Pastoor Scholls trek sy toga uit en ander stories

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Vir dié wat soek na lekker ligte leesvermaak wat tog ook pitkos bevat oor ´n unieke deel van die Suid-Afrikaanse samelewing is Karel Benjamin se versameling van 20 stories uit die Wes-Kaap dalk net die ding. Benjamin het in 1996 sy debuut gemaak met Staan uit die water uit! – ´n Kaapse jeug en hy volg dit op met dié versameling wat nog meer prettig gemaak word deur die lyntekeninge van Piet Grobler.

Benjamin is ´n baasverteller wat sorg vir skreeusnaakse staaltjies – van kwaai pastore wat nie die roede gespaar het nie, deur sterflinge wat die versoeking van die vlees nie kon weerstaan nie tot by ´n paar spookstories. En oor alles lê ´n fyn laag menslikheid.

Benjamin sê dinge raak in Kaaps-Afrikaans. Dis outentieke volkskuns waarin ons werkers en arbeiders ontmoet wat die swaarkry met lekkerkry klaargekry het. Hy het ´n diep deernis met sy karakters en hulle omstandighede en vertel van gebeure en mense wat lank reeds verby is en wat sonder sulke vertellings aan die geskiedenis verlore sou wees.

Karel Benjamin is ´n verwer en nutsman wat sy eerste boek op die ouderdom van 68 geskryf het. Hy is ´n kleurvolle karakter en storieverteller wat naby die ou Distrik Ses in Kaapstad woon.

Pastoor Scholls trek sy toga uit en ander stories word uitgegee deur Kwela Boeke.

Lewer kommentaar

Leave a Reply