The Adderall Diaries

The Adderall Diaries

The Adderall Diaries raak interessante filosofiese vrae aan en postuleer van meet af: die waarheid is subjektief.

Dit kon interessant gewees het, was dit nie dat Pamela Romanowsky aangejaag het nie. Ons kan Romanowsky blameer vir die film se tekortkominge. Sy is nie net regisseur nie, maar het ook die oorspronklike memoir van die skrywer Stephen Elliot verwerk in ’n draaiboek.

Om mee te begin vervreem sy die karakters van die kyker. Die vertolkings is goed, maar die karakters kom nooit tot hul reg nie.

James Franco speel die rol van Elliot, wat ’n byderwetse en baie gemaklike lewe voer, of hoe jy ook al iemand beskryf wat sy koffie met die hand maal in sy industriële styl dakwoonstel in Brooklyn en meeste van die tyd net Deth Killers-klere dra.

Elliot is ’n beroemde skrywer wie se faam gebou is op sy eensydige persepsie van sy jeug, een wat verskil van die van sy pa (Ed Harris) en sy beste vriend. Intussen smeer hy hom af aan sy redakteur (Cynthia Nixon) en die boek wat hy veronderstel is om te skryf en is effe obsessief met die hofsaak van die skatryk vermeende moordenaar Hans Reiser (Christian Slater). Natuurlik is daar ook tyd vir romanse met Amber Heard – wie sou nie tyd hê nie.

Daai punt waar jy besef jy sit en kyk nou na die gesanik van ’n klomp gefolterde hipsters is waar die film meeste van sy trefkrag verloor. Dit spreek interessante kwessies aan wat amper tot uiting kom in die tonele waar Franco en Harris teenoor mekaar speel, as dit net nie so oppervlakkig was nie. Om alles te kroon ruk Romanowsky al wat ’n kunsfilm-cliché is uit die hoed net om die film nog meer na lapwerk te laat lyk.

Goeie idee, maar die uitvoering was swak.

Regisseur: Pamela Romanowsky
Met: James Franco, Ed Harris, Cynthia Nixon, Amber Heard, Christian Slater, Wilmer Valderrama
5/10
The Adderall Diaries
The Adderall Diaries

The Adderall Diaries
Drama

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar