Anna van Saldanha 2

Die branders breek lui op die goue, uitgestrekte strand, ´n seemeeu roep sy maat en iewers in die verte kan Anna die waarskuwingstoon van ´n inkomende skip hoor. Dit is die breek van ´n splinternuwe dag, die eerste dag van drie jaar wat sy in Saldanha gaan deurbring. Vir ´n oomblik word sy verswelg deur die eindelose grootheid van die stormwaters voor haar. Die soutigheid in die lug slaan haar asem weg, gaan lê drukkend op haar longe. Sy haal diep asem en word een met die skoonheid van die die weskus, die alombekende weskus.Anna word uit haar soete slaap geruk deur ´n geklop aan haar kamerdeur. Sy soek verward na die wekker op haar lessenaar. 05:15 loer die syfers vir haar. Dan onthou sy skielik van haar vroegoggend afspraak met Danie. “Ek is nou daar, gee my vyf.” Vinnig glip sy in haar hardloopklere en spoel haar gesig met yskoue water af om wakker te word. Tyd vir hare kam is daar nie. Sy gee in elkgeval nie om nie, die enigste man vir wie sy wil mooi lyk sit in Pretoria. Hoe mis sy nie vir Riaan nie, hulle gesels wel elke aand oor die foon maar die afstand maak haar rasend van verlange. Intussen oefen sy baie en leer die nagte om, net om die honger in haar binneste te voed.

Die ritmiese geklap van tekkies onderbreek die oggendstilte. Vir Anna is dit helend. Die gejaag van haar asem, die brand in haar longe, die vryheid van haar denke. Sy en Danie gesels nie veel tydens hul draffies in die oggend nie. Hy is maar ´n bleek outjie, tog laat sy teenwoordigheid Anna rustig voel. Sy kan haarself verloor in haar eie gedagtes en het geen druk van sy kant af om ´n gesprek aan te knoop nie. Danie is besig met sy honeurs in Fisika en aangesien sy ´n eerste jaar is wat nie eintlik veel ooghare vir Fisika het nie, help hy haar baie met studies.

“Mag ek maar by julle aansluit kaptein?” verbreek ´n stem die rustigheid van die oggend. “Jy is welkom luitenant” kom dit van Danie se kant af. Die gebruik van militêr korrekte aanspreekvorme buite werkstyd was nog altyd vir Anna ´n doring in die vlees. “Kan die gekaptein en geluitenant nie end kry nie, dis nog twee ure voor amptelike werkstyd” laat Anna geirriteerd van haar hoor. Skrams loer sy na die mede student wat haar oggend so bederf. Wie dink hy is hy? Lyk na ´n regte windlawaai. ´n Drastiese versnelling in die pas laat Anna gou van haar irritasie vergeet.

Anna is totaal en al uitgeput, so slap soos ouma se mieliepap, so pap soos haar trapfiets se agterband. Sy het vanoggend moordend vinning gehardloop, tog is die satisfaksie strelend op haar ego. Sy het hulle gewys! Vrouens kan ook hol as hulle die dag genoeg geirriteerd raak! Sy stap flink na die geografie lokaal toe, sal nie goed lyk as sy laat kom nie.

“Hy jongie, wat lyk jy soos ´n lappop op die ashoop? Weet dat jy nie besig was met studies nie, so uit daarmee Annatjie!” Christelle is Anna se beste vriendin, haar steunpillaar as dit by hartsake kom en kamerraad in studente sake. “Ag wat, ek moes vanoggend uithaal en wys tydens my oggend draffie. Een of ander luitenant het Danie gevra of hy kan aansluit en my rustige draffie in ´n wedloop om ego’s verander. Ek is dus flouer as rooibostee” spot Anna speels. “En wie is die luitenant as ek mag vra?” “Gee nie juis om nie, ek persoonlik dink hy is ´n windlawaai met ´n groot mond en ´n nog groter ego.”

“Dit sal ek wees dames. Luitenant Jurie du Preez tot u diens. Ek vra om verskoning dat ek julle so wreed onderbreek, maar die soete klanke wat uit jul pragtige mondjies kom het my soos ´n magneet aangetrek.”

“Romeo, my Romeo, where art thou Romeo?” spot Christelle liggies. “Wil julle twee alleen wees en jul melodramatiese gesprek voorsit of kan ons dalk by die res van die klas aansluit?” vra Anna effens krapperig. Weet nie hoekom sy skielik so krapperig voel nie, seker vanoggend se episode.

“Ek dink hy is ´n baie aptytwekkende stukkie vleis. Sal heerlik afgaan met ´n glasie rooiwyn by kerslig. Die mooiste donkerblou oë, die verlammendste glimlag en uitgekerfde gelaatstrekke. O wee, my allewige aptyt vir die Adams van ons geslag!” laat Christelle skaamteloos van haar hoor. Anna kan voel hoe die krapperigheid van vanoggend weer onder haar vel begin inkruip.

“Jy is sommer laf Christelle. Die man is niks meer as ´n tipiese Adam wie se reputasie hom vooruitloop en wie se skandale hom in die hakskeen byt nie. Hy wil net onder jou pragtige, verleidelike onderklere inklim.”

Die glinsterende sterre knipoog vir mekaar in ´n swart kombers van ewigheid. ´n Ligte briesie bied lafenis vir Anna se natgeswete liggaam. Sy probeer weghardloop van die draaikolk van emosies wat in haar binneste woed. Sy verstaan nie wat vandag met haar aangaan nie. Sy kon Christelle se oë uitkrap toe sy Jurie uit sy klere gekyk het in die geografie lokaal. En dit staan haar glad nie aan dat hy meer as net een kyk in hul rigting gegee het nie, het selfs geknipoog! Haar hart behoort aan Riaan en is nie veronderstel om te bokspring as sy aan iemand anders dink nie. Veral nie as sy die ander persoon eers vandag ontmoet het nie.

Die volgende oggend het Anna net gegrom dat sy vandag gaan laat slaap en vir Danie en Jurie gelos om alleen die 8km om die koppe aan te durf. Sy skrik eers wakker toe Christelle die komberse met mening van haar afruk. “En wat gaan hieraan? Dit is die eerste keer dat Anna van Saldanha deur die son uit die bed geskop word. Jy moet jou kieriejties roer, ons is laat vir parade!” Die dag sloer vir Anna verby soos ´n luidier op vakansie. Om een of ander onverklaarbare rede voel sy gedreineer van alle lus vir die dag. Tydens middagete speel-speel sy met die boontjies in die sop en kan die vingeraflek lemon meringe nie eens haar dag soeter maak nie. Na ete geniet sy en Christelle hul gebruiklike koppie tee op die menasie se stoep. Die uitsig is asemrowend en op ´n helder dag kan mens vir myle ver oor die blinkglad see sien.

“Sjoe, die Anna van Saldanha is weer versmorend vandag. Ruik of sy haar rekord van 3 dae stink loshande gaan breek.” Jurie maak homself tuis langs Christelle, ´n tergende glimlag op sy aantreklike gesig. “Moenie so geskok lyk nie Annatjie, ek verwys na die onaangename reuk wat van die fabriek af kom. Jy aan die anderhand ruik altyd so vars soos moredou en so soet soos ´n skarlakenrooi roos.” ´n Ligte blos kruip teen Anna se nek op. Hulle oë ontmoet mekaar skamerig en Anna kan sien hoe die duiwetjies in sy starende blik haar terg. “Kan ek julle temteer vir nog ´n koppie tee?” onderbreek Christelle hul goue oomblik. “Urgh, nie vir my nie dankie. Ek verwag ´n oproep van Riaan. Sien julle later.” Haastig maak Anna haarself uit die voete en hardloop die trappe op na die telefoonhokkie toe. Sy kan nie toelaat dat haar hart met haar speletjies speel nie. As sy Riaan se stem weer hoor sal die Kaap weer Hollands wees.

Met bewende hande tel Anna die gehoorstuk op en druk die knoppies sonder om eers te kyk. Sy het dit al so baie gedoen, dit het tweede natuur geword. Riaan se bekende stem laat Anna se hart oudergewoonte vinniger klop. Natuurlik is sy nog lief vir hom, hulle het net tyd saam nodig. Haar ma het altyd gesê dat ver van jou goed net ongeluk bring. “Hi daar liefie, dis jou meisiekind hier, gesteweld en gespoor, brein gelaai met algoritimiese vergelykings en hartjie leeg sonder jou nabyheid.” Riaan se gesig word oortrek van lagplooitjies. “My meisiekind, so goed om van jou te hoor. Gedag jy gaan eers vanaand bel. Nie dat ek kla nie, jy kan my enige tyd bel, vir jou is ek altyd beskikbaar.” Vir ´n oomblik dring Jurie Anna se gedagtes binne. Sy tergende blou oë en aantreklike glimlag. “Wil jy nie kom kuier nie, groot seblief. Ek weet jy het reeds jou vlug vir Desember bespreek, maar dit is nog 4 maande. Ek het jou nabyheid meer nodig as ooit.” verbreek Anna haar eie gedagtegang.

skrywer: Die Skribbelaar

Deel I | Deel II | Deel III | Deel IV | Deel V

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply