Sanlam-prys vir teater 2006

Dramaturge wat ‘n ogie op die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater het en in die spore van George Weideman (2004) en Nico Luwes (2005) wil volg, sal moet begin om hul dramas af te rond.

Die prysgeld van altesame R260 000 wat beskikbaar gestel word, maak die Sanlam-prys die grootste in Suid-Afrika vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

Om as inskrywings vir 2006 oorweeg te kan word, moet oorspronklike Afrikaanse dramatekste reeds teen 14 Oktober aan enige van die dramadepartemente by tersiêre instellings in Suid-Afrika voorgelê word.

Die wentekste (tot vier) behoort teen Maart gekeur te wees en by KKNK 2006 bekend gemaak word. Daarna sal die gekeurde toneelstukke ingestudeer en met ‘n borgskap van R25 000 elk by volgende jaar se Aardklop-kunstefees op Potchefstroom opgevoer. By dié fees word die algehele wenner en ook die beste akteur, regisseur en dramaturg dan aangewys.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer moet word. Die individuele pryse is elkeen R20 000 werd.

Die Sanlam-prys is daarop gemik om die standaard van Afrikaanse teater te stimuleer, die skryf van professionele dramatekste aan te moedig en opkomende teaterkunstenaars die geleentheid te bied om hul talente te ontwikkel. Volledige besonderhede is op die Internet by www.sanlam.co.za beskikbaar onder kompetisies op die tuisblad.

Die Universiteit Vrystaat se dramadepartement het vanjaar skoonskip gemaak toe Nico Luwes se Zollie by die KKNK as die wenproduksie aangewys is en ook met al die individuele pryse weggestap het. Die ontroerende stuk het pas by die Volksblad-kunstefees vol sale gelok met staande ovasies. Dit sal ook van 27 September tot 1 Okober by Aardklop opgevoer word en by die Suidoosterfees (wat na 13 tot 15 Januarie by Kunstekaap verskuif is) te sien wees.

Toneelskrywers wat vir 2006 se Sanlam-teaterprys in aanmerking wil kom, kan maar aan die werk spring. Oorspronklike Afrikaanse dramatekste (ongeag dialek of streektaal) kan aan enige van die dramadepartemente by tersiêre instellings in Suid-Afrika vir oorweging voorgelê word. Die sperdatum hiervoor is 14 Oktober 2005, waarna die tekste beoordeel en die finaliste (tot vier) teen Februarie 2006 aangekondig sal word. Die finaliste sal met borgskappe van R25 000 elk by Aardklop 2006 opgevoer word om die algehele en individuele wenners aan te wys.

Lengte van produksies: Alhoewel die maksimum lengte van produksies 120 minute is, doen die organiseerders en beoordelaars ‘n beroep dat dit eerder 90 minute maksimum is om logistieke uitdagings te beperk en die skedulering te vergemaklik.

Inskrywings kan op die volgende wyses na Sanlam gestuur word:

Inskrywings per pos:
Martie de Lange
Borgskapbestuurder
Sanlam Bemarking
Posbus 1
Sanlamhof
7532

Of koerier u inskrywing na:
Martie de Lange
Borgskapbestuurder
Sanlam Bemarking
3de vloer, Sanlam Hoofkantoor
Strandweg 2
Bellville

of e-pos die inskrywingsvorm na: martie.delange@sanlam.co.za

Skedule vir 2006
14 Oktober 2005 Alle tekste moet by tersiêre instellings wees vir oorweging
4 November 2005 Sanlam ontvang inskrywings van tersiêre instellings
±14 November 2005 tot 31 Desember 2005 Paneel beoordeel anonieme tekste
Vroeg Februarie 2006 Die finaliste, wat R25 000 elk ontvang, word bekend gemaak
Aardklop 2006 Produksies word by Aardklop in Potchefstroom opgevoer en beoordeel deur paneel
Tydens fees Bekendmaking van die wenner

Sanlam plaas ‘n volle R260 000 op die spel vir die ontwikkeling en daarstelling van nuwe Afrikaanse teaterproduksies.

Die beoordelaarspaneel sal alle tekste wat van tersiêre instellings ontvang word, evalueer.

Die 4 beste (toneelmatigste) inskrywings/tekste/departemente kry elk R25 000 saadgeld om hul produksie in Julie 2006 by die Volksblad se Kunstefees in Bloemfontein op die planke te bring. Tydens die fees beoordeel dieselfde paneel weer die 4 produksies en ‘n wenner word aangewys.

Vir die wen-instelling is daar ‘n volle R100 000-prys. Die enigste voorwaarde vir die ontvangs van dié prys is dat die wenproduksie in die loop van die jaar na hul gewen het, na nog ten minste twee ander van die land se kunstefeeste gaan.

Daar is ook drie pryse vir individue op die spel – vir die beste dramaturg, wat die wendrama geskryf het, die beste regisseur en beste nuwe akteur – hierdie drie kry elk R20 000.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar