Oom Hansie maak nuwe vriende

Toe Oom Hansie by die Coffee Shop op Patensie verbyjaag, slaat hy brieke aan en sit eintlik so half agtertoe soos hy die pedaal pomp. Die joggies by die garage waar hy eindelik tot stilstand kom, storm uit hulle glashokkie om die gedoente te aanskou, maar Oom Hansie het nie tyd vir stront nie en reverse die Peugoet bakkie terug met knersende ratte tot voor die Coffee Shop. Hy storm blindelings deur die stofwolk by die plek in en los Oom Dawie en Tant Nellie in die bakkie, nog steeds bewend van die skok.

Die twee nerfskraal oumense is net besig om by die deur in te kom toe hy al by die toilet uitkom, nog steed besig om te sukkel met sy broek se knope.

“Kwit Dawie, en as julle so aan mekaar hang soos twee hanslammers?” vra hy. Oom Dawie en Tant Nellie, duidelik gatvol vir die Oom, ondersteun mekaar tot by die rusbank en plak hulle dan uiters onseremonieel daar neer. Tant Nellie se maer mossiebeentjies ruk soos moerige duisendpote toe sy tot ruste kom.

Oom Hansie sien met een oogopslag dat die Coffee Shop eintlik ´n ou huis is waarvan die kamers gebruik word as ´n haarsalon, curioshop (seep en kerse) en naelverfplek, met die sitkamer wat skynbaar double as ´n koffiedrinkplek. Die oorweldigende plattelandse pretensie gaan dus selfs nie by die Oom verby nie.

“Bid jou dit nou aan” glimlag hy vriendelik vir die jong vrou wat uit die haarsalon nader stap. Sy gooi met al die pastorale grasie wat sy kan bymekaarskraap haar hamerkopstyl se kuifslierte uit haar gemake-upte ogies en glimlag styf terug.

“Ou juffie, jy weet mos wat die ding met haarkappers is” en voor sy kan antwoord “mens sny altyd jou hare by die een met die lelikste haarstyl.” Toe sy geen reaksie toon nie, verduidelik hy geduldig: “sien, julle sny mos mekaar se hare – jy wil mos nie by die een sny met die beste hare nie! Hehehehe” skater die oom terwyl hy sy rugbykouse optrek “hehehehehehe”.

“Kan ons oom help?” vra die nuppy (not upwardly mobile) terwyl Oom Hansie haar van kop tot tone bekyk. “Wel my meisie, voor op die plek staan koffieshop en ons drietjies sal nou daarvan vat, of hoe?” Oom Dawie en Tant Nellie knik.

Die vrou maak ´n omkeer soos ´n wafferse drilsersant en marsjeer kombuis toe om die slawe daar te gaan aanspoor, die vinne ooglopend opgeruk.

“Kwits ou Nellie, het jy al so ´n blink rok op ´n Dinsdagoggend gesien, hehehehehehe” bulder Oom Hansie agterna. Die Oom haal sy salpeterbevlekte hoedjie af en syg met ´n blaas in een van die leunstoele neer en maak hom tuis. Hy merk nou eers die bruingebrande kerel in die ander leunstoel op. “Moremore” wys hy tande. Hy kan nie mannetjie lekker plaas nie, want hoewel hy soos ´n boerseun lyk, is dit duidelik dat die man effens ongemaklik voel in die plek. In elk geval te netjies vir ´n plaasboer. Die boertjie knik vriendelik sy kop in Oom Hansie se rigting en tuur dan weer by die kombuisdeur in waar die hamerkop so flussies verdwyn het.

“Nou vertel my, is jy ook hier vir ´n haarsny?” skater die Oom.

“Nee oom, ek ry maar net deur die dorp, gou gestop vir ´n lafenissie”. Hy kyk uit ordentlikheid ook in Oom Dawie en Tant Nellie se rigting, maar die twee sit voor hulle en uitstaar soos palestyne in ´n sinagoge.

“Ja jy weet, toe ek ´n jong man was moes ek my pa op die plaas help deur op die Railways te gaan werk. Drywer sien. Nou daai tyd moes ons koffie en kos saamvat op die treine, en ok nie sukke fancy fleste soos daai nie” knik hy in die rigting van die jong man se vlekvrye staalfles wat intussen vir hom gebring is. “O nee, ons moes koffie in erdekannetjies saamry.”

Die jong man knik beskaafd, maar sy oë draai in sy kop soos ´n merrie voor sy skop.

“Nou daar anderkant Bethal het die Hollanders mos ´n Krupp spoorlyntjie gebou voor die oorlog. Die lyn lyk ook nie soos vandag sinne nie, want die blerrie Hollanders het nie reguit gebou nie, hulle het die ding so al met die kontoere afgevat. Was mos betaal per myl, sien.” Oom Hansie onderbreek die storie teensinnig toe die kelnerin (wel eintlik bediende) die koffie neersit. Van die gewipte hamerkop is geen teken te sien nie. “Enne ….”

“Nou ja oom, dit was baie interessant, maar ek het nog ver om te ry” prewel die boertjie terwyl hy geld op die tafel voor hulle neersit. “Veilige reis en lekker bly”. Exit right stage soos ´n komeet.

Oom Dawie se kop knik stadig op en af terwyl hy nikssiende na die deur staar waar die boertjie so pas uitgebeam is.

“Boere-adel” praat hy met niemand in besonder nie. “Ja, Boere-adel”

skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Leave a Reply