’n Uittreksel uit Broedertwis, deur Albert Blake:
Die repatriasie- en kompensasietwiste wat die eerste paar jaar ná die oorlog gewoed het, het die diep kloof tussen die twee De Wet-broers nogmaals uitgewys. Tienduisende krygsgevangenes, wit en swart konsentrasiekampbewoners, bittereinders, joiners, uitlanders en ander burgerlikes is tydens die oorlog ontwortel en moes hervestig word.
Die repatriasie van die bewoners van die voormalige Boererepublieke was nie veronderstel om ’n politieke skema te wees nie, maar ’n noodsaaklikheid om ’n ontwrigte samelewing weer te normaliseer. In die oë van die bittereinders en hendsoppers wat nie die wapen teen hul volksgenote opgeneem het nie, sou die Britse beleid om dit te bewerkstellig in ’n groot mate misluk en ’n bron van erge ontevredenheid wees. Die meeste joiners sou egter die behandeling aanvaar wat hulle in dié verband van die Britse owerhede ontvang het.
Die repatriasie-en-kompensasieprogram het die Britse regering altesaam sowat £16 miljoen uit die sak gejaag. Ooreenkomstig art. 10 van die Verdrag van Vereeniging het dié regering £3 miljoen sowel as rentevrye lenings van bykans dieselfde bedrag aan die Boere bewillig. Die £3 miljoen en lenings moes aangewend word vir die hervestiging van die ontworteldes, basiese hulpmiddele moes daarmee verskaf word en dit moes as vergoeding vir oorlogskade dien.
Die Britte en die verslane Boere het die dieper betekenis daarvan uiteenlopend vertolk. Die bittereinders het die kompensasie gesien as ’n plig wat die Britte, as die aggressor, moes nakom. Die Britte het dit weer as ’n vergunning beskou om die land te help opbou, al was dit volgens hulle nie hul plig as oorwinnaar nie. Die oorwegende doel met die Britse heropbouprogram was egter om die produksiepeil van die goudmyne te herstel en daarna ook te verhoog ‒ daarvoor was ’n stabiele en gemoderniseerde land noodsaaklik.
Die hoogs omstrede wyse waarop die Milner-administrasie die vertolking en uitvoering van art. 10 van die vredesverdrag gehanteer het, het bitterheid onder die oorgrote meerderheid burgers van die voormalige republieke meegebring. Daar was botsende interpretasies van watter dele van die volk op kompensasie uit die £3 miljoen (bekend as die Burgher Fund) geregtig was. Vir die Boere-onderhandelaars was art. 10 duidelik slegs vir die hervestiging van die bittereinders en krygsgevangenes bedoel. In die lig daarvan dat die joiners nie op die beraad by Vereeniging verteenwoordig was nie, het die Boereleiers aangeneem hulle sou geen voordeel uit die fonds trek nie.
Volgens die Britse vertolking van die woord “volk” in art. 10 kon egter nie net die bittereinders en krygsgevangenes nie, maar ook die hendsoppers en joiners betalings uit die fonds verwag. Die onregverdigheid van die beleid is beklemtoon deur die feit dat die hendsoppers en joiners ook baat gevind het by ’n tweede fonds waarvan die bittereinders uitgesluit is. Daarvolgens kon die hendsoppers en joiners aanspraak maak op voordele uit die Protected Burgher Fund (wat voorheen as die Military Compensation Fund bekend gestaan het), ’n spesiale fonds van £4,5 miljoen.
Die joiners is nog verder bo die hendsoppers, terugkerende krygsgevangenes en bittereinders bevoordeel deurdat burgers wat in die oorlog aktief in Britse militêre diens was, ook kon eis uit ’n derde, spesiale fonds van £2 miljoen wat vir Britse onderdane, neutrale uitlanders en swart mense bewillig is. Dit spreek vanself dat hierdie bevoordeling die bittereinders geweldig gegrief het. In hul oë is die joiners daardeur beloon vir wat hulle as ’n onetiese daad van die ergste aard beskou het.
Om geld vir oorlogsverliese toe te ken was op sigself ’n komplekse saak wat vererger is deur die onbehoorlike bevoordeling van sekere groepe. Dié aspek sou tot groot konfrontasie tussen Christiaan de Wet en Chamberlain lei met dié se besoek aan Suid-Afrika aan die begin van 1903. Piet de Wet se toetrede tot die stryd sou die vuur behoorlik stook. Elkeen van die broers sou namens hul groepe ’n leidende rol in die geskil speel, wat die tafel sou dek vir ’n voortgesette en venynige naoorlogse broedertwis.
Lord Milner het nie ’n oomblik gewag om Britse opperheerskappy meedoënloos op die verowerde gebiede af te dwing nadat kroonkoloniebestuur die militêre bestuur vervang het nie. Milner het Chamberlain laat weet hy het dit selfs nie in belang van versoening gerade geag om vir Christiaan ’n setel in die Oranjerivierkolonie se wetgewende raad aan te bied nie, want dan sou hy ook sy broer Piet moes nader, wat in ’n voorspelbare, voortdurende twis tussen die twee sou ontaard. Hy het Chamberlain voorts laat weet die De Wet-broers sou buitendien nie as wetgewers vir hom ’n bate wees nie. Die wetgewende raad het gevolglik uit Britse amptenare en lojale owerheidsgenomineerde lede bestaan.
In Transvaal is genls. Louis Botha en Jan Smuts wel uitgenooi om in die wetgewende raad te dien, maar hulle het geweier om die aanstelling te aanvaar. Daar kan aanvaar word dat Christiaan dieselfde sou doen, terwyl daar geen rede vir Piet sou wees om so ’n amp te weier nie. Sy gesindheid van welwillendheid teenoor Chamberlain en Milner was destyds deurentyd duidelik.
Terwyl pres. Steyn en sy vrou, Tibbie, nog in Europa was, ontvang sy verkeerdelik inligting dat Piet de Wet en S.G. Vilonel in die Oranjerivierkolonie se wetgewende raad opgeneem gaan word, waarna sy haar bitter gevoel oor die joiners in ’n brief aan ’n vriend, ene dr. Brown, uitspreek. Haar mening gee ook ’n aanduiding van die bittereinders se kommer oor die moontlike gesag wat die Britte kort ná die oorlog aan die joiners kon gegee het: “A ‘handsupper’ we can still forgive, but oh, as regards a National Scout that is a very different matter. You can never realize, Doctor, what a dagger seemed to pierce our hearts every time we met Boers in Khaki and what a pity and contempt one felt for them. That they will live to regret the day they became traitors to their own flesh and blood it is as sure as the sun shines in the Heavens. I assure you it will add to my happiness if I may never see or meet a National Scout …”
Die ontevredenheid oor Chamberlain en Milner se uitleg en uitsprake oor die wyse waarop die £3 miljoen uitbetaal moes word, is in die praktyk vererger deur die onbeholpe sentrale en distriksrade wat die administratiewe uitvoering daarvan op grondvlak moes hanteer. Die oorheersend Engelssprekende rade was meestal onbekwaam en het ooglopend ’n onsimpatieke gesindheid teenoor veral die bittereinders se repatriasie- en kompensasie-eise getoon. Boonop het korrupsie voorgekom. Die ongevoeligheid teenoor die platgeslane naoorlogse Afrikaners wat beswaarlik ’n oorlewingsbestaan kon voer, het ’n onversoenbare gesindheid aangehelp.
Teen Augustus 1902 is twee addisionele spesiale repatriasierade, een vir Transvaal en een vir die Oranjerivierkolonie, in die lewe geroep met die uitsluitlike doel om die joiners prakties by te staan. In dié opsig het nie net die bittereinders en terugkerende krygsgevangenes nie, maar ook die hendsoppers wat nie die wapen teen hul eie mense opgeneem het nie, weer eens aan die kortste ent getrek. In Bloemfontein het kapt. P.H.J. Blakemore, voormalige Britse bevelvoerder van die ORC Volunteers, aan die hoof van die Oranjerivierkolonie-repatriasieraad vir joiners gestaan. Piet de Wet het ’n prominente rol as lid daarvan vervul. Hy het die werk met besondere ywer vervul en in die proses kruis en dwars deur die gebied gereis. In September 1903 het hy £113 vir sy dienste as amptenaar van die repatriasieraad ontvang. Van die geld het hy gebruik om waens en muile van die repatriasieraad te koop. Piet het ook in ander hoedanighede vir die repatriasierade opgetree. Dit kan wees dat hy ook ander vergoeding vir hierdie dienste ontvang het.
Die spesiale repatriasierade het afsonderlik van die siviele administrasie gefunksioneer, maar nou daarmee saamgewerk. Die taak van die spesiale rade was om spesiale hervestigingshulp aan die joiners te verleen. Daardeur het die joiners voorkeurbehandeling in die gewone plaaslike repatriasierade ontvang. Die meeste joiners was voor die oorlog bywoners en soms ongeletterd. Tog het hulle bo ander voorkeurwerk in die polisie, spoorweë, as tronkbewaarders en in ander staatsdepartemente gekry. Hulle is ook op ander maniere bevoordeel. Hulle het makliker rantsoene, addisionele saad, vee, ploeë en waens ontvang. Nedersettings vir die joiners en hul gesinne is ook op verskeie plekke gevestig. Piet was self betrokke by die beplanning van so ’n nedersetting teenaan die Valsrivier, wes van Kroonstad. Die beoogde nedersetting sou op sy vennoot in De Wet & Co., Barend Schutte, se plaas, Schuttesdraai, en die buurplaas, Alettasdraai, gevestig word. Die beoogde skema het op die nippertjie deur die mat geval toe Schutte nie ’n verband oor sy plaas as sekuriteit vir sekere staatsuitgawes wou gee nie.
Die bevoordeling van die joiners het selfs nog verder gegaan as kompensasie uit die bogenoemde drie fondse. Piet en die ander joiners het elkeen bykomende goedere ter waarde van £50 van die twee spesiale repatriasierade ontvang. Volgens ’n uitbetalingskwitansie het Piet iewers ná Augustus 1903 die volgende goedere ter waarde van ongeveer £50 vanaf die ORC Volunteer Repatriation Board ontvang: twee perde, vyf sakke mielies, vyf sakke meel, vier sakke perdehawer, een pak suiker en kerse.
Piet is ook ruim uit die ander fondse soos die Protected Burgher Fund en die derde fonds hierbo genome, vergoed. Die totale bedrag wat hy ontvang het, is moeilik bepaalbaar aangesien hy van die eise reeds tydens die oorlog en ander in verskillende hoedanighede ingestel het. Luidens die dokumente wat gevind kon word, het hy onder meer in die toegekende £300 van die De Wet & Co.-eis gedeel; ’n uitbetaling van £1 264 uit die Protected Burgher Fund ontvang; ’n verdere £200 uit die Protected Burgher Fund en benewens die goedere ten bedrae van £50 vanaf die ORC Volunteers Repatriation Board, enkele ander kleinere bedrae ontvang.
Te oordeel na die waarde van sy bates voor die oorlog is hy na alle waarskynlikheid ten volle vergoed uit die kompensasiefondse, benewens die inkomste en voordele wat hy verkry het uit sy dienste vir die Britte tydens die oorlog asook in die naoorlogse repatriasierade. Al dié toevallings het hom nie noodwendig welvarend gemaak nie. Sy posisie was nietemin aansienlik beter as dié van die meeste bittereinders en krygsgevangenes, van wie baie heeltemal finansieel geruïneer is en nooit daarvan sou herstel nie.
Emily Hobhouse het in 1903 op ’n besoek aan Christiaan en sy gesin op hul plaas Roodepoort in die Heilbron-distrik gevind hulle voer ’n eenvoudige bestaan en moet met karige middele in hul basiese behoeftes voorsien. Christiaan is, in sy eie woorde, van finansiële ondergang gered deur die inkomste wat hy uit die tantième vir sy boek ontvang het.
Die vraag ontstaan in watter mate Piet altruïsties was in sy betrokkenheid by die repatriasie- en kompensasieskemas. Hoewel hy probeer het om die joiners en hul gesinne te help, was daardie hulp nie vir ander behoeftige Afrikaners bedoel nie. Die joiners het maar ’n baie klein persentasie (minder as 6 000) van die groottotaal burgerlikes verteenwoordig wat ook die krygsgevangenes (sowat 30 000), bittereinders (tussen 17 000 en 20 000) en ’n onbekende aantal hendsoppers ingesluit het. Piet het dus nie geskroom om ’n klein minderheidsgroep voormalige burgers en hul gesinne te laat bevoordeel ten koste van die grootste gedeelte van die Afrikaners wat dit reeds bitter swaar gehad het nie. Dit kom dus voor asof sy hardvogtigheid teenoor die bittereinders en hul gesinne ná die oorlog voortgeduur het.
In die algemeen was die joiners tevrede met die behandeling wat hulle ten opsigte van repatriasie ontvang het, maar dit was nie die geval met die bittereinders en terugkerende krygsgevangenes nie. Dit was veral die uitbetaling van die kompensasie-eise wat ontevredenheid onder nie net die bittereinders nie, maar ook die hendsoppers wat nie die wapen teen hul eie mense opgeneem het nie, veroorsaak het.
Amper 11 dekades ná die einde van die Anglo-Boereoorlog het ek die land as deel van my navorsing vir die boek Boereverraaier deurkruis op soek na plekke waar joiners deur bittereinders tereggestel is. Wat my bygebly het, is dat daar in sekere distrikte steeds beweer word die nasate van afvalliges geniet tot vandag die voordele danksy onregverdige kompensasie-uitbetalings wat hul hendsopper- of joinervoorouers ontvang het.