Ek is ´n Geskiedenis onderwyser. Het jare gestudeer en kan sekerlik bestempel word as ´n kenner van sekere genres in die geskiedenis. Ek het seuns geleer van oorsake, gevolge en verloop van oorloë – vanaf die Napoleonitiese Era tot en met die einde van die Koue Oorlog. Aan my lippe het hulle gehang wanneer die wanpraktyke en dade van die Tweede Wêreldoorlog bespreek word. Hul ogies was vasgenael op die televisieskerm wanneer ek films oor die tydperk aan hulle vertoon het.
As onderwyser en padagoog het ek baie boeke gelees, navorsing gedoen en insiggewende gesprekke met belanghebbendes gehad. Vergaderings is bygewoon oor moontlike veranderinge in die kurrikulum om die vak ‘lewend’ vir ons kinders te maak. Nooit kon ons werklik ´n aanvaarbare oplossing vir die knelpunt kry nie. Ons word geteister deur die media, oorsese toere en bevoorregte kinders – om die verlede vir hul ´n kleinood te maak, het na ´n onbegonne taak gelyk.
Na ´n geruime tyd het ek besluit om die professie te verlaat. Om die vleispotte van Egipte as’t ware te verruil vir iets anders – die blinkheid van Europa. Ek was nie teleurgestel nie. Hier het my oë oopgegaan vir die wonder van eerste wêreldse lande. Ek het gesmul aan die geregte van die kunste, musiek en drama. Multikulturele aspekte het vir my nuwe dimensie gekry en ek het oor die kleurgrense (!) vriende gemaak.
Deur hierdie mallemeule van ervaringe het ek vanoggend in Gants Hill se Metodiste Kerkie beland. Blosend moet ek erken dat ek nie besef het dat vandag Herinneringsdag is nie. Dit het gereën vandag – daardie grys-grou Londen weer. Waar jy eintlik jou wil toewikkel in ´n donskombers of troosteloos aan die huil gaan. Die warmte en opregtheid van die gemeente het my egter dadelik laat tuis voel. Die diens is gewy aan diegene wat geliefdes, vriende en/of kennise in die twee wêreldoorloë verloor het. Tydens die liturgie is daar geleentheid gegee om ´n kersie vir die afwesige siele aan te steek, en ´n Poppy neer te lê.
En vandag was my oë vasgenael op die kromgetrekte, trotse, hartseer gryskoppe wat bewerig met arthritis vingers ´n kers aangesteek het en voetjie-vir-voetjie die trappies af is om ´n blommetjie neer te lê vir iemand wat ek nooit geken het nie. ´n Oom het met sy navy blou dubbleborsbaadjie aan trots verby my gestap, maar die weemoed in sy oë sal vir lank nog ´n induk op my gemoed maak. Ek wens so ek kon elkeen van hulle teen my onervare jong bors druk sodat die verlede net saggies weggevee kan word.
Maar, bevoorregte jongmens wat ek is, is dit my nie beskore nie. Is dit nie my plek of tyd om werklik te begin verstaan watter impak daardie gru-jare op hulle gehad het nie. En sal ek nooit die angs, verlange en woede kan verstaan nie.
Ek sal teruggaan Suid-Afrika toe en weer met kinders werk. Maar hierdie keer sal ek vir hulle leer dat geskiedenis nie vasgevang kan word in boeke, onderhoude of films nie. Dat die antwoord op al ons vrae gebêre word in die oë van diegene wat reeds ervaar het.. En vanaand bid ek dat ek geseën sal word om nooit blind te raak daarvoor nie …
Barking
UK
10/11/2002
skrywer: Sonja Strydom
