Blink vooruitsig vir ABSA-veldrenkampioenskap

Die Sun City 400, wat op 24 en 25 Julie plaasvind, sal die bal aan die rol sit vir die tweede helfte van die Absa-Veldrenkampioenskap met die eerste vier byeenkomste wat ‘n helder prentjie vir die res van die seisoen geskilder het.

Nissan oorheers weer eens die Produksievoertuigkategorie en het reeds vier agtereenvolgende oorwinnings aangeteken en dieselfde gesigte lei die Produksie- en Spesiale Voertuigkampioenskappe. Maar teen dié agtergrond het ‘n paar positiewe aspekte na vore gekom wat ‘n blink toekoms voorspel.

Wat die Produksievoertuie betref het die premier Klas SP ongelooflike groei getoon en ongeveer 15 voertuie skryf vir elke ren in. Ford het baanbrekerswerk gedoen deur die eerste Suid-Afrikaanse vervaardiger te word wat die dieselpaadjie met hul twee vyfsilinder-dubbelturbo-Ford Ranger TDCI-modelle betree het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer en Thomas Rundle/Stavros Yiannakis het nie veel om oor huis toe te skryf na die laaste twee byeenkomste nie. Dié voertuie word egter steeds ontwikkel en daar bestaan natuurlik groot moontlikhede op sukses vorentoe.

In terme van voertuigvervaardiging het die Spesiale Voertuigkategorie ook vooruitgang getoon. Die Motorite-Revo1 4×4 wat deur Achim Bergmann gebou is, het drie oorwinnings en ‘n tweede plek aangeteken met Bergmann en die jaer, Evan Hutchison, wat gerieflik bo-aan die Spesiale Voertuigkampioenskap is.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen en onlangse Toyota 1000-Woestynwenner, Shameer Variawa, het ook die voertuigvervaardigingliga betree. ‘n Nuwe Klas A-uitdager, die SVR, is vir die KwaZulu-Natal-gebaseerde Gibson Racing-span afgelewer en het onmiddellike potensiaal getoon.

En terwyl bekende spanne die onderskeie kampioenskappe oorheers, het sommige nuwe spanne dié seisoen bewys dat hulle oor ongelooflike potensiaal beskik. Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren in hul beginnerseisoen in Klas SP, het ‘n uitstekende vertoning gelewer deur derde tydens die Toyota 1000-Woestynren te eindig.

In Klas D het Heine Strumpher en Hendrik van der Linde in die Micaren Exel-Toyota Hilux bemoedigende vertonings gelewer met Johan en Werner Horn wat deursettingsvermoë aan die dag gelê het deur dié klas in Botswana te wen.

Verder af in Klas E het die beginners, Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus reeds twee keer vanjaar gewen insluitende by die Toyota 1000-Woestynren en hulle deel die voorloperposisie in die kampioenskap met Deon Venter en Ian Palmer in nóg ‘n 4×4 Megaworld-Toyota Hilux. Die baan- en rensteljaer, Leeoy Poulter saam met Rob Howie in die fabrieks-Ferodo-Nissan Hardbody het bewys dat hulle oor die spoed beskik en sal binnekort ‘n sege agter hul name kan skryf.

Klas A het ‘n verrassingspakket opgelewer met die voormalige vierwielmotorfietsryers, Jimmy Zahos en Stefan Coetzee in die Mountain Dew-Porter. Dié paar het die wenkbroue laat lig en leer meer met elke ren.

Die Kaapse paar, Derick du Toit en Ian Pienaar het ook ‘n goeie Toyota 1000-Woestynrenvertoning gelewer deur Klas B in die Orange Tree-BAT te wen. Die broers, Keith en Andrew Makenete het ook hul deursettingsvermoë in die Zarco bewys.

Soos Klas SP, het Klas P ook gegroei tot ‘n uiters mededingende kategorie. Die beginners, Johan van Staden en James Rossouw in die KEC-BAT, het ‘n paar oë laat oopgaan en die vinnger spanne in dié klas eindig nou gereeld onder die eerste vyf spanne algeheel.

Wat die breër prentjie betref, is die hoeveelheid inskrywings wat die byeenkomste getrek het, seker die bemoedigendste aspek tot dusver die seisoen. Ten spyte van die afstand het die Adenco 400 in die Wes-Kaap en die Oos-Kaap 400 wat by Jeffriesbaai plaasgevind het, meer as 60 inskrywings elk getrek.

Die Nissan Sugarbelt 400 in KwaZulu-Natal en die onlangse Toyota-Woestynren het ook ‘n rekordgetal inskrywings gelok en 86 voertuigspanne het ingeskryf. Daarvan was 64 nasionale inskrywings en die veld is deur 22 streekskampioenskapspanne aangevul terwyl die ren boonop ongeveer 80 000 toeskouers tydens die drie dae gelok het.

“Dit was ‘n goeie seisoen tot dusver en ons sien uit na ‘n net so ‘n goeie tweede helfte van die jaar,” het die president van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, gesê. “Daar lê nog heelwat harde werk voor, maar die kommissie handhaaf ‘n oop forum met deelnemers en ons trek almal saam in dieselfde rigting.

“Ons werk ook nou met Absa en die ander vennote – Ford, Nissan en Toyota – saam en daar is heelwat rede tot optimisme. Die Sun City 400 is altyd ‘n goeie ren en dit is iets om na uit te sien.”

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply