Roer teater jou nog?

Die afgelope jaar het ek te min teaterstukke gesien om ‘n objektiewe mening te lug. Enkele gedagtes rondom dié wat ek wel gesien het (en wel in die buiteland):

MAN AND BOY (Duchess Theatre, Londen) Teks: Terence Rattigan met die beminde David Suchet in die hoofrol. Moet nie verwar word met die gelyknamige TV-reeks wat handel oor Harry Silver nie.

Man and Boy is formidabele teater en regisseur Maria Aitken het grootliks die gesoute Suchet hiervoor te danke. Hy dra die produksie met die gemak en grasie van ‘n veteraan. David Yelland as Sven Johnson (Antonescu se handlanger) en Colin Stinton as Mark Herris se vertolkings was ewe treffend. Stinton (met sy perfekte Amerikaanse aksent) is bekend om sy spel in rolprente soos The Hours, Tomorrow Never Dies, en A Year in Provence. Die spel van Helen Grace (as gravin Antonescu) was teleurstellend op alle vlakke. Trouens, die aktrises het maar sleg afgesteek in die produksie. Grace was só ongeloofwaardig, en al wat ek van Jellicorse se spel onthou, is drif en gillery (niemand het haar blykbaar gesê van die teater se goeie akoestiek nie).

Kan dit wees dat sommige dramaturge beter skryf vir een geslag? Is dialoog alleen te blameer vir ongeloofwaardige vertolkings? Ben Silverstone as sy seun Basil getuig van sensitiwiteit. Geroer dus ja, maar net momenteel.

THE COUNTESS (Yvonne Arnaud Teater Guildford, Engeland)

In 1853 vertrek die kunskritikus John Ruskin, sy vrou Effie en die skilder John Everett Millais met vakansie na die Skotse Hooglande. Met hulle terugkeer vier maande later, is die gravin se doen en late op almal se lippe. Die drama is baseer op een van die grootste seksuele skandale van die Victoriaanse tyd en het met sy opening 634 opvoerings beleef in New York.

Die rolverdeling sluit in Alison Pargeter (as Effie), Nick Moran (Ruskin), Damian O’Hare, Gerald Harper, Jean Boht en Linda Thorson. Ludovica Villar-Hauser was die regisseur. Die stelinklering en kostuums laat jou met tye dink jy kyk na ‘n rolprent want die drama is baie filmies benader. Wonderlike visuele stel en kostuums (die spel vind op twee vlakke plaas) en ja roerende spel van veral Nick Moran hoewel Pargeter (ek het haar verlede jaar gesien in Sugar Daddies) teleurstel hoofsaaklik omdat ek haar glad nie kon hoor nie. Geen projeksie daar. Maar hier is probleme met die teks en die regisseuse se interpretasie van die teks wat veroorsaak dat jou simpatie misplaas is.

THE POSTMAN ALWAYS RINGS TWICE (Playhouse Theatre, London)

Val Kilmer en Charlotte Emmerson
Val Kilmer (links)
Die afgelope jaar is tekste wat Jack Nicholson beroemd help maak het, afgestof, weer vir Amerikaanse akteurs aangebied (Christian Slater was laasjaar in One Flew Over The Cuckoo’s Nest) en met groot sukses opgevoer in Londen se West End. The Postman het die aanvallige Val Kilmer (opvallend hoe baie sy persoonlikheid ooreenstem met dié van Nicholson) van The Doors in die hoofrol gehad. Skitterende spel van die charismatiese Kilmer.

Mens sal egter James Cain se boek moet gaan lees om te verstaan hoekom die verhoogproduksie so radikaal van die rolprent verskil.

Wie se interpretasie is boekgebonde: die 1981 rolprent weergawe met Nicholson in die rol van Frank of Lucy Bailey se verhoogweergawe van 2005? Bailey laat die Griekse immigrant (Cora se man) na ‘n aanvallige karakter lyk, altyd netjies geklee met das en kruisbande en terselftertyd onderspeel sy die wellus en rou passie (veral in die karakter Cora, gespeel deur Charlotte Emmerson) so kenmerkend van die 1981 rolprent.

Kilmer se passie vir die karakter kom eers werklik tot ‘n klimaks laat in die tweede helfte maar dit is asof die hele toneelstuk inmekaarstort met die motorongeluk waarin Nick tot sterwe kom. The Times verwys na Emmerson se spel as ‘ambisieus’, nie eintlik vleiend as jy dink die rol het aan Jessica Lange kultus-status gegee nie.

Weereens beïndruk die geheel nie werklik nie en een swaeltjie (Val Kilmer) maak ongelukkig nie ‘n Somer nie. Die stelinkleding was ook te ‘ambisieus’ vir die klein verhoogruimte.

(die foto is van Val Kilmer en Charlotte Emmerson in The Postman Always Rings Twice)

bydrae: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Leave a Reply