Christine wil van Frikkie, haar man, ontslae raak. Moord maak meer sin as egskeiding, veral nadat hy baie geld op die Lotto wen wat hy nie met haar deel nie, maar dan trek daar ’n geskeide man met ’n volwasse dogter langs haar in.

Wanneer Frikkie op ’n onverklaarbare wyse by die trap in die huis afval, is die speurders en Christine suspisieus oor haar nuwe buurman.

Christine, nou die ryk weduwee, trou gou weer en trek saam met haar nuwe man na ’n veiligheidslandgoed. ’n Eertydse kollega van Christine, Zebith, is haar nuwe buurvrou. Mettertyd kom Christine agter dat die huis waarin sy en haar nuwe man bly, ’n bloedige geskiedenis het.

Zebith ken die geskiedenis en was betrokke by die inwoners. Sy ly aan postraumatiese stres en wroeg omdat sy skuldig voel oor wat in die huis langs hare gebeur het. Saam met die skuldgevoel moet sy ook die pyn van haar gebroke hart hanteer.

Die twee buurvroue het albei die mans saam met wie hulle gewoon het, verloor en albei het skouers geskuur met gewelddadige dood. Daar kan tog nie nog onvoorsiene tragedies vir hulle voorlê nie?

Domestic noir: Elders het boeke soos The girl on the train, wat as domestic noir bekendstaan, opslae gemaak. Hamersma val ook in die kategorie. Die versmorende effek van die huishoudelike alledaagse is die hoofbron van konflik. Hamersma se boek het egter ’n unieke storie, reg vir die Suid-Afrikaanse mark.

Chanette Paul, LAPA Uitgewers se manuskripontwikkelaar, sê: “Dis altyd verblydend wanneer skrywers nuwe genres in Afrikaans aanpak. Die noir-genres, en spesifiek domestic noir, is deesdae baie gewild. Ek is dus bly Elsa het hierdie tendens op die proef gestel.”

Die Mense Langsaan / Elsa Hamersma — LAPA, Mei 2017; sagteband. — ISBN 9780799383508

2.5

Lewer kommentaar

Leave a Reply