Veldrenkoors is besig om Bloemfontein en die omliggende omgewing te pak met die Human Auto 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat belangrike nasionale motorsport op 22 en 23 Oktober na die Vrystaat terugbring.
“Die ren ding met die Absa-Curriebeker se laaste wedstryde mee en is ‘n besprekingspunt in Bloemfontein,” het die rendirekteur, Adri Roets, gesê. “Daar is ‘n sterk groep Vrystaat-gebaseerde deelnemers wat gereeld op nasionale vlak deelneem en veldrenne word goed in dié provinsie ondersteun.”
Die bykomende werk wat by die gewilde Stuck in the Mud-oord buite Bloemfontein gedoen word, is ‘n aanduiding van die belangstelling wat die ren geniet. Dié oord vorm deel van die Donaldson-voorren en die hoofren en behalwe vir die normale fasiliteite word ‘n biertuin en ‘n pawiljoen vir toeskouers opgerig.
“Hulle verwag ‘n groot skare en het ook bykomende parkering gereël,” het Roets, wat sê die roete is toeskouervriendelik, bygevoeg.
Absa sal Stuck in the Mud ook as een van hul aktiveringpunte langs die roete gebruik. Entoesiaste kan die Absa-bymekaarkomplek by Stuck in the Mud asook ander uitkykpunte besoek waar hulle vir kompetisies kan inskryf en opwindende pryse kan wen.
Die South African National Off Road Car Racing-Assosiasie het die plaaslike belangstelling in die ren tot hul voordeel aangewend deur ‘n Streeksuitdaging-kategorie vir deelnemers in die Noordelike en KwaZulu-Natal-streekskampioenskappe daar te stel. Die Streeksuitdaging sal nie vir die kampioenskappe tel nie en deelnemers hoef net een van die roete se sirkelroetes te voltooi.
“Tydens onlangse byeenkomste was daar gereeld ‘n groep van die Noordelike Streke wat goeie resultate in die nasionale reeks gelewer het,” het die voorsitter van die Assosiasie, Richard Schilling, gesê. “Deur gekose streeksbyeenkomste tesame met die nasionale renne aan te bied, het die geskikte uitwerking gehad en die Vrystaat-ren bied nog ‘n geleentheid aan streeksdeelnemers om die nasionale kultuur van beter te leer ken.”
Die Human Auto 400 sal by die Willow Casino buite Bloemfontein gebaseer wees. Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt asook die aangewese diensunt sal ook by die kompleks gebaseer wees.
Die Donaldson-voorren wat die wegspringposisies vir die hoofren bepaal, sal op 22 Oktober om 12:00 begin terwyl die ren Saterdag, 23 Oktober om 08:30 sal afskop. Publieke toegang tot die begin- en eindpunte, die aangewese dienspunt en die toeskouerpunte op die roete is gratis.
bydrae: Charmaine Fortune
