Vitamin R

Rocco de Villiers het per e-pos Haydee Morgan-Hollander se vrae beantwoord oor stigmas, diskriminasie en mirakels in die moderne tyd.

Rocco de VilliersDit is ‘n nuwe begeesterde Rocco agter die klavier, duidelik baie trots en opgewonde om oor Vitamin R te gesels, sy nuwe, moderne Mirakelspel met musiek, beweging en sang en sy eerste ernstige werk in jare.

Ná hy hom as pianis, regisseur en komponis vestig, begin ‘n volwaardige solo loopbaan met die verskyning van Screen Test in 1997. Not a Word volg in 1999, Era in 2000, Call Me Old-Fashioned (2002) en in 2004 La Scala, met verwerkings van Franse- en Italiaanse nommers en die roerende Karoo Aria, geïnspireer deur die Afrikaanse volksliedjie Ek hou van jou vaal ou Karooland. Onlangs was Rocco op ‘n KKNK verhoog saam met Koos Kombuis te sien in koos en rocco: kombuis en bar, klavier en kitaar.

Verskeidenheid is alomteenwoordig op De Villiers se instrumentale albums. Gesofistikeerde nommers teenoor volksmusiek, klassiekes langs sjarmante Jim Muller en FAK liedjies. Hierdie sogenaamde ‘teenstrydighede’ in sy musiek spook al geruime tyd by hom, en het in die laaste maande aanleiding gegee tot die skep van ‘n moderne Mirakelspel wat op 28 Julie in die Wits Teater in Braamfontein open.

“One definition of art must be its adaptability – the way in which it re-invents itself to fit an ever changing world.” – aldus ‘n onbekende Heilige uit die 14de eeuse versameling van veertig Miracles de Notre-Dame par personnages.

Haydee: Die Heilige Rocco en die veertiende eeu – is daar Liturgiese invloede in die musiek vir Vitamin R?

Rocco: Die musiek is die belangrikste komponent in Vitamin R. As musikant en pianis is dit die (enigste) manier waarop ek kan reageer, sosiale kommentaar kan lewer as jy wil op goed soos byvoorbeeld die huidige Vigs-pandemie in Afrika. Die musiek het byna geen Liturgiese invloede nie. Die hooftema (die res van die musiek is baie op variasies hiervan gebaseer) het enkele polifoniese kwaliteite uit dertiende en veertiende eeuse Kerkmusiek. Verder het die musiek ‘n baie sterk kontinentale kwaliteit – vanaf ‘n Franse bistro wals, ‘n area in Saint-Saëns-styl, ‘n Neopolitaanse liefdeslied, ‘n Ave Maria, ‘n dodemars en natuurlik my persoonlike gunsteling – die gebed en wiegelied in Zoeloe. Ek dink die styl van die musiek wat amper mediatief is en baie repetisie bevat, kan dalk ‘n styl wees wat ek nog lank gaan besig. Vitamin R het vir my nuwe deure in my brein oor komposisie en my vermoë om klank te skep, oopgemaak. Dit was vir my belangrik dat die musiek ‘n emosionele, eerder as ‘n akademiese kwaliteit moet hê.

Haydee: Vitamin R is jou eerste ernstige werk in ‘n lang tyd?

Rocco: My solo loopbaan tot nou toe was konstante en onbeskryflik harde werk. Die tipe instrumentale musiek wat ek speel en die styl daarvan is my eie skepping. Ek moes vir myself ‘n gehoor kweek, mense smeek en truuks uitdink om hulle na my werk te laat luister én kyk – die meeste mense dink steeds as iets as ‘n klaviershow geadverteer word, gaan dit of ‘n moffie met slap polse of ‘n nerd wees wat vir ure lank Beethoven speel. Ek sien myself nie as een van die twee nie. As gevolg van insecurity het ek aanvanklik gedink dit sal makliker wees om my styl te skoei op bestaande (bekende) melodieë. Daarmee saam het die komiese elemente en oppervlakkighede gekom. Ek het onlangs besluit dat ek nie net ‘n cocktail maker en vertolker van volksmelodieë is en wíl wees nie. So, Vitamin R is inderdaad ‘n werk wat al lank in my broei en nou gereed is vir die verhoog. Dit is die eerste oorspronklike, volledige en ernstige werk in jare. BIG in 1997 was ‘n probeerslag in die rigting van ernstige musiek maar het nie heeltemal gewerk nie. Ek was te jonk, egosentries. Te self obsessed.

Rocco de VilliersHaydee: Vitamin R is dus ‘n mirakel op meer as een vlak?

Rocco: Vitamin R is inderdaad ‘n moderne Mirakelspel met dans en musiek. Dit vertel die verhaal van Saint Rocco en saam daarmee die totale chaos wat HIV/VIGS vir veral Afrika bring. Maar aan die einde gaan dit oor hoop, die moontlikhede van hoop en die viering van die moontlikhede van hoop, veral in ‘n (moderne) tyd waar die kwaliteite wat Saint Rocco in die veertiende eeu beroemd en geliefd gemaak het, totaal afwesig is. Dalk is hierdie kwaliteit (in) Vitamin R? Saint Rocco het die gawe van genesing gehad. Vitamin R bied hoop in die vorm van genesing, maar nie ‘n valse hoop wat die realiteite ignoreer nie. Ook vir hulle wat dink dit is beter om te sterf as om met die stigma en besmetting saam te leef (soos in die dertiende en veertiende eeu). Hopelik is Vitamin R ook die teenvoeter vir daardie selfhaat, ‘n eienskap van meeste lyers.

Haydee: Verduidelik die gebruik van die verskillende tale in jou Mirakelspel?

Rocco: Saint Rocco is gebore in Montpellier, Frankryk in 1340 A.D. vandaar die inbring van Frans. Italiaans – omdat San Rocco, of Roch soos hy ook bekend gestaan het, se omswerwinge hom na Italië geneem het waar hy ook familiebande gehad het. Zoeloe is die een etniese taal in Suid-Afrika wat wyd gepraat en verstaan word, ek hou van die klank daarvan en dit werk baie goed met wat ek in die stuk wil doen – ‘n Wiegelied en Gebed ineen. Nomthandazo doen die vertaling uit Engels. Sy is self Zoeloesprekend en dit was maar ‘n logiese keuse. Ek is baie tevrede met die eindresultaat.

Haydee: Jy is lief vir kuns en ‘n ywerige versamelaar. Vanwaar die liefde?

Rocco: My eerste groot bewustheid rondom kuns het tydens my studentejare begin met musiekgeskiedenis en spesifiek die kuns en musiek rondom die tydperk van die Impressioniste soos Monet, Manet, Debussy en ander. Voor dit was kuns vir my net prentjies en selfs die John Travolta poster bokant my bed was vir my kuns. Dit is eers later jare toe ek begin reis het (veral in Italië) saam met my partner Clive van den Berg dat ek ‘n intense belangstelling in kuns ontwikkel het. Vanaf Middeleeuse kuns tot moderne installasies, maar eintlik hou ek die meeste van moderne kuns!

Haydee: Clive van den Berg werk in verskeie mediums en is onder meer kurator van die Brett Kebble Toekennings. In 1998 het jy die klankbaan van sy bekroonde video A Parable gekomponeer. Waaroor het dit gehandel?

Rocco: Die onderwerp was een van oorwinning oor die probleme en skaduwees van die verlede en hoe elke mens sy eie maniere vind om sy verlede en persoonlike traumas te verwerk, vrae te vra, antwoorde daarop te kry en homself uiteindelik los te maak van sy of haar verlede én die probleme.

Haydee: Watter kunstenaars se werk versamel jy? Wat hang of staan of sit in jou huis?

Rocco: Ek was nog nooit baie goed met realisme soos blomme, natuurtonele of stillewes nie, ek verkies kuns wat eerder ‘n mood deur middel van tekstuur of leidrade skep. Ek is ‘n groot fan van kunstenaars soos Jeremy Wafer, Paul Edmunds, Peter Schutz, Kathryn Smith en Robert Hodgins en besit ook werk van al dié kunstenaars. Dit gee my geweldige plesier om elke dag na my eie versameling te kyk.

Haydee: Waarna soek jy in kuns? Daar is tog spesifieke redes waarom mense kuns versamel?

Rocco: Kuns moet vrae vra (soos teater!) en kommentaar lewer. Kuns kan nie net mooi prentjies wees nie. Ek hou nie van kuns wat effek bejag is of hard probeer om te skok nie. Kuns gaan ook nie oor bekostig nie, ‘n kunswerk met ‘n prys op gaan oor bekostig. Kuns kan verniet “bekostig” en besigtig word in kunsgalerye. Kuns is net toeganklik vir die wie hulleself oopmaak vir nuwe idees en denkpatrone. Mense wat bang is om persoonlike en sosiale vrae te vra sal werke koop wat hulle mure, sakke en koppe pas.

Haydee: Die reklamefoto’s vir Vitamin R lyk nogal iets op die ikoonkuns. Daar is selfs elemente van Tretchikoff?

Rocco: Jong ‘n mens moet maar altyd bietjie tong in die kies werk. En watter beter idee om te gaan soek daarvoor as op eie bodem!

Haydee: Verduidelik die wond aan jou bobeen in die reklamefoto’s, die posisie wat jy inneem, die gebruik van kleur – niks is toevallig nie?

Rocco: Vanaf die dertiende eeu is Saint Rocco deur kunstenaars as ‘n pelgrim met kenmerkende “rekwisiete” voorgestel. ‘n Staf, ‘n pelgrimshoed, ‘n hond met brood (dié het vir hom kos aangedra toe hy in ‘n grot gewoon het nadat hy uit die dorp verban is) en natuurlik die “bubo” (vandaar die woord bubonic plague). Die wond aan sy been sou die teken wees waarmee hy verkondig dat hy kon genees en dat elke sieke die moontlikheid van genesing het. Dus het ons met die foto’s probeer om daardie element sterk te beklemtoon. Die show word amper oorwegend in verskillende skakerings van blou belig. Saint Rocco het ‘n groot gedeelte van sy lewe in die berge deurgebring en ek voel ook dat dit die kleur van Hemelsheid in die show onderstreep. Adéle Hamblin wat al tevore fotos van my geneem het, was ook vir dié verantwoordelik.

Haydee: Sou jy graag ‘n beskermheer van ‘n kunstenaar of die kunste wou wees?

Rocco: Op hierdie stadium soek ek hard na ‘n beskermheer vir Rocco de Villiers, maar sou graag later betrokke wou raak by nuwe jong oorspronklike werk in musiek.

Haydee: Die Heilige Rocco was beskermheilige van pestilensies (soos die swart plaag) en die stad Patrica. Waarvan is jou ‘moderne’ Heilige in Vitamin R beskermheer?

Rocco: Diesulkes teen wie gediskrimineer word. Die kinders met HIV, die vroue (swanger of nie) en daardie GROOT groep vir wie die medikasie ontoeganklik sal bly of hulle wat dit nooit sal kan bekostig nie. Stigma en diskriminasie is die hoof struikelblokke in die pad van effektiewe voorkoming en versorging. Mense wat geïnfekteer en geaffekteer is met Vigs vrees dat mense teen hulle sal diskrimineer of dat hulle verwerp sal word. Dit maak aan die een kant dat mense liewers nie wil uitvind of hulle moontlik geïnfekteer is nie, en aan die ander kant maak dit mense bang om te erken dat hulle MIV positief is.

Haydee: Die dorpie Patrica is vandag nog ‘n belangrike skakel tussen Rome en Napels. Bevat jou ‘mirakel’ ‘n denkbeeldige stad of uitkykpunt vanwaar die Heilige Rocco dinge beskou en kan kontempleer?

Rocco: Die nuwe plaag is nie meer beperk tot Europa nie, maar totaal en al globaal so daarom sal die aarde in geheel die “stad” of uitkykpunt wees vanwaar Rocco operate. Soos die internet waarop hierdie onderhoud gaan verskyn.

Haydee: Die rolverdeling vir Vitamin R is indrukwekkend. Yvette Christianse (van Castaway) is die teksskrywer en verteller. Dan is daar Hanlie Stapela, Jean du Plessis en Sergio Zampolli om maar ‘n paar te noem?

Rocco: Yvette is inderdaad die skrywer van Castaway. Ons het sowat tien jaar gelede vriende geword en haar vermoë om met woorde om te gaan (op papier of as sy haar gedigte self voordra) verstom my en gee my hoendervleis. Die mense in die produksie is almal briljant op eie gebied. Almal het formele opleiding in hulle veld en is soos blits om my kriptiese leidrade en weird akkoorde te ontsyfer en in die mooiste klanke te omskep. Ek voel bevoorreg en is “breëbors en sekelstert” om die produksie op die verhoog te sit.

Sopraan Hanlie Stapela, mezzo sopraan Nomthandazo Mkhize en die bariton Jean du Plessis tree op saam met Sergio Zampolli op Midi akkordeon, Kutlwano Masote op tjello, Christiaan Hattingh en Corneille Hutten-Burger van CH2 op kitaar en Elton Fortune as choreograaf. Die UJHB Contemporary Dance Company is verantwoordelik vir beweging en ek speel klavier.

Haydee: Waaruit sal ‘n mengeldrankie vir die Heilige Rocco bestaan?

Rocco: Sjampanje natuurlik, en dalk met ‘n dash Amaro (‘n likeur gemaak van artisjokke). Dit kom spesifiek uit die gedeelte in Italië waar Saint Rocco baie werk gedoen het.

Haydee: In ‘n onderhoud met die ATKV sê jy musiekmaak gee sin aan jou lewe. Speel jy vir huismense en familie soos jou ma buite konsert en optrede verband?

Rocco: Ja maar ek is versigtig, want ‘n mens kan baie maklik ‘n legend in jou eie lounge word, maar soms gee dit my baie plesier en laat dit my voel of ek in ‘n ou movie met Wena Naudé is.

Haydee: Wat staan tuis? ‘n Jakob Regop of ‘n Steinway?

Rocco: Die pikste, swartste, langste vleuel denkbaar.

Sanctus Roefius
Sanctus Roefius
* Die liggaam van die Heilige Rocco word bewaar in ‘n glas tombe in die kerk van San Rocco in Venesië Italië en sy dood elke jaar op 16 Augustus herdenk.

bydrae: Haydee Morgan-Hollander

Lewer kommentaar

Leave a Reply