Oom Hansie leer die potpaddas ‘n les

Saterdae is groot in hierdie geweste. Baie groot. Oom Hansie het vroemore al begin soek na sy bakkie se sleutels.

“Sienaaa!!!” brul die Oom.

Siena het maar hier op die plaas grootgeword en voor elke Krismis en Nuwejaar saam met die ander die pad dorp toe aangepak met ´n trekker en sleepwa. Nooit skool geloop nie. Ongeletterdheid ten spyt, het Siena al donkiejare gegradueer, honoris causa nogals, by die universiteit van die lewe. Hierdie deel bevat baie van die aarde se natrium en Siena is nie stoepit nie. Nie eers amper nie.

“SIENAAA!!! Kwits!”

Met die dat Oom Hansie kamer toe is om die bakkie se sleutels te gaan soek, het Siena die hasepad gekies. Sy weet hoe ongedurig die ou man kan raak as hy soek. En dis baie. Selfs Vlekkie sien die onafwendbare storm broei en bring die benoude tye deur in die onmiddellike omgewing van Siena se skeefgetrapte hakskene.

Eers as die Oom sy salpeterbevlekte hoedjie ferm op sy kop het en met doelgerigte tred op die ou Peugeot afpyl, sal Vlekkie sy bangatgeit laat staan en met verwagtinglose blymoedigheid agterop die bakkie spring. Oom Hansie het hom pas tuisgemaak agter die stuur en leun by die venster uit.

“Vlekkie!”

Vlekkie spring deur die oop venster (wel, as mens erg tegnies raak – daar is nie ´n venster nie) by die kajuit in tot langs die Oom. Oom Hansie gluur gemaak vies na die stertswaaiende hond (goed, tegnies het die hond ook nie rerig ´n stert nie, maar hierdie is ´n storie) en trek weg.

Eers soos die stof stadig neerdaal op die peerboom agter die agterdeur se blare, kom Siena agter die hoenderhok uit met die weglêhen se eiers in haar hande. Ten spyte van haar engelagtige gelatenheid is die verligting tog sigbaar in haar houding.

Nadat Oom Hansie die boks leë brannewynbottels ingeruil het en sy draaie by die koöperasie gegooi het, ry hy gou na sy groot pêl, Oom Frik, se kantoor. Soos elke Saterdag groet die lot wat aan die toonbank en die pooltafel hang, vriendelik toe Oom Hansie by die swaaideure instap. “Mirrag mirrag mense” grinnik die Oom en neem sy plek langs Oom Frik in. “Dag Hansman, jy=s net betyds om my te kom onnersteun” bulder Oom Frik “ons praat nou juis oor Internasionale Aangeleenthede.”

“Die klein snotkop daar by die venster reken mos nou lat die storie in die Huisgenoot van die Barend Senekal mannetjie daar in Ontario groot waarheid is” bulder Oom Frik voort in >n groot stem. Oom Hansie vat die glas met die dubbel in, trek die Coke nader, handel eers al die sakramente af en kyk dan op, sy gesig ´n vraagteken. “Ontario. Ontario. Ja man, daar anderkant Keimoes. En is dit nie die Senekals wat hoeka mos so onner mekaar ingetrou het nie?”

Toe die ergste gelag bedaar, is Oom Hansie steeds bloedrooi “Kwits, julle mannetjies moet my en Oom Frik nie de donner in maak nie!” Hy loer na Oom Frik vir onderskraging maar die grote draai gans te ywerig aan sy weglêsnor se punte om selfs te knik.

“Oom Hansie” koggel een van die mannetjies by die pooltafel. Hy hou >n twintigsentstuk omhoog. “Die koerante reken jy kan een van daai mense van Saddam Hoesein vir ´n dag kos gee hiermee.”

Die Oom draai half om in die rigting van die jongman “Bid jou dit nou aan. Ou Frik, gee daar ´n siegret man. En jy, jou ellendige klein miswurm, druk “n vyfrand in jou agterent op lat hulle kan vrek van die honger!”

skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Leave a Reply