‘n Poging deur die gemeenskap vir die Toyota-handelaars 400 wat op 2 en 3 Oktober in Mpumalanga plaasvind, is gereed vir aksie.
Die byeenkoms sal weer by Lydenburg gebaseer wees en vorm die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap. En alhoewel die algehele kampioenskap in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë reeds afgehandel is, is verskeie klastitels nog onafgehandel en die ren is belangrik vir diégene wat hoop om titels in te samel.
Dié byeenkoms is vir die eerste keer in 2003 aangebied en die Toyota-handelaars 400 het vinnig gegroei tot een van dié renne op die kalender en in 2005 was dit die kandidaatbyeenkoms wat aan Suid-Afrika ‘n plek op die FIA Veldrenwêreldbekerkalender in 2006 en 2007 gegee het. Die meeste sukses van die byeenkoms kan egter aan die gemeenskap se pogings toegeskryf word met owerhede, grondeienaars, besighede en inwoners van Lydenburg en die omliggende omgewing wat bydraes gelewer het.
“Fanie Erasmus, die handelaarshoof van Lydenburg Toyota, het homself uitstekend van sy taak gekwyt om die byeenkoms aan die mense van Lydenburg en die omliggende omgewing te bemark,” het Richard Schilling, die president van MSA se Veldrenvoertuigkommissie gesê. “Fanie en sy span by Lydenburg Toyota het ‘n familiegevoel aangewakker wat die toekoms van dié byeenkoms is.”
Schilling het bygevoeg dat dié familiegevoel geïllustreer word deur die rol wat die byeenkoms by Hoërskool Lydenburg-leerlinge speel. Die byeenkoms sy prysuitdeling word deur die leerlinge aangebied en die skoolfonds baat daarby.
Die veldrenhoof, Willie du Plessis, van die Suid-Afrikaanse Motorsportklub (SAM) het ook hoë agting vir die samewerking van die plaaslike owerhede. SAM word sedert dié ren se ontstaan daarmee geassosieer.
“Met Fanie Erasmus wat ‘n fasiliteringsrol speel, het ons altyd ‘n gelukkige verhouding met die Thaba Chweu-plaaslike owerheid asook met Mpumalanga se plaaslike regeringsowerhede gehad,” het Du Plessis gesê. “Ons werk nou met die munisipaliteite asook met die polisie en die verkeersdepartemente saam en het altyd uitstekende ondersteuning geniet.
“Ons het ook ‘n goeie werksverhouding met grondeienaars en boere in die omgewing en hul samewerking was ‘n groot bydraende faktor tot die sukses van die byeenkoms deur die jare.”
Die voorren wat die wegspringposisies vir die hoofren bepaal, begin op 2 Oktober om 12h30 by die Lydenburg Rugbyklub. Dit sal by die Toyota-toeskouerpunt op die R540-hoofpad na Dullstroom op die buitewyke van Lydenburg eindig.
Die hoofren begin op 3 Oktober om 08h00 by Lydenburg Toyota en sal by die Toyota-toeskouerpunt eindig. Die aangewese dienspunt sal ook by die Toyota-toeskouerpunt wees.
Du Plessis het bygevoeg dat die byeenkoms, soos in die verlede, toeskouervriendelik sal wees. Verskeie toeskouerpunte langs die roete sal binne maklike bereik van die wegspringpunt wees en sal toeganklik vanaf verskeie hoofpaaie wees.
Toegang tot al die toeskouerpunte insluitende die Toyota-toeskouerpunt is gratis.
bydrae: Charmaine Fortune
