Die geboorte van ‘n nuwe legende – Hilux Legend 40

Dit is so asof ‘n teken in die sterrehemel vasgevang is, synde die eerste Hilux Legend 40 op Chuck Norris se verjaarsdag van die produksielyn afgerol het.

Die Hilux Legend 40 volg in die suksesvolle voetspore van die Hilux Legend 35, wat halfpad deur die vorige dekade sy verskyning gemaak het. Die Legend 35 het Hilux se markoorheersing oor die laaste 35 jaar gevier en dit as trotse kentekens op sy laaibak-kap, nerfstamper en rolstaaf gedra.

Dit is nou vyf jaar later en veertig jaar sedert die eerste Hilux in Suid-Afrika verskyn het, en die Hilux is steeds die mees gewilde en een van die gehardste bakkies in die bedryf. Om die waarheid te sê het die Hilux 2009 afgesluit as die mees gewilde voertuig in Suid-Afrika, sonder enige uitsondering. Die Hilux word steeds volgens die hoogste standaarde in Toyota se Prospecton-aanleg in KwaZulu-Natal gebou en as uitvoermodel spog dit ook met die uitsonderlike Suid-Afrikaanse bougehalte in ander dele van die wêreld.

Met die bekendstelling van die Legend 40, en in antwoord op die uitsonderlike gewildheid en verkoopsukses van die Legend 35, gaan Toyota ‘n wyer reeks Hilux-modelle met die Legend 40 kenteken op bekend stel. Dit sal omsien na ‘n wye reeks smake en begrotings.

Die Legend 40 reeks sluit twee enkelkajuit-modelle, toegerus met die gewilde 3,0 D-4D turbodieselenjin, en sewe dubbelkajuitmodelle in. Die dubbelkajuit-modelle sal beskikbaar wees met die keuse van die bekende 2,7 liter vier silinder VVT-i petrolenjin, die 3,0 D-4D turbodiesel en die 4,0 liter V6 petrolenjin. Daar is vier outomatiese modelle in die reeks beskikbaar en alle enkel- en dubbelkajuitmodelle wat nie met Toyota se 4×4-stelsel toegerus is nie, sal as Raised Body Raider modelle toegerus wees.

Van buite gesien is die gebruik van vleklose staal sekerlik een van die mees treffende verskille tussen die Legend 40 en ander Hilux-modelle. Die vleklose staal, in die plek van staal of chroom, is te sien op die nerfstamper voor met duidelike Legend 40 kentekens. Hierdie treffende toevoeging vloei deur na die blink kanttrappe van vleklose staal en die agterste buffer, met ingeboude sleepstang. Die rolstaaf op die laairuim en die trotse Legend 40 kenteken op die laaibak-kap rond die visuele veranderings af.

Alle weergawes van die Legend 40 het die hoogste Hilux-spesifikasievlak as basis. Dit beteken onder meer dat hulle spog met ‘n verchroomde sierrooster en kantspieëls, wat ook elektries verstel kan word, kragstuur met leerbeslane stuurwiel, Optitron instrumentasie met multi-sone inligtingskerm, elektriese vensters, lugversorging (outomatiese klimaatbeheer op die dubbelkajuit-modelle), misligte en ‘n kragtige klankstelsel. Al die modelle, naas die 2,7 VVT-i dubbelkajuit Legend 40, is ook toegerus met spoedbeheer. Alle modelle bied ook minstens twee lugsakke en ABS-remme.

Hilux Legend 40
Hilux Legend 40

Die dubbelkajuit-modelle spog verder ook met beste-in-klas bykomstighede soos kant- en gordynlugsakke, ‘n sluitbare laaibak-kap en radio-beheerknoppe op die stuurwiel.

Legend 40 enkelkajuit
Twee enkelkajuit Legend 40-modelle is beskikbaar. Albei modelle is toegerus met die turbo-aangejaagde tussenverkoelde 3,0 D-4D diesel enjin en albei modelle het ‘n sluitbare agterste ewenaar, 15 dm. allooivellings met 255/70 profiel bande, ‘n volgrootte spaarwiel met allooivelling en voorste skottelsitplekke.

Die grootste verskil tussen die twee modelle is die keuse van aandryfstelsel. Die enkelkajuit Raised Body Raider-model bied slegs agterwiel-aandrywing, terwyl ‘n 4×4 weergawe met self-sluit voorste ewenaar en ‘n volwaardige laestrek-ratkas ook beskikbaar is.

Legend 40 dubbelkajuit-reeks
Die visuele opkikkering op die dubbelkajuit Legend 40 modelle is soortgelyk aan dié op die enkelkajuit, maar die kanttrappe is natuurlik langer. Die dubbelkajuit-modelle bied ook 16 dm. allooivellings met 265/70 profiel bande (ook die spaarwiel) en die dubbelkajuit het 15 mm meer grondvryhoogte teen 227 mm teenoor die enkelkajuit se 212 mm.

Toyota stel drie enjinweergawes in die Legend 40 dubbelkajuit-reeks bekend. Die intree-dubbelkajuit is toegerus met Toyota se 2,7 liter viersilinder enjin met intelligente enjinklepreëling (VVT-i). Hierdie model bied steeds feitlik al die luukshede van die ander dubbelkajuit Legend 40-modelle, naas spoedbeheer. Dit is ook die mees bekostigbare manier om ‘n dubbelkajuit Legend 40 in die hande te kry.

Dieselfde 3,0 D-4D turbodiesel wat op die enkelkajuitmodelle beskikbaar is, is op die wydste reeks van Legend 40 dubbelkajuit-modelle beskikbaar. Hierdie enjin is beskikbaar in twee Raised Body Raider dubbelkajuit-modelle, met die opsie van die standaard-vyfgang-handratkas of die viergang-outokas. Krag word aan die agterwiele gelewer in hierdie modelle en ‘n agterste sluitewenaar is standaard op albei modelle.

Twee 4×4-weergawes van die dubbelkajuit Legend 40 met die 3,0 D-4D is ook beskikbaar. Hierdie twee modelle sal weereens die opsie van handrat- of outokas bied en as 4×4-modelle is hulle ook toegerus met ‘n volwaardige 4×4 dryfstelsel met laestrek-ratkas en selfsluit voorste ewenaar.

Aan die bo-punt van die reeks is die welbekende 4,0 liter V6 petrolenjin met EFI-inspuiting. Hierdie enjin sal slegs beskikbaar wees met Toyota se viergang-outokas, maar kopers sal steeds die opsie hê van ‘n volwaardige 4×4-model of 4×2 Raised Body Raider-model.

Alle dubbelkajuit Legend 40-modelle spog met voorste sportsitplekke.

Enjin en dryfstelsel
Die enjins in die Legend 40 reeks het lank reeds hul staal gewys as geharde en diensbare enjins. Alle enjins, insluitende die D-4D turbodiesel, is toegerus met dubbele bo-nokasse en krag word na die agter of al vier wiele gelewer deur die keuse van ‘n vyfgang-handratkas of viergang-outokas, afhangend van die model. Alle Legend 40 modelle is toegerus met vol-onafhanklike voorste vering met dubbele mikvere en ‘n soliede as met bladvere agter.

Die viersilinder 2,7 liter petrolenjin is toegerus met Toyota se intelligente aanpasbare klepverstelling, wat die 16 in- en uitlaatkleppe pal wissel vir die beste kraglewering op enige enjinlading. Hierdie enjin bied 118 kW teen 5 200 rpm en 241 Nm teen 3 800 rpm.

Die geliefde 3,0 D-4D turbodiesel is toegerus met tussenkoeler en dubbele teenkantelstawe om vibrasie uit te skakel en aan hierdie Toyota-enjin die kenmerkende gladde werking te gee waarvoor hy reeds so bekend is. Hierdie viersilinder het ‘n drukbuis-inspuitstelsel en hy lewer 120 kW teen 3 400 rpm en ‘n stewige 343 Nm se wringkrag in ‘n plat en wye band tussen 1 400 rpm en 3 200 rpm.

Aan die bo-punt van die reeks is die vier liter petrol-V6. Hierdie enjin is toegerus met 24 kleppe en bied 175 kW teen 5 200rpm en 376 Nm teen 3 800 rpm.

Enkelkajuit
3,0D-4D 4X4 Raider
R 334,900

3,0D-4D Raised Body Raider
R 288,600

Dubbelkajuit
2,7 VVTi Raised Body Raider
R 314,400

3,0D-4D Raised Body Raider
R 359,500

3,0D-4D 4×4 Raider
R 406,600

3,0D-4D Raised Body Raider Outo
R 370,900

3,0D-4D 4×4 Raider Outo
R 417,900

4,0 V6 Raised Body Raider Outo
R 366,300

4,0 V6 4×4 Raider Outo
R 434,100

Alle modelle word verkoop met 5 jaar / 90 000 km ToyotaCare diensplan en het 10 000 diens-tussenpouses.

Lewer kommentaar

Leave a Reply