Botswana-toerismeraad laat die wiele rol

Die Botswana-Toerismeraad speel weer eens ‘n belangrike rol in die Toyota 1000-Woestynren, die vierde ronde van die Absa-Veldrnkampioenskap wat van 19 tot 21 Junie plaasvind.

Die byeenkoms is amptelik deur die hoof-uitvoerende beampte van die Botswana-Toerismeraad tydens ‘n glansgeleentheid by Game City, die renhoofkwartier vir die byeenkoms in Gaborone, geopen. ‘n Skemerkelkie is ook aangebied waar die organiseerders van die byeenkoms, die 4 Wheel Drive-klub van Suid-Afrika, die sleutelrol wat borge en vennote speel om die Toyota 1000-Woestynren een van die gewildste en suksesvolste byeenkomste op die jaarlikse motorsportkalender te maak, uitgelig het.

“Saam met Toyota werk ons baie nou saam met die Botswana-Toerismeraad en ander regeringsdepartemente,” het die roetebeampte, Skean Drummond, gesê. “Die klub is sedert die ren se ontstaan reeds betrokke en in amper 30 jaar het die ren ontwikkel tot een van die grootste jaarlikse sportgebeure in Botswana.

“’n Groot deel van die ren se sukses is te danke aan die goeie verhouding wat ons met die Botswana-Toerismeraad en ander regeringsdepartemente het met wie ons deel.”

Drummond het bygevoeg dat die toestroming van deelnemers, hul ondersteuningsspanne en toeskouers van Suid-Afrika en die buurlande vir Botswana-Toerisme belangrik is en dat die naweek die Botswana-regeringskoffers van ‘n groot finansiële inspuiting voorsien.

“Vir Botswana is die byeenkoms moontlik enige iets van R5 tot R6 miljoen in buitelandse valuta werd,” het Drummond gesê. “Dan is daar boonop ook positiewe nagevolge deurdat groot hoeveelhede mense, hetsy deelnemers of toeskouers, Botswana as ‘n ontspanningsbestemming ontdek het.”

Hy het bygevoeg dat behalwe vir die toerisme-inspuiting, die Toyota 1000-Woestynren kleinskaalse besigheidslui verskeie geleenthede bied om ‘n wye verskeidenheid dienste aan deelnemers en toeskouers langs die roete te bied. Daar word verwag dat meer as 80 000 toeskouers van Botswana, Suid-Afrika en naburige omgewings die ren gedurende die drie dae sal bywoon.

“Die Duma FM-radiostasie sal lewendige uitsendings bied en die boodskap aan ‘n wye gehoor versprei,” het Drummond gesê. “Daar sal ook ‘n Toyota 1000-Woestynrenwinkel by Game City wees waar vervaardigers en spanne items soos hemde, baadjies, pette, gedenkwaardighede en ander items te koop sal aanbied.”

Drummond het bygevoeg dat ongeveer 120 beamptes by vanjaar se renorganisasie betrokke is en hulle sal deur 11 mediese en reddingsvoertuie bygestaan word. Al die renbeamptes sal in radioverbinding wees en ongeveer 400 Botswana-polisiebeamptes sal langs die roete ontplooi word om skarebeheer toe te pas.

“Om die Toyota 1000-Woestynren te organiseer, is ‘n groot logistieke oefening, maar dié byeenkoms is in baie opsigte uniek aan Afrika,” het Drummond bygevoeg. “Langs die roete sal die plaaslike gemeenskappe saam met die beeste, donkies, bokke en hoenders ‘n dimensie tot die ren verleen wat tipies-Afrika is.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply