Ek sê dankie

Francois Hayes se eerste solus sewe Gee vir my, my klein beminde, is in 1978 opgeneem. Sy tweede kortspeler Winde van Verlange word in 1979 opgeneem. Dit is egter eers met die derde kortspeler Osbraai op Kromdraai dat Francois begin naam maak.

´n Hele rits langspelers met titels soos Pikkie en Pikkanien, Ou Jorrie Dittel Dy, Karolis, Osbraai op Kromdraai, Koöperasiestories, Gat in die grond, Ouma se Serfyntjie, Hou my ´n bietjie vas, Good Memories, Kotteljons, Jy’s my nommer een, Onthou jy nog en Hou die blink kant bo volg daarna.

Francois skryf al sy liedjies en sy dogters, Liesl, Theresa en Mari tree gereeld saam met hom op en sing ook saam met hom op ´n paar van sy opnames. In 1988 vier Francois sy tiende jaar as platekunstenaar en hy reik ook sy eerste Engelse langspeler – My Moments With You – saam met sy dogters uit. Sy tweede Engelse plaat Good Memories volg kort daarna.

Francois se heel eerste langspeler Shongwezi is vir ´n Sarie-toekenning vir die beste Afrikaanse langspeler benoem. Sy langspeler Osbraai op Kromdraai het goue status verwerf.

In 1998 reik Francois sy 22ste langspeler Sal jy my nog vashou? uit. Sy dogter Liesl het vier Engelse liedjies vir die album geskryf.

Ek sê dankie – ´n album om Francois se 21ste jaar in die vermaaklikheidswêreld te herdenk, word nou weer deur Hoezit Musiek uitgereik. Francois het spesiaal negentien van sy grootste treffers van nuuts af vir die album opgeneem.

Met dié album wil Francois aan al sy bewonderaars dankie sê vir hul ondersteuning die afgelope 21 jaar. Ek sê dankie is Francois se 23ste uitreiking. Die twintig treffers op sy album sluit in “Karolis”, “Jy’s my nommer een”, “Jorrie dittel dy”, “Paternoster”, “Hou my bietjie vas” en “Mooi meisiekind”.

Francois het die afgelope 21 jaar altesaam 200 Afrikaanse liedjies geskryf wat hy op langspelers of cd’s opgeneem het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply