Kunstekaap is propvol gesinspret vir die 2005 somerseisoen

Die Kunstekaap Skouburg aan die Kaapstadse strandgebied is oorgehaal vir ‘n skitterende program van gesinsvermaak oor die somervakansie.

Volgens Kunstekaap se bestuurshoof, Michael Maas, het die pret reeds begin met die aanbieding van die eerste ysballet ooit by die Skouburg, Doringrosie op Ys sowel as die drama, Groet die Grotman, die Afrikaanse weergawe van die suksesvolle Defending the Caveman.

Gedurende Desember word 11 verskillende opvoerings aangebied wat wissel van kinderteater en sirkus tot opera en dans. Dit word in Januarie gevolg deur die Suidoosterfees, ‘n internasionale operette sowel as die jaarlikse Shakespeare-produksie om Maynardville opelugteater se 50ste bestaansjaar te herdenk.

“Kunstekaap het homself as die borrelbron van wêreldgehalte vermaak tydens die somervakansie gevestig,” sê Maas.

“Die Desember-program sluit in twee kinderproduksies – Pinocchio op Engels en Liewe Heksie en die Rekenaar op Afrikaans, twee ballette, ‘n sirkus, ‘n opera en populêre musiekkonserte deur die Kaapse Filhamoniese Orkes (KFO).

“Vanjaar het Kunstekaap die vermaakliheidsprogram gebalanseer dat dit mense van oraloor na die kulturele hart van die stad kan lok,” sê hy.

Kaapstadse Stadsballet bied twee ballette aan by die Teater: Robin Hood, wat deur die gewilde danser, Robin van Wyk, vir die balletverhoog verwerk is, en Let me Entertain You deur Sean Bovim, die meesterbrein wat vir loketreffers soos Swingtime at the Ballet en Queen at the Ballet gesorg het. Dié ballet bring hulde aan die Britse superster, Robbie Williams. Kostuums is deur Craig Port ontwerp.

Die KFO gee dié feestyd ekstra ritme by die Operahuis met Big Band Swing gevolg deur Bring on Broadway wat ook die voorspel is vir die beroemde Kunstekaap piazzapartytjie op Oujaarsaand.

Cirque du Cap is die eerste sirkusaanbieding by Kunstekaap. ‘n Tradisionele, ten volle lugversorgde, sirkustent gaan in die Stigterstuin agter die kompleks opgerig word met internasionale en plaaslike kunstenaars, akteurs, en musici in asemrowende akrobatiese toertjies, kulunstenaars, narre, jongleurs en ponieritte vir die kinders.

Kaapstad Opera gaan vier aanbiedings van Amahl and the Night Visitors, ‘n opera vir die feestyd, opvoer.

Die opwindende Januarie-program sluit in die Suidoosterfees met 21 verskillende aanbiedings, ‘n feestuin, kunsvlytstalletjies en tonne buitelugvermaak by die Skouburg.

Die Maynardville Opelugteater vier sy 50ste verjaardag met Shakespeare se Twaalfde Nag (op Engels) en Carmen deur Kaapstadse Stadsballet.

Die vonkelende weergawe van Franz Lehàr se operette, The Merry Widow, word deur die bekroonde Carl Rosa geselskap van die Verenigde Koninkryk by die Operahuis opgevoer.

“Ons het vanjaar iets vir elkeen teen billike pryse in ons Kerskous. Almal – plaaslike inwoners en besoekers – is welkom om te kom smul aan ons propvol program van gesonde gesinsvermaak,” sê Maas.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar