Hulp aan matrieks wat nie uitslae kry nie

Matrikulante wie se uitslae nie more beskikbaar is nie, kan hulle besonderhede op www.afriforumjeug.co.za invul, sodat AfriForum Jeug die matrikulante kan bystaan deur hulle inligting aan die direkteur-generaal van die departement van Basiese Onderwys voor te lê.

Hierdie inisiatief volg nadat AfriForum Jeug verlede jaar daarin geslaag het om honderde matrikulante wie se uitslae nie op tyd uitgereik is nie, by te staan deur hulle inligting te versamel en aan die departement voor te lê. Tydens AfriForum Jeug se veldtog om die matrikulante van 2008 by te staan, het dit onder AfriForum Jeug se aandag gekom dat die departement nie eens geweet het hoeveel matrikulante se uitslae nog uitstaande was en wie hierdie matrikulante was nie.

Tydens ’n gesprek met die voormalige adjunk-minister van Onderwys, adv. André Gaum, en die direkteur-generaal, mnr. Duncan Hindle, het die direkteur-generaal versoek dat AfriForum Jeug al die inligting waaroor die organisasie beskik, aan hom voorlê, sodat die departement die matrikulante se uitslae kon nagaan.

AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, Ernst Roets, het gesê dat dit tragies is dat ʼn nie-regeringsorganisasie in daardie stadium meer geweet het van wat met die matriekuitslae aangaan, as wat die departement self geweet het. “Elke matrikulant wie se finale, volledige en korrekte matriekuitslae nie op 7 Januarie 2010 uitgereik word nie, se grondwetlike reg op billike administrasie word deur die departement van Basiese Onderwys geskend.”

AfriForum Jeug het ook aangekondig dat hulle, gebaseer op 2009 se ervaring, reeds voorbereid is daarop om ’n omvattende veldtog te voer om vanjaar se matrikulante, wat deur die departement se wanadministrasie benadeel word, by te staan. “Ons beplan onder meer om die Menseregtekommissie (MRK) en Openbare Beskermer (OB) in hierdie verband te nader.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply