deur Ferdi Wheeler
Die groep vrolike meisiekinders van so flussies kom skielik gillend en met uitroepe van: “Tommie, Tommie!” om ‘n draai in die wa-pad terug gehardloop. Die vroue wat die agterhoede vorm met hul wateremmers in die hand, vries in hul spore by die aanhoor van daardie een woord. Dan vlug hulle die veld in met die meisiekinders op hul hakke. Hulle bereik uiteindelik skuiling in ‘n kol bome, waar almal uitasem op hul hurke neersak.
Die meisiekinders babbel daar deurmekaar en dit kort die leier van die groep, die matriarg tant Marie, om hul stil te kry. Hul onsamehangendheid irriteer en maak haar bang.
“Ilze,” sê sy dan en draai na ‘n 16-jarige. “Wat gaan aan?”
“Daar’s ‘n Tommie te voet met ‘n pakmuil wat hy lei by die watergat. Hy’t op ons geskree. Ons het so geskrik!”
Tant Marie het genoeg gehoor en kyk vir ‘n vlietende oomblik veelbetekend na die vierstuks vroue saam met hulle. Ilze wil weer praat, maar tant Marie hou ‘n vinger voor haar mond, staan op en stap na die rand van die bome toe. Half verskuil agter ‘n boomstam, staan sy roerloos en wag om te sien of die Tommie, of miskien Tommies, wa-pad langs kom.
Miute later draai sy terug. “Ons moet terug in die grot kom,” sê sy saaklik, bewus daarvan dat sy nie paniek moet saai nie. “Julle meisiekinders hardloop vooruit en waarsku tant Sus om almal by haar in die grot verskuil te hou. Ons vier kom agterna.”
Die meisiekinders spring op en hardloop met swiesende rokspante deur die lang gras teen die koppie uit, na die bek van die grot toe. Gelukkig versper soutbosse en ‘n paar kareebome die ingang, sodat dit nie van ‘n afstand gesien kan word nie.
Omtrent vyftien minute later is die vroue en hul meisiekinders veilig en ongesiens terug in die grot. Maar die ongerustheid vreet aan klein en groot. Sedert die begin van die Boere-oorlog vlug hulle al te velde voor die Britse magte uit. In die beginjare is hulle genadeloos gejag en by tye selfs gebombardeer. Nou het hulle vir alle praktiese doeleindes die einde van die pad bereik. Die waens en karre staan noord van die koppie uitgespan, sonder trekdiere waarmee hulle hul vlug kan voortsit. Voëlvry soos hulle die afgelope jare was, staar hulle nou die einde in sig.
Dusver het die Boere-patrollies Britse konvooie voorgelê en die vrouens en kinders van oorlogs-buit voorsien. Met dié proviand het hulle oorleef, maar nou is dit reeds weke sedert die mans na hulle toe kon deurkom en staar hulle hongersnood in die gesig.
Terug in die bek van die grot, het hulle ‘n panoramiese blik oor die vallei daaronder en sien hulle tot hul ontsteltenis die Britse kolonne wat oor die valleibodem uitsprei. Almal in die grot drom in die bek saam en kyk verbouereerd na die toneel.
“Ons is vasgekeer,” sê Ilze.
Tant Marie kyk om haar rond. Maar die uitdrukkings op die gesigte vertel ‘n storie van vrees en neerslagtigheid. Almal is bewus van hul benarde posissie, selfs die drie kleuters onder hulle.
Tant Marie besef dat sy nou sterk moet wees. “Ons wag,” sê sy. “Hulle trek deur en teen more is die hele klomp weer weg. Dan kan ons gaan water haal en die mans sal weer vir ons kos bring. Niemand gaan uit die grot uit nie. Ons moet wag en sien wat gebeur,” sê sy en stap tussen die groepie deur na die agterkant van die grot toe. Vir ‘n oomblik bekyk sy die amper leë sak mieliemeel en die halwe emmer water. “Susters! Kom hier,” roep sy toe. Die res bly by die ingang en hou die vyand dop.”
Die ander vyf vroue skaar hulle rondom tant Marie. Hulle weet die kos en water is ter sprake. Daar is skaars genoeg vir die volgende maaltyd. Tant Marie kyk na hulle, maar die vroue verraai geen paniek nie. As moeders weet hulle om sterk terwille van hul kinders te wees.
“Die kinders kom eerste. Wat hier oor is, gaan eerste na hulle toe,” sê tant Marie saaklik.
Die ander knik net.
“Die water is kosbaar, maar weereens die drie kleinstes kry eerste gebruik daarvan. Ons sal net ons lippe natmaak. Vanaand maak ons pap op ‘n klein vuur hier, wat nie buite die grot gesien kan word nie. So, vir die res van die dag moet julle die kinders kalm en onder beheer hou.” Die vroue kyk na haar en nou is hul oë vol bekommernis. “Die Here sal voorsien,” sê tant Marie. “Elkeen moet nou net doen wat van haar verwag word.”
Die grot is enorm. Tot onlangs was dit nog deur Boesmans bewoon. Hulle self woon reeds langer as drie maande daar. Dis ‘n veilige hawe teen die elemente. Dit is egter alreeds Junie 1902 en die middel van die winter op die Vrystaatse Hooglande. Alle beskikbare klere en komberse word dus gebruik om die koue af te weer. Hulle groot vrees op daardie oomblik is egter die moontlikheid dat ‘n patrollie van die kolonne daar onder hulle kan ontdek. Ontdekking kan tot baie nare ervarings lei, veral in die hande van gewetenlose operateurs. Baie vroue en kinders is so in die oorlog verinneweer.
Uiteindelik is dit aand en tyd om ter ruste te kom. Die beddens van gras help teen die ongemak van die grot se klipvloer. Die beskikbare komberse word so effektief moontlik tussen groepies van twee of drie gedeel. Veral die vrouens slaap nie goed daardie aand nie. Die volgende dag bring meeste deur, deur rond te lê en ledig te wees. Soms sit hulle in die bek van die grot en kyk tussen die bome deur na die gewerskaf van die kolonne daar onder. Wit kloktente skiet oral op en oral is waens, karre, kanonne, perde, osse en die menigte troepe te sien. Dis ‘n rumoerige byeenkoms. Dis ‘n gelag, geskree, asook die klank van metaal op metaal, ‘n trompet en die gebulk van beeste. Teen nege uur die aand is dit egter stil daaronder. Enkele vure word helder geel aan die gang gehou en wagte is uitgepos.
Tant Marie se versugting dat die kolonne gou weer sal vertrek, is nie bewaarheid nie. Teen die aand van die tweede dag is dit nog daar. Tyd staan stil in die grot en die gewag is eindeloos. Hulle kon net sit en toekyk hoe meer en meer soldate by die kamp aankom. Terselftertyd realiseer die verwagte krisis met water en kos. Tant Marie neem weer die leiding en roep die vroue eenkant vir ‘n vergadering.
“Ons moet water kry,” sê tant Marie. “Ons sal dit net moet waag sodra dit sononder is. Die ellende gaan ons inhaal as ons nie iets doen nie. Anna, jy en Elsie moet hier bly by julle kleuters en sommer om ook na die ander om te sien. Die res van ons gaan water haal. Sodra die klomp in die kamp tot ruste kom, gaan ons.”
Almal stem saam, sonder om veel te sê.
Die suidwestewind waai liggies wanneer die vier vroue met hul emmers teen die heuwel begin afdaal. Daar’s net ‘n halfmaan en hulle moet noodgedwonge die wa-pad weer volg. Anna en Elsie hou hul vordering dop, totdat die vier deur die nag ingesluk word. Hulle bly met beklemde harte agter. Dit is miskien die laaste keer dat hulle hul vier susters sien. Nie een van die twee dink daaraan om te gaan slaap nie, maar hulle waak in die grotingang. Uiteindelik, in die vroeë oggend-ure, besef hulle dat iets drasties verkeerd geloop het, want die waterdraers daag net nie op nie. Hul aandag verskuif na die kamp, waar die waak-vure nog helder geel in die nag flonker.
Teen dagbreek sit die twee vroue nog steeds radeloos in die grontingang, hul arms koulik om hul lywe gevou. Die ouer meisiekinders is ook reeds op en sluit hulle by die twee aan. Hulle hoef nie vertel te word dat die vier nie terug is nie. Hulle bespreek nie die vele gruwels wat hul moeders en susters kon oorgekom het nie. Die kamp het intussen weer lewe gekry en die bedrywighede van die vyand is bekyk met die wete dat die dors en honger hulle binnekort sal dwing om hulle daar te gaan oorgee.
Dan skielik, omstreeks nege uur, is daar ‘n beroering in die kamp en kort voor lank stroom ‘n tiental ruiters uit die kamp uit en reguit in die rigting van die koppie.
“Hulle kom!” roep een van die meisiekinders uit.
Anna en Elsie spring vervaard op. Wat gaan nou gebeur? Is die vraag op almal se lippe. Maar hulle kan maar net die koms van die ruiters stilswyend staan en dophou. Toe hulle die wa-pad oorsteek, beveel Anna en Elsie die meisies terug in die grot in. Daar is nou geen twyfel dat die koms van die ruitergroep iets met die verdwying van hul vier susters te doene het nie. Hul skuilplek is klaarblyklik bekendgemaak. Die twee vroue gaan staan dus voor die bome by die grot se ingang en wag hulle in. Hul eerste gedagte is om te keer dat die ruiters by die grot na die meisiekinders toe ingaan.
Die ruiters trek hul perde voor die twee vroue in. ‘n Jong luitenant is in bevel van die groep. Hy begin met die vroue praat, maar hulle verstaan nie Engels nie. Hy draai in die saal om en roep een van die ander nader. Die aangespreekte is ene Johan Naudé, ‘n Boer wat al sedert die begin van die oorlog hom by die Britte aangesluit het.
“Vra hulle waar die ander is,” beveel die luitenant.
Naudé vertaal die bevel, maar die vroue weier om te antwoord en staar koppig voor hulle uit.
“Goed dan,” sê die luitenant en spring uit die saal. “Kom saam met my,” beveel hy vir Naudé en trek sy diensrewolwer uit die skede.
“Nee, nee!” skree die twee vroue en begin huil.
“Niks sal met julle gebeur as julle julle gedra nie,” blaf Naudé terwyl hy en die luitenant verby die twee druk en by die grotingang instap. Enkele tree die grot in halt die luitenant met Naudé wat oor sy skouer kyk. Voor hulle en agter teen die grotmuur vasgedruk en opgebondel, sit die verskrikte meisiekinders. Die twee vroue staan ook net binne die grot en hulle huil. Die luitenant druk die rewolwer terug in sy skede en draai na Naudé toe.
“Sê vir hulle die oorlog is verby. Hulle is vry om te gaan. Hulle kan na die kamp toe kom vir proviand en vervoer na Ficksburg toe,” sê die luitenant en marsjeer onseremonieel weer by die grot uit, bestyg sy perd en lei die res van die ruitergroep terug kamp toe.
Naudé verduidelik die situasie aan die vroue en meisiekinders. Die verblywendste nuus is egter dat tant Marie en die ander susters veilig in die kamp op hulle wag. Hulle is gedurende die nag deur wagte by die watergat opgemerk en aangehou. Dan vertrek hy ook.
Die feit dat die oorlog verby is en dat die Republieke verloor het, vul almal met gemengde gevoelens. Nou lag en huil die groep deurmekaar. Hulle was vry om te gaan, maar terselftertyd het hulle hulle politieke vryheid verloor. Terselftyd het hulle reikhalsend daarna uitgesien om weer met tant Marie en die ander susters herenig te word. Minute later stroom hulle by die grot uit en teen die koppie af na die kamp toe. Die winterson skyn helder op daardie oomblik en daar trek nie ‘n luggie nie en die pragtige wintersdag bemoedig hulle, veral na die klam en klaustrofobiese binnekant van die grot.
