterdag, 6 Desember by die Endler-saal, Stellenbosch, beslis

      Toegang vir die eerste drie rondes is gratis. Kaartjies vir die finale ronde se galakonsert, is vanaf R110 by Quicket beskikbaar   https://www.quicket.co.za/events/342468-national-youth-music-competition-2025-finalists-gala-concert/?ref=events-list#/

Prof Mario Nell
Prof Mario Nell

Lewer kommentaar

Leave a Reply