Victory

Die beroemde Suid-Afrikaanse skrywer Athol Fugard se jongste toneelstuk, Victory, vier sy wêreldpremière by vanjaar se Absa KKNK.

Die verhaal speel af in ‘n droë, agtergeblewe Karoo-dorp. Vicky Klaas is ‘n tiener wat onder haar pa se alkoholisme ly en sukkel om haar ma se dood te verwerk. Haar roekelose skollie-kêrel, Freddie Blom, oorreed haar om by Lionel Benson se huis in te breek. Benson is ‘n eensame afgetrede onderwyser. Hy was ook die werkgewer en vriend van Vicky se oorlede ma, maar Freddie weet dit nie.

Met Victory ondersoek Fugard die realiteite van ‘n wêreld sonder hoop; ‘n wêreld wat uitgelewer is aan sinnelose geweld en dwelmmisbruik. In dié donker en insiggewende drama verken drie karakters die onvervulde behoeftes wat deur die beloftes van die ryk wittes geskep is, en die vertwyfeling en teleurstelling wat Suid-Afrika se jeug as gevolg daarvan ervaar. Ou vrese steek kop uit en ou wonde word oopgekrap. Dit lei tot rassekonflik, wrewel en onenigheid.

Die bekroonde jong dramaturg en regisseur Lara Foot Newton het ook al Fugard se Hello and Goodbye by die Mark-teater opgevoer. Sy bring Fugard se roerende nuwe stuk met ‘n sterbelaaide rolverdeling op Oudtshoorn op die planke.

Die veteraanakteur Cobus Rossouw was 2001 te sien in Boetman is die bliksem in. Hy het die regie gedoen vir vorige opvoerings van Fugard se Boesman and Lena en A Lesson from Aloes. Wayne van Rooyen, bekend vir sy rol in King of Laughter, het in 2005 die Naledi-prys vir Beste Nuweling gewen. Ameera Patel was onlangs in die televisiereeks Hard Copy te sien.

Fugard se Booitjie and the Oubaas en sy vorige stuk, Exits and Entrances, is in die media lof toegeswaai en was baie gewild by gehore. Met Exits and Entrances het hy die Naledi-prys vir Beste Inheemse Teks verower. Die stuk het ook verskeie ander pryse gewen, insluitend die Naledi-en Fleur du Cap-prys vir Beste Akteur.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar