Dit is September en Saldanha is oortrek met ´n mosaik van helder kleure en gevul met allerrei aromatiese, romantiese geure. Dit is blommetyd en skoenlappers speel tussen die lappieskombers van rooi, geel en oranje rond. Anna sweef op ´n wolk van geluk in die sewende hemel rond. Vandag gaan sy vir Riaan by die lughawe optel. Hy het sy belofte gestand gedoen en gaan vir ´n hele week net hare wees. As sy eerlik met haarself moet wees sou sy sê dat die afgelope twee weke nie die maklikste in haar tyd by die Akademie was nie. Sy moes letterlik draaie om Jurie loop en was kamstig so besig met studies dat sy nie hul gebruiklike draffie in die oggend kon nakom nie. Sy het onvermydelik tydens etes in hom vasgeloop en het Christelle elke keer saamgesleep om al die praatwerk te doen. Na Riaan se besoek behoort haar hart se struwelinge iets van die verlede te wees.”Jy lyk te smaaklik vandag Annatjie. Kan dit wees dat die man van jou drome sy verskyning gaan maak? Ek dink regtig ek moet saam met jou gaan. Hy gaan jou verorber as hy jou sien en ek sal dalk net moet keer of daar bly net ´n krieseltjie van jou oor” onderbreek Christelle Anna se gedagtegang. “Wat wou, ek kan doen met bietjie liefde en baie geknibble!” spot Anna liggies. “Ek wil in iedergeval ´n draai by Danelle’s Exclusives maak, het ´n spesiale uitrusting nodig om my vlees te komplimenteer tydens volgende week se gasteaand. Dus bied ek aan om jou chaffeur te wees my liewe vriendin.” Anna kan nie help om te glimlag nie. Sy het voorwaar ´n unieke vriendin en weet dat sy altyd op haar kan staatmaak. “Nou laat ons weg wees Christella!”
Anna se rooi gevaarte brom juigend die afdraande voor die Admiraal se kantoor af. Die middagson het sy piek bereik en studente stap trippelend af strand toe. Dit is Vrydagmiddag en dit beteken halfdag werk en ´n heerlike kreefbraai op Noordbaai. “Hiert jou aptytwekkende homosapien! Ek vat sommer ´n hap uit daai gespierde been van jou!” skreeu Christelle by die venster uit. Jurie gooi sy been swierlik voor hom uit en glimlag breed. As hy ´n geleentheid kan kry, hoekom nie? Die dreigende rooi gevaarte kom tot stilstand sowat 100m later. “Christelle, gedra jou! Ek dink regtig jy moet by dr Swanepoel uitkom. Ek bespeur ´n definitiewe oormaat van feromone by jou!” sê Anna giggelend. “Oormaat se moses, ek sal nie omgee om elke dag aan daardie sexy lyf te kou nie!” Anna ervaar ´n dowwe smoorpyn in haar hart. Deesdae kry sy elke af en toe die eienaarige gevoel. Moet wees omdat sy Riaan so baie mis.
Riaan kan sy opgewondenheid nie meer beteuel nie. Sjokelade en twee dosyn smeulende rooi rose om sy meisiekind te verwelkom. As daar nie 3 jaar en 1600km tussen hulle was nie, het hy haar lankal gevra om sy vrou te word. Sy eie stukkie goud……In die verte kan Riaan sien hoe ´n stofwolk swierlik verskyn en spelend agter die bewegende gevaarte sweef. Die middagson is verblindend en Riaan moet sy oë op skrefies trek om uit te maak of dit Anna se rooi motortjie is. Sy hart bokspring in sy borskas en sy mond voel droog, sy bene lam. Hy voel kompleet soos ´n verliefde tiener!
Cheetah, soos Anna haar gedoop het, sleep verby die groen gestaltes wat towerend bo die betonmuur uitstrek. “Jou jaagduiwel, jy gaan die afdraai mis!” skreeu Christelle benoud. Die stofferige grondpad word versier met die twee swierige remmerke en klippies spat verontwaardig teen Cheetah se agterstewe op. “Vervloek is die roekelose wat die magtelose se lewe in gevaar stel! As ek ouer was het ek jou boude aan die brand geklits jou ….jou onbeheerbare, ontembare rabadoe!” “Kalmeer my liewe vriendin, met Anna aan die stuur, kan jy rustig oor die vlaktes sit en tuur.” sê Anna met ´n stoute glimlag wat om haar mondhoeke krul. Tog kan sy voel hoe die lamheid haar van onder af bekruip. Vir ´n oomblik was sy weggevoer na Riaan se arms en het sy skoon vergeet van die afdraai. Sy beter van haar muisneste ontslae raak voor dit moles veroorsaak.
Anna tuur vlugtig in die tru- spieëltjie. Vandag is haar oë besonders groen, haar goudbruin hare effens deurmekaar en wange blosend van afwagtend. “Dink jy nie ek moet dalk ´n titseltjie kleur aan my smekende, smeulende lippe sit nie Christelle? “Nee wat, jy is smeulend genoeg vandag, enige iets meer en jy brand uit!” sê Christelle kortasem. Sy probeer nog die beelde van haar eie begrafnis en treurende familie voor haar geestesoog verwyder.
Riaan se bekende figuur laat Anna dink aan die laasste herhinnering aan hom. Sy hemelsblou oë, deurtrek met hartseer en gevul met trane van hulpeloosheid. Vir ewig sal die beeld in haar geestesoog gebrand wees. Vandag gaan daar net trane van blydskap wees en gaan sy die wonderlikste week beleef.
Cheetah het skaars tot stilstand gekom of Anna is soos ´n pyl uit ´n boog oppad na Riaan se arms. Met weemoed skakel Christelle die motor af en trek die handrem op. Partymaal hardloop Anna se lyf vir haar eie gedagates weg. Sy is haar beste vriendin en nog nooit het sy iemand met soveel passie vir die lewe ontmoet nie. Sy hoop net diep in haar binneste dat sy en Riaan die afstand en tyd tussen mekaar gaan oorleef. Vandag sal sy Riaan vir die eerste keer ontmoet en behoort sy aan die einde van die week ´n opinie te kan lig oor die tweetjies se verhouding. Partymaal voel sy dat dit Anna se lojaliteit is wat haar getrou aan Riaan hou. Sy het al vele toenaderings van ander mans gekry, aantreklik, standvastig, goeie mans wat elke keer die deur gewys is. As Riaan nie haar lewensmaat is nie, moet hul verhouding liefs eindig. Christelle voel skoon skuldig oor haar eie gedagtes. Wie is sy om te bepaal wie Anna se lewensmaat is?
Riaan sit die rose en sjokelade met ´n spoed neer en vang sy lawwe meisiekind wat soos ´n engel uit die hemel op hom neerdaal. Hulle lippe ontmoet dadelik, hartstogstelik, dog teer. Maande se trane van hartseer en verlange word verswelg deur die intieme teerheid van die oomblik. Saggies maak Riaan hom uit die omhelsing los. Hul oë ontmoet en die herhinnering aan Riaan se natblou oë laat Anna se hart oorloop van borrelende emosies.
“Dit moet definitief die gerugte Christelle wees. Flammende rooi hare en amandelvormige bruin oë met ´n titsel astrandheid in haar stappie en ´n ondeunde skewe glimlag. As ek nou reg onthou is dit hoe Anna jou aan my beskryf het” onderbreek Riaan die soete oomblik.
´n Ligte blos gee nog meer kleur aan Christelle se wange. Sy voel inderdaad gevlei en moet erken dat die man deksels aantreklik is. Hy het die opmerklikste blou oë, voel of dit tot in die verste hoeke van jou siel kan sien. “En jy het geen bekendstelling nodig nie meneer hartebreker. As jy weet wat Anna my alles van jou vertel het!”
´n Stuitige Kaapse wind kruip onder Anna se lente rokkie in en ontbloot veel meer as net haar atletiese bene. “Wat ´n netjies, aanmekaar-gesitte- beskermingsmeganisme teen die harde oppervlakte van weermag stoele het jy daar!” laat waai Christelle weer met en van haar eg-Christelle sê-goedjies.
Nogals ´n interessante stukkie mens dink Riaan by homself. Jy behoort nie ´n oomblik van verveeldheid in haar teenwoordigheid te ervaar nie.
“Wel dames, gaan ons in die pad val? Ek is vuur en vlam om die Weskus te ontmoet. Moet byvoeg dat ek nogals van die Kaapse wind hou” sê hy vroom en gee Anna ´n ondeunde knypie om sy tevredenheid te bevestig.
skrywer: Die Skribbelaar

Lewer kommentaar