Vicky Cristina Barcelona

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Met: Scarlett Johansson, Penélope Cruz, Rebecca Hall, Javier Bardem, Patricia Clarkson, Carrie Preston en Kevin Dunn
Regisseur: Woody Allen

Lank, lank gelede het Woody Allen films gemaak wat mens werklik geniet het. Sedertdien was sy bydraes maar vervelig. Toe, op ‘n dag, skryf hy Vicky Cristina Barcelona.

Twee Amerikaanse vriendinne, Vicky (Rebecca Hall) en Cristina (Scarlett Johansson), besluit op een laaste vakansie saam voor Vicky trou. Hulle is skaars van die vliegtuig af wanneer hulle die kunstenaar Juan Antonio (Javier Bardem) raakloop. Hy nooi hulle vir ‘n naweek van goeie kos, wyn en seks.

Die vriendinne se reaksie op Juan se uitnodiging weerspieël hulle uiteenlopende persoonlikhede. Vicky wil dadelik die polisie bel, terwyl Cristina haar tasse wil pak vir die naweek. Verder kan mens nie veel meer vertel sonder om te veel van die storie te verklap nie. Op ‘n stadium tree Juan se eks, Penélope Cruz, ook in die prentjie.

Vicky Cristina Barcelona is ‘n storie oor verhoudings. ‘n Tema waarmee Woody Allen nog altyd suksesvol was. Dit is snaaks, skerp, goed verfilm en het ‘n rolverdeling wat almal hulle werk doen. Dit is egter die pas van die film wat die deurslag gee. Allen fokus nie te lank op een plek nie en hou alles lig. Dié regisseur aanvaar vir ‘n slag dat sy gehoor ‘n sekere insig in die materiaal kan hê en dat ‘n onnodige herhaling die kyker kan frustreer.

Vicky Cristina BarcelonaNie dat Woody Allen se werk vir almal is nie. Sy kenmerkende neurotiese karakters is deel van sy styl en mens kan sekerlik nie verwag dat hy van hulle moet ontslae raak nie. Hy het wel in Vicky Cristina Barcelona afgewyk van sy manier om net die kamera te fokus op die interaksie tussen karakters. Die kamera sy kykvak is wyer gemaak om die beste van Spanje in te sluit, ‘n perfekte agtergrond vir enige storie oor verhoudings.

Vicky Cristina Barcelona is nie Woody Allen se beste werk ooit nie, maar dit is meer toeganklik as meeste van sy vorige films. Dit lê iewers tussen wat ons van Allen verwag en wat ons wil sien.

bydrae: JM

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Terug pieng: Nine « Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply