Pieter Fourie se bekroonde meesterstuk, Faan se Trein het, soos in die sewentigerjare, weer gehore aangegryp toe dit onlangs by die KKNK te sien was. FAAN het in die middel sewentigs drie jaar lank voor vol sale dwarsoor Suid-Afrika gespeel en is gesien deur meer as 100 000 mense. Die inheemse werk, geskryf deur die bekende dramaturg (en nou Hertzog-pryswenner) Pieter Fourie, word steeds deur teatergangers met deernis onthou. Die eerste opvoering hiervan was op 21 Februarie 1975 in die Hofmeyr-teater in Kaapstad. Die Faan-toer, moontlik gemaak deur ‘n borgskap van Sanlam, het in 14 Junie in Kaapstad begin. Daarna verskuif die geselskap van 29 Junie tot 3 Julie na Nelspruit vir die InniBos-fees. ‘n Kort speelvak in die Théâtre Rendezvous van die Staatsteater, Pretoria, volg van 6 tot 9 Julie. Die drama reis dan na die Volksblad-kunstefees in Bloemfontein, wat van 12 tot 17 Julie duur. Laastens kom Noordwes aan die beurt wanneer dit van 27 September tot 1 Oktober tydens die Aardklopkunstefees opgevoer word.
Oom Frik Odjoppies en sy seun Simpel-Faan woon in die Onderdorp. Wanneer die dominee kom kla dat Faan al weer sy humeur verloor en byna ‘n seun verwurg het, stel Frik hom gerus. Faan is ‘n goeie handlanger en hulle twee gaan die groot dam bou – dit sal ‘n handewerk vir die nageslag wees. Die noodlot beskik egter anders.
Faan sien die ‘bulldozers’ as die verpersoonliking van alles wat sy beskermde bestaan bedreig. Sy en Ou Frik se stryd is die kern van ‘n lewensgetroue verhaal, deurspek met die idiome en atmosfeer so eie aan sy milieu en in Faan se pittige humor lê die tragedie opgesluit wat enige mens aan die hart sal gryp. Danksy ‘n ruim borgskap van Sanlam, is dié produksie tans landwyd op toer. Maak ‘n aantekening van die venues, maar bowenal, maak ‘n punt daarvan om die stuk te siene te kry anders moet jy dalk weer dertig jaar wag….
Die rolverdeling
Faan – Paul Eilers
Frik – Johan Botha
Dominee – Johan Malherbe
Truia – Sophia Hugo
Ook met Ivan Zimmermann, Hannetjie Smit, Wilma Schoeman, Deon Lotz, Fije Maritz en Martiens Maritz
Haydee Morgan-Hollander gesels met Albert Maritz (regisseur) en Paul Eilers (akteur) oor die bekroonde Faan se Trein wat tans landwyd op toer is.
ALBERT MARITZ
Albert Maritz is tuis in al die genres (film, tv, verhoog, radio). Hy is akteur, regisseur, joernalis, radio-omroeper, oud-onderwyser maar bowenal kampvegter; woordvoerder; ombudsman (as jy wil) van die kunste. Hy verkies om “behind the scenes te werk; om te sorg dat die kunstenaar die respek en living wage kry wat hy verdien”, voel baie sterk oor ‘n samelewing nie van sy kunstenaars bedelaars moet maak nie en dat die media debatvoering oor die kunste moet toelaat en aanmoedig. “Ons skraap maar almal gat om soos slawe ‘n bestaan te voer. Dis hoekom ek so graag die media en veral die befondsers van die kunste, waarvan die staat die hoofborg behoort te wees, probeer oorreed om meer steun vir teater te gee.”
Staande ovasies maak hom ongemaklik, hy verkies om te praat oor sy ‘onsigbare juwele’, die Vigs-produksie wat vir plaaswerkers speel, die stuk wat hy vir die Kalfiefees regie met die Hawston Toneelgroep, die een oor geweld teen vroue, die opvoedkundige musikale teater (wat deel was van die Beveg Misdaad-veldtog met skoolkinders in agtergeblewe gemeenskappe as teiken). Aktuele stukke en teater wat dilemmas in die samelewing aanspreek, vrae vra oor morele kwessies.
Reeds as twaalfjarige was Albert in radioverhale gehoor, later kampusradio saam met Johan Rademan, toe ‘n paar jaar by Truk en vir die eerste paar jaar van Egoli se bestaan, die rol van Jimmy, die kameraman. En wie kan daardie besondere kleinood in die vorm van Konings en sy opvolg Torings (vir TV) vergeet. Vir sy rol as Herman hierin is hy met ‘n Artes beloon. Buiten regie vir televisie (‘n vername rol in sy dae by die SABC), was hy een van twaalf wat die destydse TSS (nou SABC 3) begin en programme as onafhanklike vervaardiger gemaak het. Na twaalf jaar het hy genoeg gehad en Johannesburg vir Melkbosstrand verruil.
Moeilik om meer uit Albert te kry as dit, hy gesels eerder oor pa Dawie Maritz, “.’n legendary ou gewees, hoofrolle vir TV gespeel en diep spore getrap in toneel. Onder andere gespeel in die destydse produksie van FAAN”, en sy eie produksie van FAAN wat tans landwyd te sien is. Rafiek Mammon (Cape Argus 15 Junie 2005) skryf so oor die stuk, “Albert Maritz has done a superlative job of directing this wonderful production. He has injected just the right depth, compassion and truthfulness into the characters to paint the ultimate picture that surrounds the heartbreak of Faan’s existence. Yet, he has also left enough space for an audience to read comfortably between the lines of this superior text. This is highly recommended theatre.”
Haydee Morgan-Hollander (HMH): Jy was regisseur en onafhanklike vervaardiger van die musikale dokumentêr Groot, Groter, N.P. Van Wyk Louw, deur baie in die bedryf beskou as die voorloper tot latere toonsettings van sy en ander digters se werk. Tog is dit net eenmaal uitgesaai en in ‘n tyd toe min of geen Afrikaanse produksies vervaardig is?
Albert Maritz (AM): Johan Engelbrecht is ‘n genie en nie skaam om hard te werk nie, op vele terreine. Hy is die ongeërde profeet van getoonsette gedigte. Polities was hy ook ‘n voorloper en het in Afrikaans gaan optree in plekke soos Soweto en ander townships. Die program was oor sy siening van die kultuur-reus en sy aanbieding van die gedigte het harte verower vir Afrikaanse poësie. Na uitsending van Groot, Groter, N.P. van Wyk Louw het Gerhard Scholtz, Babs Laker en sulke verskilmakers per telefoon, in trane van aangedaanheid, die program ongelooflik gekomplimenteer. Vandag is Johan een van die voorste TV vervaardigers in die wêreld. Voor en na ’94 het Afrikaanse ouens hulle koppe in die sand gesteek. Van Wyk Louw is nog daar. Ek het baie ondernemende programme, soms met aangrypende materiaal voorgestel vir uitsaaiers. Die materiaal is op my eie koste opgeneem en redigeer. Hulle kon dus ‘n goeie idee vorm en insette lewer oor hoe hulle die finale produk wou laat lyk. Ek het gereeld weer Groot, Groter, N.P. Van Wyk Louw vir uitsaaiers aangebied, teen ‘n lagwekkende spotgoedkoop prys. Als sonder sukses.
HMH: ‘n Musikale dokumentêr? Daar is nie baie van hulle nie? Vertel hoe die reeks aanmekaar gesit is en hoe musiek en poësie inmekaar pas?
AM: Als het vinnig gebeur. Johan was oppad vir sy ag jaar verblyf in Nederland. Ek het sy show gesien, geweet mens moet dit verewig. Hy was bereid, daar was ‘n positiewe respons van een uitsaaier, en Johan het twee dae gehad voor sy vertrek. Ons het deurnag geskiet – op location, in die N.P. Van Wyk Louw Museum asook so twee opnames met verskeie kameras van Johan se show vir ‘n huisgehoor. Met die magdom materiaal het ek dae lank redigeer. Die toonsettings en verwerkings van die werk is deur kollegas van Johan gedoen. Die styl is alternatief en dramaties, wat Johan se vertolkingsvermoë soos ‘n handskoen gepas het. So iets is nog nie weer in Suid-Afrika gesien nie, behalwe in heel ander style deur byvoorbeeld Francois Blom, en nog enkele individue. Johan is aanbieder van die N.P. van Wyk Louw verhaal – in groot eenvoud, en dan is daar oorgange na die musiek – wat weer teenoorgesteld van daardie eenvoud, met laag op laag ondernemendheid gemaak is.
HMH: As senior regisseur was jy vir meer as ses jaar betrokke by televisie. Jy het SABC 3 se Crystal-toekenning ontvang in 1996, asook die Artes vir beste akteur in ‘n TV-reeks. Wanneer is jy daar weg en hoekom?
AM: Ek is ‘n Kapenaar en wou altyd huistoe kom. Ek was eenmaal vantevore terug en het in armoede geleef, getrou, regie en speelwerk gedoen in skole programme, geskryf (onder andere vir die Vrye Weekblad) tot die reeks Konings my teruggelok het na Johannesburg. Na agt jaar het Punt Geselsradio my aangestel in die Kaap.
HMH: Regisseurs soos Ilse van Hemert is feitlik net by televisie betrokke. Staan ons nou weer goeie regisseurs af aan televisie ten koste van die verhoog?
AM: Ons staan ons ganse geskiedenis se ongelooflike kundigheid af aan die visieloosheid van vandag. Waar sal die mense wat die siel van ons nasie moet uitmaak, leer hoe om dit te versinnebeeld as hulle nie Cobus Roussouw op die verhoog sien nie? Selfs saam met hulle werk nie, of met die groot akteurs tans in Faan se Trein. Skoolkinders neem hulle eie heil in hulle eie hande. Skoletoneel beleef ‘n opbloei wat jy nie kan glo nie maar die mense wat leerders moet lei tot by Cobus Roussouw, doen dit nie. Seker ook maar weens die greep van ons “oorlewing stryd” in ‘n onbelangstellende regering wat nie die vermoë het om ons kultuur te dien nie.
HMH: Die Goue Naelstring is ‘n projek waarmee jy geruime tyd besig is en bied (in jou woorde) ” ‘n unieke benadering vanuit ‘n regisseursoogpunt.” Verduidelik?
AM: In Naelstring het ek gesien hoe Amerikaners hulle sterre bou deur middel van hulle dokumentêre programme. Die styl waarin hulle dit maak doen net so mee tot die heldeverering. Groot dele van Goue Naelstring is so geskiet. Die samestelling en inhoud sou uniek wees.
HMH: Sinspeel die titel op Pieter Fourie se boek Naelstring en dus op verskeie teaterstrominge?
AM: Nee, dis bloot die naelstring wat die kleintjie aan die lewe hou, knip dit prematuur en die kleintjie dooi.
HMH: Watter vrae het jy as regisseur gevra aan Anna Cloete en Jannie Gildenbuys voor hulle dood?
AM: Jy weet alles! Die een vraag wat ek Jannie gevra het was of hy weer dieselfde loopbaan sou kies as hy die kans had. Sy antwoord was ‘n baie dramatiese, “ja, sonder enige twyfel.” Toe vra ek hom wat het hy om te wys vir sy roemryke loopbaan as baanbreker. Hy het lank gesit, en soos ‘n wrede joernalis het ek in stilte dieselfde gedoen. Uiteindelik was sy antwoord, “Albert, ek het niks. Nie ‘n tafel nie. Nie ‘n stoel nie. Ek het niks.” Die bande met dit alles op, is steeds iewers gestoor in my huis.
HMH: Dele uit Naelstring is deur Herman Binge gebruik in sy Die Tweede Lewe. Hoe verskil Goue Naelstring van Die Tweede Lewe?
AM: Goue Naelstring is gerig op die mense. Mense waaruit die geskiedenis en die feel van die geskiedenis duidelik blyk. Tweede Lewe was meer ‘n dokumentêr oor die geskiedenis. Ja, Herman het ‘n paar minute onbekombare materiaal by my gekoop. Dis voorwaar ‘n ongelooflike kultuurskat wat ek by my het. Ek is jammer dat ek nie steun gekry het om voort te gaan voordat Anna-Richter Visser, Danie Smuts, Dulcie van den Bergh, Jan Bruyns en talle ander die afgelope paar jaar dood is nie. Ek het negentien video’s aan sakemanne – sommige nou nog baas by reuse sake-instansies – gestuur en gevra om te help. Almal was so polities korrek dis pateties! Ek het ‘n band aan Nelson Mandela gestuur by die Parlement in die tyd toe Jakes Gerwel sy persoonlike assistent was. Ek is tot vandag nuuskierig oor waar daai band heen is. Ek het nooit terugvoer gekry nie.
HMH: As jy een vraag aan André Huguenet kon vra, wat sou dit wees?
AM: Ek het lang gesprekke met Oom Eghardt van der Hoven op Punt Geselsradio gevoer – óók oor Huguenet. Ek dink die een stukkie van die legkaart wat ontbreek, raak sy selfmoord. Die vraag sou daaroor handel.
HMH: Vanaf 2002 was jy te sien as ‘Stander’ (twee maal op die Klein Libertas verhoog en in Januarie in Pretoria). Jy het ‘n ongelooflike (radio) stem. Wanneer sien ons jou weer op die verhoog pleks van in die coulisse?
AM: Seker nie nooit weer nie, maar ek het nou eers ‘n paar belangrike dinge om te doen.
HMH: As iemand jou onbeperkte fondse gee, watter reeks en/of toneelstuk sou jy aanpak?
AM: Ek sit tans met ‘n lysie van vyf stukke en musicals. Ek sal ook van my voriges wil laat herleef. Ons skilder met kuns en musiek glo ek steeds was ‘n wenner. Botspoppe is reusagtig en na regte nog lank nie uitgespeel nie. Ek het natuurlik film- en televisietekste wat ek by sal uitkom sodra die geld of die goodwill daar is.
HMH: As regisseur, watter toneelstuk wat jy die afgelope jaar gesien het, staan uit?
AM: Pas De Deux met die verbysterende Nicole Holm. En Mamma Medea met wêreldstandaard regie, akteurs en die beste akteur ter wêreld – Cobus Roussouw. Ons skeep ook tegniese louere (soos vir Medea en met Faan se Trein) af.
HMH: As toeskouer, watter toneelstuk wat jy die afgelope jaar gesien het, staan uit?
AM: Mamma Medea. Dit was so ‘n omvattende stuk….
HMH: Gaan jy dit waag? Watter toneelstuk wat jy die afgelope jaar gesien het, het jou teleurgestel?
AM: Daar was ‘n hele paar en een spesifiek. Dit was ‘n studente produksie. Om die naam te noem baat niemand ek sê liewer hoe ongelooflik Lusistrata was. Ek het twee keer gaan kyk.
HMH: Die splinternuwe opvoering van Faan se trein, onder jou spelleiding, is by vanjaar se KKNK met die Kanna Herrie-toekenning bekroon nadat gehore dit as die gewildste produksie ingestem het. Op sy beurt het Paul Eilers, in die titelrol, met die Kanna-toekenning vir beste akteur weggestap.
AM: Dit is ‘n reuse voorreg in ‘n moeilike industrie. En nie jy of ekself kan glo hoe ‘n ongelooflike meevaller dit is nie. En die produksie, en elke mens wat daarmee gemoeid is. Wat ‘n span! Wat ‘n voorreg! Watter Gods-genade.
HMH: Hoe het jy die stuk benader en hoe verskil dit van die Cobus Roussouw produksie van dertig jaar gelede?
AM: As ek die Cobus Roussouw-produksie perfek kon naboots sou dit my groot plesier besorg het. Die grootste verskil is seker die begroting. Inflasie inaggenome, werk ons maklik met tien persent van die destydse begroting. En sonder toe se gevestigde infrastruktuur. Maak jou eie afleidings. Ons vertel ‘n storie met alles wat ons tot ons beskikking het – so getrou as moontlik en aan ‘n gehoor. En ons probeer so lewensgetrou as moontlik elke karakter se nuanses daarstel. Soos die ruiter in die swart boekies sê, “wat dryf daardie man voort?”
HMH: Die storie is nog net so relevant soos destyds. Dramaturg Pieter Fourie het in ‘n vorige onderhoud gesê “dit is vir hom interessant dat mense nou eers besef die stuk handel eintlik oor klasse verskille, en dat dit nou eers as ‘n periodestuk uit die vyftigs tot sy reg kom.” Sou jy sê die stuk was sy tyd ver vooruit?
AM: Mense beskryf Faan se Trein ook maklik as volkstoneel en op Universiteit het ek die departementshoof gevra hoekom daar so neerhalend na die stuk verwys word. Hy was darem nie kwaad nie, dink dit het hom twee maal laat dink. Vandag soek al meer mense na diepte in die stuk en daar is sonder twyfel sulke diepte. Pieter was sy tyd vooruit. Selfs in die pekel oor hy nie in die apartheidsgelid was nie. En in ‘n tyd waar almal se kop in die grond is, het hy (soos ek) reuse verliese gelei in sy strewe om die droom aan die gang te hou.
HMH: Hoekom het jy Faan se Trein aangepak?
AM: Dit was Karen Meiring en die KKNK se visie. Sy het my gebel en gesê hoe min geld beskikbaar is en of ek dit nietemin sal doen. Ek het dadelik ingestem. Die angs het my eers later gepak.
HMH: Jou produksie word uit alle oorde toegejuig met staande ovasies. Hoe verbeter ‘n regisseur op sulke sukses? Werk jy aan ‘n nuwe toneelstuk of idee?
AM: Ek het eintlik te veel idees. Ek moet nou mooi prioritiseer. En daar moet geld beskikbaar wees. Ek kon Faan by die KKNK doen teen alle odds in. Nou maak Sanlam dit moontlik om by feeste te speel en ons kan landwyd toer. So, met min geld en ‘n waar-daar-‘n-wil-is houding en fantastiese tegemoetkomendheid van feesbesture én instansies en kollegas wat help met die tussenin fees dele, en selfs lokettreffers soos Rooikoppetjie wat na die KKNK gedooi het…. Swak resensies en staande ovasies is nie alles nie hoor. Solank ons werk, en die droom aan die gang hou. My Vigs-produksie wat vir plaaswerkers speel, ook die stuk lewensdraad wat ek vir die Kalfiefees regie met die Hawston Toneelgroep, ons stuk oor geweld teen vroue – dis alles die onsigbare projekte wat soos ‘n golf elke skeurtjie van die samelewing indring en aanraak. Soos die reuse effek wat my tientalle musiektoere op die hele industrie gehad het; so het hierdie werk ‘n opbouende effek op die gees en kundigheid van ‘n hele samelewing. En behalwe vir my projekte, is daar talle goeie mense wat ook sulke goeie werk doen. Elke dag.
HMH: Mag ek vra wat Pieter Fourie van jou ‘Faan’ gedink het?
AM: Onlangs was daar ‘n openingsaand by die Kunstekaap teater, ‘n Pieter Fourie stuk. Die gehoor het bestaan uit so twintig mense, waaronder Pieter, Cobus Rossouw, en ek. Gabriel Botma (Gawie – kom skryf vir teater asseblief!) het dit min of meer (ek kan nie sy presiese woorde onthou nie) beskryf as die simboliese begrafnis van Afrikaanse teater. Dit was waarlik ‘n nodige afsluiting van ‘n hartseer periode in ons geskiedenis. Als het verander sedert daai aand. Charles Fourie beskryf ons openingsaand in ‘n Hoërskool ouditorium as ” ‘n monumentale belewenis in ons geskiedenis”. Danksy Sanlam se borgskap kan almal van ons wat moeg is om kop in die sand te staan, van die spelers tot by die KKNK teaterpaneel; die publisiteitsmeisie, die skool; die leerders wat ek kon betaal om plakkate op te sit, vir ‘n keer vergoed word. Die skeleton staff tegniese personeel. Geen rolspeler is te klein om te noem nie. Faan se reuse sukses, oor kleurgrense heen, is die eerste in ‘n nuwe era. Pieter het darem aan my voorgestel dat ons Faan se stasie volgende pak, en sy nuwe stuk vir my gestuur. Dalk sê dit iets?
HMH: Watter vraag wens ‘n regisseur word hy gevra?
AM: My bankrekeningnommer vir daai ‘onbeperkte befondsing’ of “wie wil jy almal in die hof kaal uittrek? Ons kan jou help.” Die bankrekeningnommer gee ek graag. Of ons begin ‘n nuwe rekening! En ons moet ons meer tot die hof wend oor sake soos die Engels, Tswana en Xhosa oorname van die Afrikaanse Provinsie hieronder, die misdaad teenoor verbruikers soos die swak paaie wat ons voertuie verwoes, lewensverlies weens ontoereikende padstelsels, jarelange vertragings van die behuisingskema vir mense sonder dakke oor hulle koppe, die versuim van regeringstrukture om ons selfs net te antwoord – vergeet nog ons te befonds. Dan is daar ook die Lotto, die Wes-Kaap Kultuurkommissie, selfs die regering by hulle Provinsiale en Nasionale imbizos – beledig mens sommer daar waar hulle besig is om te window dress!
PAUL EILERS
Paul Eilers is oor die veertig jaar gemoeid met die vermaaklikheidsbedryf. In 1963 sluit hy aan by Johan Fourie se Toneelgeselskap in Wellington en toer vir die volgende drie jaar deur die land as geselskapsbestuurder (vragmotorbestuurder); verhoogbestuurder en akteur. Vir KRUIK doen Paul onder meer honderd opvoerings van Die Laaste Van Die Takhare en regie vir bykans al die destydse Streekrade (Kruik, Truk, Sukovs).
In 1972 sluit hy hom aan by die Afrikaanse Diens van die SAUK in Johannesburg as omroeper/regisseur. Benewens roetine-uitsaaiwerk ook talle Radioteaters; Kleinteaters en Vervolgverhale. Hy is deur Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy regie van Die Vroue van Troje met Anna Neethling-Pohl en Francois Swart in die hoofrolle. Eilers was ook verantwoordelik vir die enigste Radioteater (sonder teks) van Die Burgemeester van Gert Hoffman met Carel Trichardt, Petru Wessels en Frans Marx in die onderskeie rolle.
Saam met Sarel Myburgh en Cobus Robinson begin hy die oggend-aktualiteitsprogram Monitor en tree op as aanbieder en regisseur. Eilers was ook gemoeid met regstreekse uitsendings van Simfonie-konserte vanuit die Johannesburgse Stadsaal en het die regie van die eerste regstreekse uitsending van die ARTES-toekennings vir radio vanuit die UNISA-saal behartig. Vanaf 1981 vryskut Paul vir radio en TV (aanbieding van Goeiemôre Suid-Afrika saam met Dorianne Berry, TV-dramas en reekse, lees van TV nuus en eerste Afrikaanse oorklankingsregie met Roelf Jacobs). Regie vir TV sluit in die Genesis Kontrak vir Scholtz Films, King of Diamonds vir Dirk de Villiers, James asook verskeie dokumentêre programme.
In 1996 nader Pieter Fourie hom om op te tree as bemarkingsbestuurder vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. In Oudtshoorn begin hy Suid-Kaap Stereo, die gemeenskapsradio-stasie vir Oudtshoorn, Mosselbaai, George en omgewing. Maar dit is sy terugkeer na die verhoog tydens vanjaar se KKNK wat ‘n glorieryke een was. Hy is aangewys as die wenner van vanjaar se gesogte Kanna vir die beste vertolking in toneel en woordkuns vir die naamrol in Pieter Fourie se Faan se trein. Eilers se kragtoer op die verhoog en die verhaal wat Fourie met die drama vertel, het gehore so aangegryp dat Faan se trein ook bekroon is met die Herrie Kanna-gewildheidsprys.
Haydee Morgan-Hollander (HH): Paul, dankie vir die geleentheid om ook met jou te kan gesels ten spyte van ‘n druk toerprogram en ‘n seer kakebeen! Hoe staan sake nou met jou tande en kakebeen? (Met die laaste kleedrepetisie het Eilers teen ‘n werkbank op die verhoog geval en drie voortande gebreek. ‘n Plaaslike tandarts moes die tande onder lokale verdowing heg en die kakebeen is in die valslag gekraak.)
Paul Eilers (PE): Die tande en kakebeen is heeltemal gesond – die ou brose en bouvallige liggaam voel net na elke vertoning asof ek ‘n rugbywedstryd gespeel het!
HH: Min mense weet van die lang geveg met kanker wat jy agter die rug het. Hoe gaan dit nou met jou?
PE: Die prostaatkanker is nou genees – die bestraling vermoed ek het nog ‘n effek maar mens voel mos nie ongemak of pyn op die verhoog nie – ek is dankbaar dat dit vereers weg is.
HH: Jy is staande toegejuig na afloop van die KKNK vertonings. Liesel le Roux skryf hoe geroer teatergangers was en dat hulle na afloop van die vertoning in die badkamer staan en huil het. ‘n Groot kompliment vir enige akteur en boonop is dit jou eerste toneelstuk in die sowat sewentien jaar wat jy afwesig was op die verhoog? Vir ‘n beter come back kan mens kwalik vra!
PE: Eintlik is dit twintig jaar sedert ek laas saam met ander akteurs op die verhoog was. Die staande toejuiging by elke opvoering was ‘n aangename verrassing. Dit was in elk geval vir die hele geselskap omdat hulle sulke ongelooflike ensemble-spel gelewer het. Dis ‘n wonderlike ervaring om sulke dankbetuiging te kan kry. Ons het die eerste drie aande in die Kaap voor vol huise gespeel – ‘n dag voor die tyd besluit om Vrydagaand ook te speel – meer as 350 mense! Waar de moer hulle so skielik vandaan gekom het weet ek nie. Of hulle kyk nie 7de Laan nie, of ons doen iets reg. Volgende week Nelspruit, Staatsteater en Volksbladfees.
HH: In die heropvoering vertolk jy die titelrol wat Willem de la Querra in die 1975-produksie gespeel het – dié van Frik Oosthuizen se verstandelik gestremde seun Fanie. Albert Maritz is die regisseur. Van jou vertolking word gesê “.met Eilers se spel is daar nie ‘n akteur tussen die gehoor en die karakter nie.” Ek het jare gelede ‘n soortgelyke vraag aan Gavin van den Bergh ook gevra tydens ‘n radio onderhoud en met sy vertolking in Elke Duim ‘n Koning: akteurs is wroegende siele en voortdurend opsoek, van nature analities. Is daar rolle wat dié honger stil al is dit net tydelik? Rolle wat dit moontlik maak om ‘n akteur te wees (en in Suid-Afrika)?
PE: Deesdae is daar bitter min rolle van substansie vir veral die Afrikaanse akteur in Suid-Afrika. Faan was net ‘n genade van Bo. Die honger om bo jouself te presteer word egter nooit eintlik gestil nie – elke nuwe rol is ‘n nuwe uitdaging. Ek sou byvoorbeeld bitter graag Koning Henry in Becket wou speel – voordat ek na die Groot Verhoog opgeroep word.
HH: Waarin lê die trefkrag én tragedie van Faan opgesluit?
PE: Myns insiens lê die trefkrag van Faan se Trein in Pieter Fourie se meesterlike hantering van die gegewe. Sy fyn aanvoeling vir nuanse; sy netjiese balans tussen die humor/patos/tragedie wat hy hanteer soos ‘n sweefstokarties – hy ken sy mense, sy karakters, sy vak en verstaan die akteur se aanvoeling. Hy hanteer sy materiaal sonder opgesmuktheid of pretensie. Regisseur Albert Maritz was slim genoeg om by die ritme, aanvoeling en nuanses te bly en nie te probeer “slim” wees nie. Male sonder tal sien jy stukke op die feeste klaaglik misluk as gevolg van die soort dit moet “weird” wees regie. Die tragedie lê in Faan se kinderlike opgewondenheid oor sy trein, terwyl die wêreld om hom van hom wil ontslae raak. Die Engelse sê: “the art lies in the simplicity thereof”.
HH: Die stuk is ook nie sonder sy kwota humor nie?
PE: Ja, Faan is propvol humor – naakte, robuuste, sowel as fyn verweefde stukkies humor. Die stuk bevat al die komponente van die tragi-komedie.
HH: Pieter Fourie bestempel die rol as seker die mees uitputtende rol vir ‘n akteur in Afrikaans, “.om dit twee keer ná mekaar binne die bestek van ‘n paar uur te doen, vra amper die bomenslike van ‘n akteur. Ek kan nie dink aan iemand wat dit beter as Eilers sou kon doen nie.” Ons assosieer André Huguenet met Ampie, Jakes (Siener in die Suburbs) met Marius Weyers. Daar is akteurs wat ‘n rol so oortuigend vertolk dat dit hulle calling card word. Jou Fanie kan die vertolking word wat mense die beste bybly?
PE: Om in dieselfde asem as Huguenet genoem te word is bepaald ‘n groot eer. Ek self dink daar is akteurs wat Faan ewe goed of beter sal kan vertolk – mits hulle oor hulle aanvanklike paniek kan kom en ‘n goeie regisseur en mede-spelers soos ek het. Dit sal my egter bybly solank ek leef.
HH: Is die nie so dat ‘n rol soms op presies die regte tyd kom nie? Miskien het jou lang siekbed gehelp om met meer deernis na die karakter en sy omstandighede te kyk?
PE: Dit was totaal onverwags en uit die bloute. In Suid-Afrika is manlike akteurs van vyftig en oor mos oor die muur! Sonder om myself met hulle te vergelyk, kyk na Gene Hackman, Al Pacino, Sean Connery, Dustin Hoffman – hulle beste werk word eers hier in hulle sestigerjare gedoen maar in Suid-Afrika moet dit ‘n jong model of popster wees wat kwalik sy of haar naam kan spel en in een of ander sepie deur die media verhef word tot ikone. Foeitog! Maar ja, dit het seker iets daarmee te make.
HH: Martin Sheen sê van James Dean ‘he transcended cinema acting. It was no longer acting, it was behaviour and it was deeply, deeply personal. I think it led those of us who went into the profession to understand that if it’s not personal, then you shouldn’t waste your time doing it.’ Wat is toneelspel vir jou?
PE: Dit is die vergestalting van die lewe daarbuite – mooi, lelik, goed, sleg al die elemente waarmee ons daagliks te doen het. Die beste antwoord lê miskien in Zefferelli se kommentaar op Olivier se Othello: “it is everything we have learned about theatre in the past 400 years, put together in one night.” Vir my is dit die vryheid om die spieël te kan ophou na die gehoor en te sê: so lyk ons, dit doen ons aanmekaar en aan onsself.
HH: Wie is Faan?
PE: In die woorde van die skrywer is Faan nie ‘n dorpsidioot, grapjas of wreedaard nie. Hy is net mens. Kleinmens – ongeskend deur skool, kerk of establishment is hy die volkome verpersoonliking van onskuld en weerloosheid. Sy waarneming is skerp, maar sy verwerking daarvan naïef. Sy taal, sy agterdog jeens almal, sy bisarre liefde vir sy pa en sy fiksasie met sy trein is rou en aards.. juis daarom oer-en oop menslik. Hy ken nie die wêreld van die gladdebek nie. HY SWEET EN VERKEN DIE WERELD VAN DIE SKURWE HAND!
HH: Hoe skep akteurs onvergeetlike karakters?
PE: Met die hulp van ‘n goeie teks, ‘n goeie regisseur, knap medespelers én tegnici en deur in jouself te delf – al staan jy dan uiteindelik (figuurlik) gesproke naak voor die gehoor, sonder pretensie, aansit of truuks. Eerlikheid teenoor die teks, jouself en jou kollegas is een van die pilare waarop ‘n goeie vertolking berus. Ek het gelukkig genoeg tyd gehad om woorde te leer – my vrou Marina en seun Paul jnr. het baie gehelp. Verder het ek die teks ‘n duisend maal oorgelees, met Pieter Fourie gesels, weer gekyk na Forrest Gump en my vertroue in Albert gestel. Hy is ‘n eerlike, hardwerkende toneelmens – soos sy Pa Dawie – en het ongelooflike deernis en vertroue in sy akteurs. En ek het fisiese oefening gedoen, gedink en gebid. Die rol is fisiek ook uitputtend. Terwyl ek bladsye dialoog moet uitspeel, moet ek rieme sny en brei, grammofoon speel en ‘n outydse primus opsteek. Dan besef jy vinnig jy moet weer verhoogfiks word. Die rol is wel fisies uitputtend, maar geestelik vereis dit veel meer energie – jy moet elke aand sowat twee uur voor die begin intensief begin voorberei. Dis twee ure se absolute konsentrasie – maar uiteindelik die moeite werd. Twee opvoerings na mekaar is egter ‘n nagmerrie en ek sou dit graag in die toekoms wou verhoed.
HH: Interessant genoeg sê Pieter Fourie en ek haal aan, “Ek is baie tevrede dat die stuk 30 jaar nadat dit geskryf is nog kon staan. Dit wys net vir my dat eenvoud en eerlikheid – soos in alles in die lewe – ook in die teater werk.” P.G. du Plessis sê in 2002 feitlik dieselfde oor die heropvoering van sy drama Siener in die Suburbs (en ook dertig jaar nadat die drama elke moontlike toneelprys gewen en aan P.G. ‘n Hertzogprys besorg het). Dramas wat die toets van die tyd deurstaan het?
PE: Daar is talle sulke voorbeelde – in Afrikaans helaas net ‘n handvol. ‘n Drama moet kan praat met die mense van die 15de eeu en van vandag. Die gehoor moet kan identifiseer, inleef en glo in wat hulle sien en hoor.
HH: Kan dramas politici se monde (ook) snoer?
PE: Politici luister na niemand! Ek weet nie of hulle ooit in ‘n teater kom nie. “Struggle” teater is in elke geval baie passe.
HH: Wat moet gebeur om drama weer relevant te maak?
PE: Drama self en die hantering daarvan deur die kunstenaars wat daarmee werk. Dit moet spreek tot die gehoor en die wêreld daarbuite. Ek dink dit was Redgrave wat gesê het: DIE KAT SIT OP DIE MAT – is nie drama nie. DIE KAT SIT OP DIE HOND SE MAT – Dit is drama! (of dan die begin daarvan)
HH: Buiten vir Faan gaan jy ook op die Volksblad se fees met Anton Goosen gesprek voer oor sy liedboek Die Hitte van die Teerpad?
PE: Anton se boek is ‘n liedjie-boek; bevat sy lirieke. Ons kom al baie jare saam – het sakke sout en bottels “koeldrank” saam uitgedrink en aangename byeenkomste verwoes! Hy het my genooi om op 15 en 16 Julie by die Volksbladfees enkele gedeeltes uit sy boek voor te lees -ek vermoed dis outobiografies. Ek noem hom graag die vader van die luisterliedjie in Afrikaans.
HH: Noem ‘n paar gunstelinge: boeke (enigiets in gedrukte vorm), teaterstuk die afgelope jaar, drankie, eetplek, vakansieplek, musiek en gunsteling deel in Faan se Trein.
PE: Die beste boek wat ek die afgelope tyd gelees het was The Kite Runner deur Khaled Hosseini wat handel oor pa’s en seuns, vriendskap en verraad en onder meer die laaste dae van Afghanistan se monargie. Geen noemenswaardige teaterstuk die afgelope tyd gesien nie. Wel Inspekteur-Generaal van Gogol in Nederland en Olivier se Othello in 1968 in Londen. My gunsteling vakansies is by die huis. Ek hou van feitlik enige musiek veral Amanda Strydom, Laurika, Coenie, Valiant Swart en Mozart; en Energade is my drankie! My gunsteling deel in Faan se Trein is Faan se toneel met Frik waar hy die doodskis bou maar eintlik hou ek van die hele stuk.
Ter wille van lesers wat nog nie Faan se Trein gesien het nie, sluit ons uittreksels in uit die toneelstuk, veral die gedeelte waarna Eilers in my slotvraag verwys.
Die uittreksels begin op bladsy 15, 16, 17 en kom uit Bedryf 2 toneel 1
Faan (op met saag en houtwerkgereedskap. Hy neem ‘n lang plank – bodem van kis – en stap na sy pa).
Laat ek meet, Pa. Hulle moet nie weer kom sê die ding is te klein soos met Ma. (Oom Frik sit die Bybel neer). Lê reguit, jong. Vou jou hande. Ja, so. (Hy plaas die plank in sy lengte bo-oor sy pa. Hy besef hy’t niks om mee te merk). Lê tjoepstil! (Hy gaan haal die saag). Vat Pa ‘n kussing saam? (Geen antwoord). Twee hand ekstra vir die kussing. (Hy saag ‘n merk in die plank op sy pa. Ongeërg stap hy weer na die tafel. Hy neem die winkelhaak en trek ‘n streep en begin saag).
Pa: Werk tog buite, my kind.
Faan: Ek werk hier. Netnou kom bêre hulle jou ook in ‘n winkelkis! Jy kom lê in hierdie kis soos boeliebief in sy blik!
Pa: Faan! Werk buite. Ek lees.
Faan: Hulle wil mors met my. Maar ek is haaswakker.
Pa: (sug) Ja, Faan, die hele wêreld is altyd ook teen jou.
Faan: Behalwe oom Giel. (Hy werk voort)
Pa: Het jy gesê Dominee is ook daar buite?
Faan: Hy’s die voorbok!
Pa: Loop roep hom.
Faan: Ek sit net hier. Op my derde kambeen.
Pa: Loop roep vir Dominee, Faan asseblief!
Faan: Jy moenie nou afkap nie. Hier lê nog ‘n week se werk. (Hy wys na die kis)
Pa: Asseblief Faan … dan gee ek jou nog ‘n naald vir die grammofoon.
Faan: Dankie, Pa. (Hy laat alles net so en stap).
Pa: Ek sal met Dominee moet praat. ‘n Almanak is vir dag tot dag. Die Bybel moet oop lê in hierdie tye waarin ons leef.
Faan: (verskyn) Hier kom hulle self … Dokter en sy vrou ok. Jesebel se kind!
Pa: Kom hang my broek agter die deur!
Faan: (doen dit) Sy steel hom nog. Sy’s ‘n broekdraer … ek het haar uitgekyk.
Dié uittreksel, soos die vorige uit toneel 1, bl. 17 & 18.
Dokter: Man, jy werskaf darem.
Faan: Ou Frik se kis.
Dokter: Hy’s groot, hê?
Faan: Twee hand ekstra vir die kussing.
Dokter: Ek sien, ja.
Faan: Met Ma-goed het hulle gesê my kis is te klein. Maar die slag het ek hulle.
Dokter: Stinkhout, nê?
Mev. Dr.: Wat? Dit kan nie wees nie!
Faan: Stinkhout. Kyk hom. (Druk hout onder haar neus). Jy kan maar ruik ok.
Mev. Dr.: En waar kry jy dit?
Faan: Optelgoed is jakkalspis.
Mev. Dr.: Waar tel mens stinkhout op, Faan?
Faan: Die ou kerk wat hulle afgebreek het.
Mev. Dr.: Wanneer?
Faan: So snotkopoud.
Mev. Dr.: Ek koop vir jou ‘n nuwe kis hiervoor. (Dokter probeer haar stilmaak, maar is te laat).
Faan: Jou mal antie se moer. (Hy gryp die planke beskermend vas).
Dokter: Mevrou het sommer ‘n grappie gemaak.
Faan: Ek saag jou kop morsaf. (Hy dreig. Dokter gryp sy arm vas as hy haar met saag bestorm).
Bedankings:
Mariëtte de Waal, Eerste Bibliotekaris, Musiek en Toneel Museums/Nasionale Museums in Bloemfontein, vir die uittreksels uit Faan se Trein en ander waardevolle inligting.
bydrae: Haydee Morgan-Hollander