(deur Babs van der Merwe)

‘n Storie vir seuntjies met besige handjies

Arno is 4 jaar oud, het ‘n blonde krullebol en is Pa Henk en Ma Karin se eie, beste woelwater. Hy is altyd besig, en al dink party mense hy vang net kattekwaad aan, dink hy dat hy baie hard werk.

Arno, Pa Henk en Ma Karin bly in die mooiste geel huisie, met blou gordyne en bloedrooi malvas op die stoep. By die hoek van die huisie is ‘n klein geel huisie waarin Pula, Arno se hond bly.
Arno en sy ouers het nie baie geld nie. Hy hoor eendag hoe sy pa vir sy ma sê dat hy graag vir Arno mooi speelgoed sou wou koop, maar dat daar net eenvoudig nie geld is daarvoor nie. Arno se pa klink so hartseer. Net daar besluit Arno om self speelgoed te maak om vir sy pa te wys hy gee nie om vir winkelspeelgoed nie.

Elke keer as sy ma leë blikkies, plastiekbottels of kartonne weggooi, vra hy of hy daarmee kan speel.

Stadig word sy planne prentjies in sy kop. Hy gaan vir hom ‘n robotman maak. Die sink emmertjie met die gaatjie in, wat sy ma nie meer kon gebruik nie, gaan die kop wees. Die groot blik waarin sy baba melkpoeier was, kan emmerkop se lyf wees. Leë groente blikkies is die arms en bene en van leë sardienblikkies maak hy hande en voete.

Arno wikkel Emmerkop se lyf in ‘n stuk lap wat hy by ma gevra het, teken daarop ‘n das en knope. Bo-op die emmer kom ‘n ou plastiekbakkie, wat hy swart verf. Die hingsel van die emmer hang voor en laat dit lyk asof emmerkop ‘n polisie helm op het. Arno teken vir emmerkop mooi groot oë en ‘n baie vriendelike glimlag. Arno is pootuit. Hy gaan naby Emmerkop lê om hom mooi te bekyk – hy is trots op sy handewerk.

Skielik is daar ‘n gesuis, stof dwarrel oral en toe die stof gaan lê, sien hy die yslike silwer bal. Arno wonder nog, toe gaan daar ‘n deurtjie in die bal oop. Stadig stap ‘n mannetjie uit. Hy lyk presies soos Emmerkop. Hy kyk nie eers na Arno nie, begin dadelik met Emmerkop praat. “Klonk, klik klan tong. Klienk tienk tonk.” (Ek is Kaptein Yster. Ek kom van planeet Blikaspaai). Arno verstaan, hoewel hy weet dit klink nie soos wanneer hy en sy ma of pa praat nie. Om alles te kroon, en tot sy verbasing, antwoord Emmerkop.

Die mannetjie raas met Emmerkop omdat hy sonder toestemming van Blikaspaai weg is. Pula hou niks van die gedoente nie en blaf verwoed tot Arno hom paai.

Baie tyd vir praat is daar nie. Die mannetjie gryp vir Emmerkop en spring in die silwer bal. Arno spring vinnig agterna met Pula kort op sy hakke. Arno is gou spyt toe hy die gesuis van die bal hoor en sien hoe sy huis al kleiner word ver onder hulle. Die mannetjie het darem net met Emmerkop geraas en nie met hom nie en hy het darem nog vir Pula by hom, troos Arno homself.

Arno het seker aan die slaap geraak van die gesuis van die silwer bal, want toe hy weer sien het die silwer bal gaan sit tussen ‘n klomp ander silwer balle van verskillende groottes. Kaptein Yster beduie vir hom en Emmerkop om uit te klim.

Op die grond wag ‘n hele ry robotte soos Emmerkop. Die enigste verskil is dat hulle nie so ‘n mooi lap om hule lyf het nie. Arno klim uit saam met Emmerkop, maar sien nie dat Pula nog vas aan die slaap is nie. Kaptein Yster en sy manne boender vir Arno en Emmerkop in ‘n groot ding wat soos ‘n kastrol met wiele lyk. Kaptein Yster druk ‘n paar knoppies en hulle is skielik weer in die lug en tol in die rondte to bo-op ‘n groot blink gebou se dak. Daar sit ‘n prinses met ‘n kroon en die mooiste fyn wit rok wat soos ‘n wolk om haar sweef.

Kaptein Yster vertel aan Prinses Goud dat hy deur sy verkyker vir Emmerkop op die aarde gewaar het, en so ver hy weet het Emmerkop nie toestemming gehad om van Blikaspaai na planeet Aarde toe te gaan nie. Daarom het hy hom gaan haal. Ongelukkig het die mensie en sy dierasie ongevraag in sy skip gespring. Emmerkop moet gestraf word omdat hy sonder toestemming weg is. Die mensie en die dierasie sal maar van nou af vir hulle moet werk, want hulle mag nooit weer teruggaan nie. Toe Arno dit hoor, word hy baie hartseer en wil sommer huil.

Prinses Goud is darem regverdig en wil eers weet wat Emmerkop en Arno vir hulleself te sê het. Arno vertel hoe hy eiehandig vir Emmerkop gemaak het, maar Kaptein Yster wil nie eers hoor wat hy sê nie. Arno mag teruggaan, maar sonder Emmerkop. Hy moet eers self vir Emmerkop onder die groot ysterhamer platkap, dan sal Kaptein Yster hom terugneem Aarde toe.

Arno vat vir Emmerkop aan die hand en stap maar agter Kaptein Yster aan, want hy weet sy ma sal baie hartseer wees as hy nooit weer teruggaan huis toe nie. Dan sien Arno die groot ysterhamer met ‘n klomp platgeslaande yster onder dit. Sy hart word baie seer. Hy voel hoe Emmerkop aan sy hand ruk en hoor hoe hy saggies “tink”, “tink” snik. Net toe hy vir Emmerkop onder die hamer wil inskuif, blaf Pula hard.

Arno maak sy oë oop – hy was al die tyd maar by die huis en daar kom Ma Karin om die hoek van die huis met ‘n koeldrankie. Hy is so bly, dat hy sommer vir Emmerkop en Pula elkeen ‘n drukkie gee.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar