Queen of the Desert

Queen of the Desert

Emosioneel en ’n slagoffer van onbeantwoorde liefde, verfilm teen ’n landskap van sand, baie sand. Dit is wat Werner Herzog maak van ’n vroulike historiese figuur.

Met die intrapslag het ek verwag sy vaardighede as dokumentêre filmmaker gaan sorg vir iets interessants, maar dit het nie lank gevat vir die film om te ontrafel nie. Net daar waar die karakter se storie begin in Engeland. ’n Adellike, maar roekelose, jong dame met ’n hunkering na iets meer. Gepoeier en geverf en met perfekte hare wat skree “sluimerende prinses”.

Queen of the Dessert probeer die verhaal vertel van Gertrude Bell wat hier rondom die Eerste Wêreldoorlog ’n belangrike rol gespeel het op grondvlak in die politiek in die Midde-Ooste tydens die verval van die Ottomaanse Ryk. Herzog maak egter van haar ’n vrou wat uitgelewer is aan die lot van haar liefdeslewe. ’n Objek wat teen die agtergrond van die die woestyn moet mooi lyk op kamele met hare wat fladder in die wind, kop gedraai met die perfekte hoek na die kamera, ’n skalkse glimlag op die regte tyd. Nicole Kidman help ook nie juis nie, want dit lyk asof dit al is wat sy probeer doen.

Slegs Robert Pattison (kan jy dit glo) en Damian Lewis lyk oortuigend in hul rolle. Die ander hoogtepunt, hoewel oorbenut deur Herzog, is Peter Zeitlinger se kinematografie. Ten spyte van al die melodrama waarvoor dit gebruik word is Zeitlinger se werk beslis treffend.

Gertrude Bell was ’n besondere individu in meer as een opsig, diplomaat, reisiger, skrywer, digter en argeoloog. Hopelik sal iemand eendag reg laat geskiet aan haar storie. My laaste woord oor Werner Herzog se poging is: Klaus Kinski in ’n rok sou dit beter doen.

Ps. Vir Herzog (en Kinski) in beter dae probeer Aguirre, der Zorn Gottes (1972).

Regisseur: Werner Herzog
Met: Nicole Kidman, James Franco, Damian Lewis, Robert Pattison

Kinematografie: Peter Zeitlinger

4/10
Queen of the Desert
Queen of the Desert

Queen of the Desert
Drama

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar