Dit is meer as veertig jaar terug toe aandrokke, haarlokke en kantgordyne mode was. Ek het ’n mooi donker blou pak gehad met ’n donkerder duif-blou ondertoon. Ek het gelyk soos ’n model uit Sarie. Daai tyd was daar nie manstydskrifte nie en mans weet min van modes. Al mansmodes wat daar was, was Safari-pakke en Kaki in die Landbou Weekblad. Nou is Kaki steeds mode en die beste boutique om by te koop is die Koöperasie vertel ’n boer vir my van Humansdorp se wêreld. Ek dwaal af …
’n Vriendin vra of ek haar sal vergesel na ’n troue toe. Ek gaan nie na enige troues toe in ’n galmgat grot of ’n hel-hotel wat Gordon Ramsay sal laat swets soos ’n gangster van Athlone nie. Ek vra of sy genooi is, want mense gate-crash troues vir gratis take-aways. Net-nou soek hulle ons name op ’n tafel lys; dan druk hulle jou op ’n hoek van ’n tafel, almal kyk na jou en dink jy is die entertainment. Vriendin bevestig alles is in orde. Sy het selfs gehelp met die verversings.
’n Spinnekop hardloop teen my ruggraat op en maak nes in my hare soos ek gril vir haar pienk aandrok toe sy haar verskyning maak. Aandrok het lang klok-moue so groot soos haar middellyf; Medieval, sy lyk soos die bruid van Jan van Eyck in ‘The Wedding of Arnolfini’. Net daar kry sy ook die bynaam in my kop – Arnolfini. Ek vra of dit ’n fancy dress is. Nee, sê sy, net ’n spoggerige aand troue. Dit is die pienk wat pla; Chappies bubblegum pienk, lieste-pienk soos ouma se melkkoei. Arnolfini sal ge-camouflage wees tussen pienk skuim poffertjies en marshmallows, dink ek. Arnolfini sit agter in die klein Austin’tjie en lyk soos ’n pienk prawn in ’n braaipan.
Onthaalsaal is ’n skuur by die ou landbou skouterrein; stof, hout balke en ’n sementvloer vol oliekolle. Die tafels is versier met drup erse in Kellerprinz bottels, papier servette, peanuts en popcorn in papier borde. Die buffet tafel is bedek met ’n gedrapeerde pienk kantgordyn. Ek kan my nie voorstel wie ’n tafel kan drapeer met ’n pienk kantgordyn nie, sê ek en trek my neus op ’n knop en skud my kop in ongeloof. Dit gee mens pink-eyes, sê ek weer. Laas so ’n gordyn gesien by misses Pillay se Spice Shop in Malabar, voeg ek by. Tieners weet nie altyd wanneer om hul mond te hou nie.
By die tafel sê ek almal moet die popcorn en peanuts vermy. Ek wys na die twee rotte wat bokant ons koppe op die balke hardloop. Op die buffet is daar beetslaai voetspore en knaagmerke aan die hoenderboudjies. Die twee rotte is later ses en loer van bo-af na my met pienk oë wat glaserig skyn. Bruid en bruidegom open die dansvloer met ’n shuffle en die een rot shuffle saam, gly van die balk af en beland tussen die bruid se pofmoue. Die ander vyf rotte vlug gate toe, maar een gaan kruip weg in ’n gat in die troukoek. Ek sê ons moet loop, want vanaand word ons opgevreet; besmet met ’n pes uit die Renaissance, hondsdolheid van die aartappelslaai en knaagdier-kinkhoes van die hoenderboudjies. Selfs die French polonie het tóé al verdag gelyk. Verby die buffet gryp Arnolfini na iets, maar ek wil so gou as moontlik by die deur uit.
Medieval Arnolfini het my nooit weer gekontak nie, behalwe tog een keer; ’n uitnodiging na haar troue. Sy het pragtig gelyk in ’n diep room-kleur, ondertone van gousblom-goud en heuning-bruin, sagte valletjies van wit seesand en spinnerak-sy … Ek het Arnolfini nooit weer gesien nie.
Ek hoor sy woon in Brits … en ek hoor sy is gelukkig, en ek hoor sy het ’n ou pienk kantgordyn voor haar slaapkamer venster.
