Kieslys

Close


*/

25 Oktober
2018
Verhale
178 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

’n Asgat, ’n houtkissie en ’n dwarrelwind

Oom Kotie sit op die stoep met die houtkissie op sy skoot. Hy glimlag oor die komiese daarvan, maar tog wonder hy: is daar ’n verskuilde boodskap daarin?

Wat is ’n asgat; verbrande hout, afval, weggooigoed – of steek daar meer in ’n asgat.

Dit was die Sondag na die erediens, toe kom krap Ant’ Essie die hele heilige rusdag deurmekaar. Die lamsboud en gebakte aartappels sis in die koolstoof. Sy mond water dat hy net moet keer of hy blaas die kwyl saam met sy pyp se rook uit. Ant’ Essie kom sit in die voorhuis, haal haar breiwerk uit die naaldwerkmandjie; tel die steke versigtig, bekyk die breiwerk met ’n afstand en trek aan die wol. So met die brei val sy Oom Kotie se salige gedagtes wreed in die rede.
“Nou Kotie, my ou man, wat gaan jy eendag met my as doen nadat ek veras is?”
Hy verstik aan sy pyp. Die rook brand gal-warm in sy keel. Hy kan skaars ’n woord uiter.
“Maar my vrou, waar kom jy nou aan verassing. Ons word mos hier op onse eige plaas in onse eige kerkhof begrawe, nie waar nie?” Oom Kotie trek homself regop in die stoel en leun vorentoe om erns aan die saak te bied.

Dis die nuwe predikant wat die saadjie kom plant het. Kom hier aan op die dorp, ’n nuwe proponent, jonk in die beroep met ’n kop vol moderne geleerdheid. Studeer mos dese dae meer uit oorsese boeke as die Woord self. Kom ook sommer die dag skoon verdwaald hier aan op die plaas in sy blink kar; klinknaelbroek, pure kommunisties. Die hippie sandale aan sy voete lyk meer na ’n twaksak en ’n hemp wat oor sy broek hang soos Ant’ Essie se brekfis tafeldoek. Vra nogal waar is sy blyplek.
“Dis ’n pastorie,” sê Oom Kotie toe vererg, “… nie ’n blyplek nie.
Daar trek hy weg. Sy motor se wiele laat klippe en gruis die lug intrek. Die arme kapokkies vlieg onder kakiebosse in vir skuiling. Al wat ’n volstruis is druk hul kop in ’n gat. Kyk, toe gons die plaaslyne, vertel Ant’ Essie agterna vir die susters by die biduur. Oom Kotie draai die plaas foon se slinger dat dit lyk of hy melk karring. Elke liewe ouderling en broeder word opgekommandeer na ’n kerkraadsvergadering in die afwesigheid en voor bekendstelling van die nuwe dominee. Daar moet dadelik ’n noodberig aan die sinode gerig word. Hierdie duistere gesant moet liewers her-beroep word. Oom Kotie kan sien aan sy aansien dat hy van losse sedes aanmekaar gesweis is. Ongelukkig tel die stemmery nie ten gunste van Oom Kotie nie en nuwe proponent behou sy posisie as herder van die skape.
Nou moet Oom Kotie ook ’n erkentenis maak aan homself; dominee se eerste diens was verbasend goed. Al het die duistere gesant sonder ’n das die preekstoel betree en boonop sonder ’n toga, was hy half vergewe. Die herder se preek oor geloof en gebed het die skape diep aangeraak. Oom Kotie ook. Toe volg sy preek oor die oordeel; mense wat oordeel, ander op die baadjie trakteer. Toe voel Oom Kotie skuldig maar hy bly verdag.

“Ja, my man, ons het besluit oor die begrawe, maar …” nou trek Ant’ Essie weer aan die breiwerk, “ … ek weet darem nie.”
“Weet wat nie, vrou?” Oom Kotie neem ’n trek van sy dooie pyp.
“Om so onder die grond te loop rus. Net die gedagte van wurms wat aan jou vreet. Nee, ek sien nie daarvoor kans nie.” Sy het klaar besluit.
Oom Kotie kyk na die portrette teen die muur; net die gesigte van oorlede familie, geen kinders.
“My vrou, veras is verkeerd. Lees maar in die Woord. Tot stof sal ons keer. Om veras te word is te na aan die Satansvuur. Ek word begrawe; een gat en jy saam in dieselfde gat. As ek eerste gaan, kom leg jy bo-op my en as jy eerste gaan, kom leg ek bo-op jou.” Ant’ Essie gee ’n kuggie. Dié lê het hul twintig jaar terug laas gelê. Toe bly sy liefs stil.

Nog voor die gesprek tussen Oom Kotie en Ant’ Essie daag jong dominee op met huisbesoek. Dra toe sy kommunistiese broek, maar mens oordeel nie. Die tafeldoek is ingesteek en hy dra ordentlike skoene met veters. Wat hy aan sy hare smeer kan Oom Kotie nie uitmaak nie; ystervark penne, gloei eintlik, kuif staan regop soos ’n draadborsel – maar hy oordeel nie.
“Dominee,” begin Ant’ Essie, “ … wat dink dominee van verassing?” Toe kyk Ant’ Essie oor haar bril en trek haar lippe bymekaar. Sien, dit is hier waar die ding toe begin.
“Ant’ Essie, nee daar is geen sonde daaraan nie. Daar staan duidelik in die Bybel dat ons onse tydelike liggaam gaan verlaat om weer terug te keer na ons geestelike liggaam.” Oom Kotie sê niks.
“Dankie, dominee, ek vra nou maar net.” Dominee kyk na Oom Kotie.
“Het Oom Kotie dalk ’n vraag wat pla?”
“Nee dominee, ek swyg liewers.”
Hy moet sy ry kry, dink Oom Kotie, maar dominee kuier met ’n koffie en tuisgebakte beskuit. Later selfs saam met die tante kombuis toe en wragtig, sal hy nie die as uit die koolstoof krap en ewe sê: “Ant’ Essie, as is ook maar net stof. Tot stof sal ons keer.”

Die as gaan asgat toe. Dit wat afval is word ook daar verbrand. Die mens hou mos van alles verbrand. Intussen verstik God aan die rook. Hoe moet Hy Sy kinders aanskou van daar Bo?
Toe kom God na die aarde en Hy kom na haar toe.
Sy verbrand ’n klomp briewe, van jare se opgaar; familie-briewe, vriende-briewe. Stemme wat stillê in ’n laai, net praat wanneer jy weer ’n brief lees. Nou lê die stemme dood op ’n ashoop.
Die dag daarna maak sy skoonskip van die studeerkamer; ou tydskrifte, koerantuitknipsels, plakboeke. Prente en woorde wat jou herinner aan gister, eergister, verlede jaar en toentertyd. Weg, uitgewis, vergete.
’n Hele sak vol foto’s wat omkrul in die vlamme; weet nie meer wie hulle is nie, kan nie onthou nie, vergeet waar dit vandaan kom.
Verjaardag en Kerskaartjies, begrafnisbriewe, konsertprogramme – as wat waai in ’n dwarrelwind.
“Los,” sê hy vir haar, “… los die goed. Kom sit eerder hier by my.”
’n Asgat is vir weggooigoed. Daar rus dit wat jy nie meer wil hê nie, of wat jy wil vergeet. Soms brand daar goed wat mooi was, maar mooier is in jou onthou.
Troos; ’n arm om haar skouer, ’n hand wat haar sagte gryshare streel. ’n Ligte soen op haar voorkop.
Dit voel asof sy wegkwyn; uit sy arms glip, haar menswees op die ashoop lê, of sy haar uitvee weg van werklik, haar bestaan uitwis tot net die herinneringe wat ander aan vashou. Dit is al wat oorbly.
Maar God staan by haar. Hy berei haar voor. Wie het die aardse herinneringe nodig wanneer jy op pad is na die ander kant?
Sy ken hom nie meer nie.
Die einde was nie mooi nie. Haar skraal gesig, haar leë oë. Haar warm hande onbekend. ’n Glimlag, nou en dan, soos wanneer jy glimlag vir ’n vreemdeling. Die lief-vir-jou-glimlag verlore binne haar niemand-meer. Sy word ’n onbekende raaisel, ’n vreemdeling, net ’n asem. Al verder glip sy weg tot binne Sy arms.
’n Dwarrelwind kom, waai die as tot duskant die boomtoppe, ver oor die berge, tot by die wolke en verby die sterre.

Hier sit hy nou met die houtkissie op sy skoot. Ant’ Essie het net nie kans gesien vir die ondergrondse rus nie. Sommerso agter sy rug haar laaste wense by dominee opskrif gaan stel onder eed met haar hand op die Heilige Woord. In die pastorie nogal.
Dit was ’n besonderse begrafnis. Dominee het mooigepraat oor die tydelike en die geestelike, die hiernamaals, die prag van die Hemel, God se onbaatsugtige liefde. Toe vat God haar saam en Hy weet haar gedagtes is skoon, weg uit die wêreld. Hy gee vir haar haar geestelike liggaam, Hy maak haar ’n engel. Toe stuur hy reën en die asgat is nat, die rook weg en die dwarrelwind stil.

Dominee het gesê hulle sal weer bymekaarkom, eendag. Wat maak dit nou saak – een gat, of een hier of een daar.
‘Wat gaan jy met my as doen nadat ek veras is?’

Nou sit Oom Kotie maar met die houtkissie op sy skoot. Hy wag vir ’n dwarrelwind. Daar is nog die liefdesbriewe; hulle twee se stemme wat stillê in ’n laai.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Verhale
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Stroomop nou op DVD | Roekeloos
2018-11-10 08:00:33
[…] opwindende avontuurverhaal, Stroomop (Ivan Botha se regisseursdebuut) wat deur 116 999 kyk...
Oesjaar | Roekeloos
2018-11-08 08:23:33
[…] Leeuspruit (2002), Diepverlange (2007), Onderweg (2011), Ligjare (2013), Doep Is Nie Dood ...
Bloed, dunner as water | Roekeloos
2018-11-07 13:58:12
[…] word familiebande so totaal verbreek? Joernalis Charné Kemp, topverkoperskrywer van...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.