Met sy splinternuwe enkelsnit, “Mielielande”, nooi Richann luisteraars om terug te keer na die eenvoud van liefde, die skoonheid van die platteland en die herinneringe wat vir ’n leeftyd by ’n mens bly.
Die lied het ontstaan uit ’n eenvoudige, maar besonderse idee van Richann se pa, wat hom aangemoedig het om ’n lied oor dans in ’n mielieland te skryf. Wat as ’n kreatiewe uitdaging begin het, het uiteindelik ontwikkel tot ’n romantiese liefdesverhaal waarin drome, liefde en die plaaslewe saamvloei.
“Het jy al ooit in ’n mielieland gedans? Ek het nog nooit daaraan gedink nie… tot my pa vir my die idee gegee het om ’n liedjie daaroor te skryf. Dis juis daardie droombeeld van twee mense wat onder die sterre tussen die mielies dans wat my geïnspireer het.”
Die storie word verder versterk deur die musiekvideo waarin Richann se verloofde saam met hom verskyn. Die twee het letterlik tussen die mielies gedans – ondanks die yskoue weer – om hul eie liefdesverhaal vas te vang.
Een van die mees betekenisvolle tonele in die video wys hoe sy haar tekkies verruil vir ’n paar vellies. Vir Richann simboliseer dié oomblik haar reis na die plaas en die nuwe hoofstuk wat hulle saam aanpak terwyl hulle voorberei om te trou.
Van die begin af was Richann se visie duidelik: “Mielielande” moes ’n egte sokkieliedjie wees – een waarop mense kan dans, saam sing en nuwe herinneringe skep.
Die aansteeklike melodie, opregte lirieke en warm plattelandse atmosfeer maak “Mielielande” ’n lied wat aanklank sal vind by liefhebbers van Afrikaanse musiek en almal wat glo dat die mooiste liefdesverhale dikwels in die klein, eenvoudige oomblikke geskryf word.
“Dis ’n liedjie oor liefde, die platteland en daardie eenvoudige oomblikke wat ’n mens nooit wil vergeet nie. Ek hoop dit laat mense saam sing, glimlag en miskien selfs droom om ook eendag in ’n mielieland te gaan dans.”

