Anna van Saldanha

Die ritmiese stamp van voete dra by tot die allerlei klanke wat die middagstilte verdryf. Die paviljoen is stampvol trotse afwagtende ouers, kennisse, familie en swaargedrapeerde offisiere, getooi in hul swierige uniforms. “Eskadeeeer…halt!” bulder die instrukteur met ´n diep stem. Soos een man kom die eskader tot stilstand en kwyn die gegons onder die skare soos mis voor die son. “Liiiiinks..om!” Orals verskyn glimlagte op eens afwagtende gesigte. “Kyk ma, Anna staan heel voor, derde van links. Sy lyk so gefokus en statig.” fluister Daleen opgewonde. Trudie Viviers glimlag nog breër, wat ´n groot oomblik is dit nie.Haar dogter Anna, word vandag as offisier in die Lugmag aangestel. Die 12x weke van uitmergelende opleiding is uiteindelik verby en die grootheid van die oomblik laat ´n knop in Trudie se keel. Langs Trudie sit haar man Jurgen en oudste seun Franko. Albei se oë is gefokus op die verrigtinge wat voor hulle afspeel. Die middagson sit lui op die horison en die wind waai speels die uitspattige hoedens van menige tantes se kapsels af.

Anna ontvang ´n toekenning vir haar uitmuntende akademiese prestasie gedurende die kursus en ontvang ook die trofee vir die beste dame op die kursus. Sy dril triomflik tot voor die generaal, halt, salueer en ontvang haar toekennings met trots. Na afloop van die gradeplegtigheid vergader almal by die netjies opgerigte tente om versnapperinge te geniet en hul bloedjies geluk te wens met hul groot dag.

“Sjoe, ek kry nou vir jou warm. Die afgelope twee ure in die tunic is amper meer uitmergelend as die 12 weke se opleding. Sal my trofee ruil vir ´n kansie om nou in ´n kortbroek en plakkies te wees, luilekker op Plettenbergbaai se strand, met ´n yskoue skemerkelkie en..”

“Jislaaik sus, jy droom van koekies in die weeshuis, kom laat ek jou ´n lekker vet soen gee!” Daleen plak sonder voorbehoud ´n nat soen op Anna se wang. “Wat van ons?” laat die res van die Viviers gesin van hul hoor. Nadat al haar grimering afgesoen en haar asem uitgedruk is, kan Anna uiteindelik ontspan met ´n yskoue lemoensap en die holkol op haar maag met ´n versnappering of twee vul. Sy het pas 19 geword en haar loopbaan in die Lugmag kan nou met volle swang begin.

Haar gedagtegang word onderbreek deur ´n geniepsige dog stoute knyp aan haar linkerboud. “Halt, wie gaan daar?” vra Anna saaklik. “Hmmm, ´n ene luitenant du Toit in sy tunic getooi, met ´n dringende gehoefte om jou op jou bekkie te soen!” Voor Anna kan keer het Riaan haar in sy arms opgeraap en moet sy snak om so nou en dan ´n teugie lug in te asem. “Luitenant, hoe durf jy? Dit is ongehoord vir offisiere om in uniform te soen! Gee my ´n minuut dan is ek en jy nie meer geklee, dan sal jy my smeek vir vele meer!” laat Anna speels van haar hoor. “Ek is sommer trots op jou, bo-op jou, onder jou, langs jou, naby jou, net op jou my luitenantjie. Jy het stof in almal se oë geskop” sê Riaan met trots.

Anna het Riaan sowat 6 maande terug ontmoet toe sy besig was met haar basiese opleiding. Hy was die mees gehaatste en ook mees hubaarste man op die kursus. As hoofinstukteur het hy militêre dissipline ingedril en vele laat wens dat hulle eerder die werk as kassiere by Spar aanvaar het. Tog was daar ´n heimwee rondom sy yskoue blou oë, sy atletiese postuur, sy to-die-for glimlag en allemintige oulike boudjies. Natuurlik was niemand toegelaat om meer as net “ja sersant, watter boom sersant?, die hoeveelste blaar op die tweede tak sersant?, goed sersant” te sê nie. Alhoewel sy hom deksels aantreklik gevind het, het Anna eerder gefokus op die kursus. Daar was inelkgeval ´n baie aptytwekkende outjie wat by kon hou as sy hardloop en elke nou en dan weggeslip het om vir haar Kentuky te gaan koop. Hulle het vele aande mekaar in die donker ontmoet en tot middernag gesit en gesels onder die stergevulde hemelruim.

Die verliefdheid was van korte duur en aan die einde van die kursus het dit ook tot ´n einde gekom. Anna het belangstelling verloor en het belanriker dinge gehad om op te fokus. Haar aansoek vir studies by die Militêre Akademie was goedgekeur en moes sy net die offisiersvorming kursus suksesvol voltooi om haar tasse te kan pak Saldanha toe. Tydens die kursus was sy en Riaan albei studente en het hulle mekaar ondersteun in omtrent alles tydens die 12 weke van harde-bene-kou. Die aangetrokkenheid was daar van die begin af, het oorgegaan tot verliefdheid en gegroei tot ´n jonge soete liefde. Sedertien is hulle onafskeidbaar en is vandag ´n hoogtepunt vir albei. Riaan het ook aansoek gedoen vir studies maar wag nog in spanning vir goedkeuring.

“Ek is so verskriklik jammer my meisiekind, ek sou wat wou gee om saam met jou Saldanha toe te gaan. Ongelukkig het die Lugmag my nodiger by opleiding en sal ek slegs deeltyds kan inskryf vir studies.” Anna se hart is in repe, sy voel so teleurgesteld, emosioneel gekrenk. Trane stroom langs haar bleek wange af, haar arms hang willoos langs haar sye. Hoekom moes dit juis met hulle gebeur, sy is so afhanklik van sy teenwoordigheid en kameraadskap, sy oorvloed liefde. “Ek is lief vir jou my meisiekind, ek sal kom kuier elke keer as ek ´n kansie kry. Jy sal sien, die drie jaar gaan verby vlieg. Voor jy jou oë kan uitvee is dit verby en dan sit ek en jy huis op in Pretoria” probeer Riaan haar paai. Hy moet hard sluk om die knop in sy keel weg te kry. ´n Vriend van hom het een aand vir hom gesê dat Anna ´n stukkie goud is en dat hy nooit weer so goeie maat sal ontmoet nie. “Bewaar jou stukkie goud soos goud my vriend.” Hy weet nou dat hy nooit weer iemand so intens sal bemin nie. Tog is daar niks wat hy kan doen omtrent die situasie nie. Sy studies is afgekeur en hy moet volgende week by sy nuwe eenheid in Pretoria aanmeld.

Hy vou Anna toe in sy arms en ruik die aroma van lente bloeisels in haar hare. Haar liggaam voel skielik broos in sy arms. Trane stroom skaamteloos teen sy arm af. Hy sal die afskeid nie langer kan uitstel nie. Sy emoesies is besig om die oorhand te kry en hy voel lus en tjank soos ´n klein hondjie wat treur omdat hy weggevat word van sy ma. “Jy sal moet ry my meisiekind, dit lyk of ´n storm aan die broei is en jy moet nog die 150km huis toe aanpak. Anna sukkel om deur die oorvloed trane te sien. Sy kan die hartseer en liefde in Riaan se hemelsblou sien. Nog nooit het sy ´n man sien huil nie en nog nooit was dit vir haar so asemrowend mooi nie. Sy weet dat die tyd wat voorlê baie verlange gaan bring en dat sy telkemale die repe van haar hart aanmekaar sal moet werk. Diep in haar hart hoop sy dat sy heel anderkant gaan uitkom. Net tyd sal leer …

skrywer: Die Skribbelaar

Deel I | Deel II | Deel III | Deel IV | Deel V

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply