Afplatting van voertuigverkope duur voort

Voertuigverkoopsyfers van die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) vir Julie is ‘n verdere aanduiding dat voertuigverkope besig is om op ‘n nuwe, hoewel laer, vlak te stabiliseer.

Julie se algehele verkope van 34 503 eenhede, insluitende verkope deur AMH, was effens hoër as Junie se afset van 33 082 eenhede, hoewel die jaar-tot-jaar verkope 32,7 persent laer is. Uitvoerverkope bly onder druk as gevolg van die laer vraag na voertuie in die sleutel-uitvoermarkte.

“Die voortgesette gestadige neiging in voertuigverkope in Julie is ‘n welkome positiewe teken vir die motorbedryf,” sê Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika. “In Julie was daar marginale groei teenoor die verkope in Junie, maar ons meen dat die mark moontlik ietwat lewendiger was as wat die verkoopsyfers aandui.

“Stakings gedurende die laaste week van Julie sou ‘n negatiewe uitwerking op die registrasie van nuwe voertuie gehad en volumes in sekere mate beperk het, maar ons kan dit in hierdie stadium nie kwantifiseer nie. Verkope in Augustus kan moontlik hierdeur opgedryf word.

“Volgens ons handelaars is daar ‘n toename in deurverkeer deur hul toonlokale, wat ‘n aanduiding is dat private sowel as vlootklante nuwe belangstelling begin toon in nuwe voertuie. Verlagings in rentekoerse neem gewoonlik ‘n hele tyd voordat dit tot groter markaktiwiteit aanleiding gee, maar dit voorkom of die uitwerking van die aggressiewe rentekoersverlagings uiteindelik ‘n positiewe impak het.

“Die jongste inflasiesyfers is positief en kan die moontlikheid bied vir verdere verlagings in die rentekoers. Ons betree nou ook ‘n tyd van die jaar wanneer daar tipies in toename in die vraag na voertuie van vlootkopers is, gevolglik is daar positiewe aanduidings vir die mark in die komende maande, veral wat stabiliteit in verkope betref.”

Toyota het sy markleierskap in Julie gehandhaaf met ‘n aandeel van 22,5 persent. Die Hilux was weer eens Suid-Afrika se topverkoper met ‘n afset van 2 653 eenhede. Dit was die enigste voertuig wat verkope van meer as 2 000 eenhede vir die maand kon haal.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply