Ek wens baie keer vir harde donderweer, want dan is dit asof die donderweer al my gedagtes absorbeer. En ek slaap, so diep …

Maar die dag daarna lees ek van oorstromings, mense wat hulle huise verloor, verspoelings van besittings … drome … mense met nuwe vrees.

Ek ken ’n jong vrou wat baie graag BO wou wees. Sy is goedgesind, sag, mooi. Maar sy wou sukses behaal finansieel.

En sy het! Net jammer met al haar geld slaan haar man sy kloue daagliks in haar verbrokkelende vel, haar brose siel in. Hy los merke …

Ek ken ’n man wat ’n mooi vrou wou hê om te verafgod, lief te hê …

Hy het haar. Sy is blond met blou oë en het ‘n lyf “to die for”. Maar daai lyf lê tans langs sy beste pel.

Daar is ‘n girl … wat net gewens het om oorsee te bly, want Suid-Afrika is mos vir die shit … Sy bly oorsee, tussen onbekende mense, in die oorlog, teen die see en harde wind, maar sy bly oorsee.

Sien, ek het besef, jy wens op die ou einde jou finale wens … Jy wens te veel en waardeer te min.

Dinge word aan ons gegee met ’n rede, op sy eie tyd … maar nee, wragtig sal ons wens vir meer. En dan spin alles uit beheer. Want vra … en jy sal kry …

Ons het tonnelvisie, ons wens vir een ding op ’n slag, maar vergeet totaal en al vir die negatiewe wat saam met dit kan kom, want ons volg mos ons eie dom, blerrie koppe en kan nie net oorgee nie … net WEES.

Want iewers langs die langpad, gaan jy jou wens kry en wanneer jy dit kry, gaan jy soos ’n dom, verlore skapie vra, hoekom ek?

(Het jy dit nie gevra nie my liewe ding?)

Ek het gewens vir slim, sosiale kinders. I’ve got it … Met slim sosiale persoonlikhede wat my my hare soms uit my kop wil trek … maar ek HET dit!

Ek het gewens, gevra om ’n verskil te maak, om net te kan skryf … toe kry ek Parkinson’s …

Be very careful … luister mooi … be VERY careful … what you wish for.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar