Onderhoud met JP du Plessis

JP du Plessis het sy graad in Drama- en Teaterkunde in 2003 aan die UFS voltooi en is tans besig met sy M-verhandeling. Produksies waarin hy opgetree het is Piet se Tante, Mattewis en Meraai, Skroot, Equus, Cat on a hot tin roof, Die Laaste Aand, Bloedbruilof (of sy oorspronklike Engelse titel Blood Wedding), Bullshit Mia-Lee, Zollie en Cor, die ander Van Gogh. In 2004 was JP stigter/bestuurder van die gemeenskapsteater- en ontwikkelingsprojek Create @ Once, wat onder PACOFS sorteer het. Ook sien ons dikwels sy gesig in advertensies vir kykNET. Onlangs was die jonge JP in Gent en Amsterdam waar hy die rol van Cor Van Gogh vertolk het in die gelyknamige stuk.

Haydee: Hoe skep akteurs onvergeetlike karakters?

JP: ‘n Onvergeetlike karakter kan nie net die werk van die akteur alleen wees nie. Die grondslag word gelê deur die dramaturg, die riglyne aangedui deur die regisseur. In die geval van Cor van Gogh, was daar so ‘n uitmuntende en natuurlike grondslag vir groei en verdieping geskep in die teks dat die taak om Cor te word, soveel makliker was. Cor is ek, jy, almal. Hy is ‘n tragiese protagonis. Die temas in die stuk is universeel. Sy onbenullige kortstondige lewe bring vir hom geen geluk. “Dis ‘n verskriklike gedagte”, sê ‘n koorlid iewers in die stuk. Cor herinner my aan my eie menslikheid. Hy spook by my.

Haydee: Party akteurs sit om ‘n tafel, ander wil die teks so gou moontlik neersit en bewegings plot. Vertel van jou werkproses en instudering van ‘n rol.

JP: Die ideaal is om geen teks gejaagd aan te pak nie, dit mag net lei na ‘n gejaagde production-run en dit kan nogal chaoties raak. Ek lees die teks weer en weer en weer teen verskillende tempo’s. Eers stadig, dan vinnig, dan weer stadig .dan koffie maak, whiskey ingooi en weer lees. Soek die karakter se motief, probeer sy gedagtegang peil. Weet nie of enige akteur al sy geheime gaan uitlap nie!

JP du Plessis in Bloedbruilof
JP du Plessis in Bloedbruilof
Haydee: Elke taal het sy eie ritme, nuanses en infleksies, veral op die verhoog. Met watter uitdagings het jy te make gehad toe jy vroeër vanjaar die rol van Cor in Afrikaans moes speel voor ‘n Nederlandse gehoor in Gent en Amsterdam. Moes jy jou vokale aanslag en speelstyl aanpas?

JP: Ja, ek was effe senuagtig rondom die taal-kwessie hoofsaaklik omdat ek so vinnig praat. Dit was weereens ‘n geval van tempo. Buitelandse gehore is gewoond en het groot waardering vir stukke van twee uur en langer. Dit het my beter laat voel, veral ten opsigte van die lang monoloë in die stuk. My regisseur, Daleen Krige, het ook klem gelê op diksie. Op oorronding en ontronding. Die stuk was baie goed ontvang dus het ek seker iets reggedoen.

Haydee: Ook moes jy fisiese veranderings ondergaan vir die rol van Cor?

JP: Ja, ek het donkerbruin hare, blasvel, swart baard. Cor is bleek van gelaat met ‘n rooibruin snor en vlamrooi hare. ‘n Tipies melankoliese landbouer uit die Lae Lande. Party mense het gesê die wortel hare pas selfs by my. Een van die lekkerte van akteurwees is om jouself êrens te los en iemand anders te word vir ‘n tydjie.

Karin Scholtz as vrou en JP du Plessis as Cor in die stuk Cor, die ander Van Gogh
Karin Scholtz as vrou en JP du Plessis as Cor in die stuk Cor, die ander Van Gogh
Haydee: Word spel nie gekniehalter deur lang stukke dialoog nie?

JP: Nee want in Cor byvoorbeeld is die dialoog baie natuurlik, Cor se gedagtes word progressief meer en meer depressief (hy was ‘n bipolêre lyer). Sy woede, angs, die koorsaanvalle wat hy kry in die krygsgevangenekamp en sy laaste donker, deurmekaar ure vorm die grondslag van die stuk en is alles verweef in die teks. Dit is vir my die tekens van ‘n groot skrywer. Verder is dit net harde werk en nogmaals harde werk.

Haydee: Jou gunsteling sin of deel in die stuk Cor, die ander Van Gogh?

JP: Cor: “Waar ek my ookal bevind.. maak besighede toe.. word die padverkeer geleidelik minder, trek die horison toe. Ek is ‘n giftige plant. Ek gooi ‘n skaduwee oor die veld”. Dié deel sal my altyd bybly.

Haydee. Jy was by heelparty produksies betrokke tydens dié jaar se KKNK?

JP: Ek het die oorspronklike storie van Die Broers Grimm in Afrikaans verwerk vir skole in Bloemfontein en op die platteland. Dan is daar ook Rooikappie en Hansie en Grietjie. Ek het die regie vir ‘n Koffer in die Kas van Jeanne Goosen gedoen die jaar en die stuk baie geniet. Ek is baie lief vir die werke van Kahlil Gibran. ‘n Verwerking van sy werk sou vir my ‘n yslike uitdaging wees. Verder skryf ek aan ‘n eenmanvertoning waaroor ek nie veel wil uitlap nie.

Haydee: Jou M-tesis handel oor gemeenskapsteater. As dit ook ten doel het om amateur teater lewend te hou, hoekom is dit nie verteenwoordigend nie?

JP: My studies handel grotendeels oor gemeenskapsteater in Suid-Afrika. Ek en Retha Loubser het ‘n ontwikkeling-deur-drama program saamgestel in 2004, genaamd Create @ Once, wat ek dan ook as grondslag of verwysing vir my studies gebruik. Die program is by vier skole in voorheen benadeelde gemeenskappe geïmplementeer en sowat honderd skoliere is betrek. Ons het die projek onder beskerming van Pacofs (Pacofs Artistic Development oftewel PAD) aangepak en hoewel dit nie vir ‘n spesifieke etniese groep ontwerp was nie, het ons toevallig in die townships beland. Pacofs was van mening dat daar ‘n tekort is in die townships. Intussen het PAD ontbind weens finansiële komplikasies en staan die projek nou stil.

Haydee: Is die dilemma’s van gemeenskapsteater nie dieselfde as die van gemeenskapsradio nie? Hulle moet kompeteer teen kommersiële radiostasies met geld en borge (die ekwivalent van geborgde produksies en kunstefeeste) en die omroepers (soos die amateur akteurs) werk meestal sonder vergoeding.

JP: Toe die projek nog geloop het, was ‘n groot deel van elke program spandeer aan die tema van teater as besigheid, hoe skoliere hulle eie geld kan genereer. Hulle het die vertonings wat uit die program uit gegroei het opgevoer vir weeshuise en addisionele kaartjies aan mense verkoop. Straatteater was nog ‘n vorm van fondsinsameling. Party was suksesvol, ander nie. Drama is tog ook self-ontwikkeling. Ons was projekbestuurders, fasiliteerders. Die hoofdoel was nie om met kommersiële teater mee te ding nie.

Haydee: Toneelstukke en vertolkings wat jou deur die jare aangegryp of geroer het?

JP: Dis moeilik om uit te sonder, daar is so baie. Een wat dadelik by my opkom, is Ek, Anna van Wyk met regie deur Marthinus Basson en Antoinette Kellerman in die hoofrol. Vir ‘n vroeëre kknk. Aangrypend genoeg om my te motiveer om van toneel ‘n lewe te maak. ‘n Meer onlangse een was Drome van ‘n belaglike man met Frans van Rensburg. Hy het twee stukke, een van Berkhoff en een van Dostoyevsky vertaal en opgevoer. Dit het my weer herinner aan die mag van teater. Peter Schaeffer se Equus staan ook uit. Verder probeer ek om nie Hennie van Greunen en PG du Plessis se stukke mis te loop nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply