Op Woensdag 15 September bied die Woordfees, in samewerking met SETA (Sector of Training Authority), MONAloog in die Bergzicht Heerenhuys op Stellenbosch aan.
In dié aangrypende eenvrouvertoning deur Helena Conradie, word hulde gebring aan Mona de Bruin – wat vir 20 jaar lank in Helena se huis gewerk het. Mona, oorspronklik van Marydale, is in Desember 2003 oorlede.
“Ek het eers na haar dood besef ons was mekaar se insurance”, sê Helena. “En met hierdie vertoning wil ek graag vir Mona kans gee om haar stories te vertel.”
MONAloog is gelaai met empatie, satire, humor en begrip – alles gebaseer op Mona se lewenservaringe. Verder is dit ook die storie van derduisende Suid-Afrikaanse huiswerkers; van ongelooflike eenheid in die andersheid en van vroue wat hulleself nooit deur hulle omstandighede laat onderkry nie.
Maar MONAloog vertel ook die verhaal van die komplekse verhouding tussen werknemer en werkgewer, soos Mona dit ervaar het. Dit raak die mooi, maar ook die seer van mense en hulle omstandighede, aan.
Oor hierdie verhouding sê Helena: “Mona was al die jare ´n kunstenaar in my huis en ek het dit byna-byna misgekyk. Sy het nie net ´n fyn waarnemingsvermoë en humorsin gehad nie, sy het te midde van haar geskiedenis, ´n trotse mens gebly. Dis wat ek probeer weergee.”
Die hartroerende sketse word afgewissel met Valiant Swart se lied, Mona van Marydale, wat spesiaal vir die produksie geskryf is. Dié sketse is so deernisvol is die vertellinge dat Rita Gilfillan ná ´n optrede gesê het dat sy laas met Poppie Nogena só aangeraak is.
Helena Conradie is veral bekend vir haar Boerneef-produksie Makie Mooigoed Staan en Cussons se Ek word Tintelend Wakker. Marius du Plooy, akteur en voormalige TV-aanbieder en radio-omroeper, is die regisseur.
