Regisseur: Zack Snyder
Uit ‘n tegniese oogpunt is Watchmen die fliek van die jaar, amper perfek in daardie opsig, maar die res maak jou ooglede swaar.
Blykbaar is Watchmen soveel meer vir diegene wat vertroud is met die boek, ek is nie een van hulle nie. Ons sal maar kritici moet glo wat dit omtrent eens is dat die film ‘n baie getroue weergawe van die oorspronklike werk is.
Die storie speel af in ‘n wêreld waar individue misdaad beveg in die stede, aangetrek soos superheroes, maar sonder werklike bonatuurlike kragte. ‘n Ongeluk verander ‘n wetenskaplike in ‘n regte superhero, Dr. Manhattan. Hy wen die Viëtnam-oorlog vir Amerika en Richard Nixon bly president. Dit begin egter ‘n meer ernstige Koue Oorlog met die Russe. In Amerika mag individue nie meer misdaad beveg sonder toestemming van die regering nie.
Een so ‘n gewese misdaadbevegter, die moordadige Rorschach, ontdek dat een van sy mede kostuumdraers, The Comedian, vermoor is. Hy en ‘n groep van sy voormalige stryders ontdek ‘n komplot wat verrykende gevolge vir die wêreld inhou.

Die film begin uitstekend met die moord op The Comedian en ‘n blik op hierdie alternatiewe geskiedenis. Dan volg ‘n kort bekendstelling van elke karakter voor Rorschach se storie begin. Die spesiale effekte is uitstekend gedoen en glad nie oordadig nie. Die kostumering is perfek en elke skoot goed uitgewerk. Selfs die minder bekende akteurs doen goeie werk.
Op die punt begin die fliek egter verbrokkel. Die menslikheid raak verlore tussen te veel terugblikke na die verlede. Die res van die film bestaan uit afsonderlike dele wat op so ‘n manier gelas is dat dit mens laat belangstelling verloor.
Watchmen laat jou aanvanklik regop sit, voor dit jou aan die slaap maak.
6 uit 10
bydrae: JM

My GROOT probleem met Watchmen is dat dit te veel van ‘n skouspel gemaak is. In geskrewe vorm is dit meer eenvoudig.